Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
EKSKLUSIEF: Ben la Grange in parlement oor Steinhoff

Ben la Grange (43), die voormalige finansiële direkteur van Steinhoff International, sê hy gaan in Augustus op ’n sitting in die parlement oor Steinhoff getuig.

Die laaste foto wat beskikbaar is van Ben la Grange saam Markus Jooste, voormalige uitvoerende hoof van die Steinhoff-groep. La Grange het sedert die notering van Star verlede jaar as die uitvoerende hoof gedien. Hy het op 6 Desember as uitvoerende hoof van die Steinhoff-filiaal bedank, op dieselfde dag dat Jooste se bedanking by Steinhoff aangekondig is. Links is Jayendra Naidoo, voorsitter van Star.

Dit sal die derde gesamentlike sitting oor Steinhoff wees wat vier van die parlement se portefeuljekomitees hou.

La Grange het by navraag bevestig hy beplan om die sitting by te woon en het gesê hy woon dit vrywillig by.

Hy is in Maart 2013 op 39-jarige ouderdom as die finansiële hoof van die Steinhoff-groep aangestel. Hy het begin Januarie vanjaar uit dié pos bedank.

Sy bedanking het gekom nadat Steinhoff in Desember aangekondig het sy resultate vir die boekjaar tot einde September 2017 kan nie uitgereik word nie omdat nuwe inligting aan die lig gekom het wat met die beweerde ongerymdhede met die groep se boeke verband hou en wat verder ondersoek moet word. 

’n Interessante aanhaling oor La Grange uit die boek ‘Steinhoff en die Stellenbosse Boys’ deur James Brent-Styan.

Markus Jooste het op dieselfde dag as die aankondiging as uitvoerende hoof bedank. La Grange het toe bedank as uitvoerende hoof van Steinhoff Africa Retail (Star), die ander pos wat hy gelyktydig gehou het.

Beleggers is sedertdien ook ingelig dat hulle nie meer op die vorige twee boekjare (2015 en 2016) se inligting kan staatmaak nie. La Grange het dié state afgeteken.

Wie is Ben la Grange?

Voor sy aanstelling as uitvoerende direkteur in Steinhoff se direksie het hy sedert Desember 2009 as ’n plaasvervangende direkteur in die direksie van Steinhoff International vir Frikkie Nel gedien.

Toe hy aangestel is as direkteur was hy reeds die finansiële hoof van die Suidelike Halfrond vir Steinhoff.

Hy het hom in 2003 by Steinhoff International aangesluit as bestuurder in die korporatiewe belastingafdeling waarna hy na Steinhoff- korporatiewe finansies geskuif het voordat hy as finansiële hoof van die Suidelike Halfrond aangestel is.

Hy is ’n geoktrooieerde rekenmeester wat sy klerkskap by PwC gedoen het en meer as twee jaar in hul internasionale en maatskappybelastingafdeling gewerk het.

Themba Godi, voorsitter van die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge, het einde Maart gesê hulle het La Grange genooi om by die vorige sitting te verskyn. Sy regsverteenwoordigers het aangevoer hy het nie genoeg tyd gehad om voor te berei nie.

Volgens Godi is hy tien dae gegee om voor te berei, waarna hy ook gedagvaar sal word as hy nie kom nie.

Yunus Carrim, voorsitter van die portefeuljekomitee oor finansies, het einde Maart in die parlement gesê Jooste gaan gedagvaar word om voor die drie staande komitees te verskyn in die ondersoek na die Steinhoff-debakel nadat hy ’n uitnodiging van die komitees van die hand gewys het.

Dit gee aan LP’s die kans om wetgewing te toets wat aan hulle die mag gee om ’n persoon te dagvaar om te getuig.

Callie Albertyn, Jooste se regsverteenwoordiger van De Klerk & Van Gend, het in ’n brief aan die komitees gesê hy gaan waarskynlik weens die gebeure vervolg word en dat sy ondervraging deur die komitees sy reg op ’n billike verhoor kan benadeel omdat hy dalk iets kan sê wat hom kan inkrimineer.

Carrim het toe gesê die komitees se besluit om Jooste te dagvaar, is aan die parlement se prokureurs en die speaker se kantoor oorhandig om te besluit hoe dit gehanteer moet word. Indien nodig, moet ’n hof daaroor uitsluitsel gee.

’n Aanhaling van Ben la Grange in die jaarverslag vir die boekjaar tot einde Junie 2013 toe hy aangestel is as finansiële hoof van die groep oor die “kultuur van vertroue” wat in die groep heers.

“Dit skep ’n presedent as iemand sê ek gaan nie kom nie, want my reg op ’n billike verhoor word benadeel. Aan die ander kant, lui die Grondwet ons kan enige persoon dagvaar om te verskyn.”

Vrae is aan Albertyn gestuur om uit te vind of Jooste gaan verskyn en, indien nié, of hy gedagvaar is. Daarop het Albertyn geantwoord op hul advies lewer Jooste nie “in die media kommentaar op enigiets wat hom aangaan nie”.

La Grange se regsman, Chris Hessian, het op 9 April per e-pos die parlement verwittig hy sal in die “gees van samewerking en deursigtigheid” in beginsel beskikbaar wees om voor die komitee te verskyn, skryf James-Brent Styan in die boek Steinhoff en die Stellenbosse Boys. Hy het deur sy prokureur die volgende vereistes gestel, onder meer dat:

  • Hy toegelaat sou word om sy regsverteenwoordiger by hom te hê;
  • Die gewone reëls sal geld wat betref die inhoud van die vrae en die wyse waarop die vrae aan hom gestel word; en
  • Die speaker of enige ander toesighoudende beampte hom sal beskerm teen enige onredelike of onvanpaste vrae en gedrag.
Meer oor:  Steinhoff  |  Markus Jooste  |  Themba Godi  |  Yunus Carrim  |  Ben La Grange  |  Kleinhandelaars  |  Parlement  |  Bedrog  |  Kleinhandel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.