Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
EKSKLUSIEF: Jooste ‘dreig’ sakevriend met WhatsApp

Eers verwyt en toe ’n dreigement. Só word ’n boodskap vertolk wat Markus Jooste aan ’n sakevriend gestuur het om hom na bewering te laat afsien van ’n plan wat Jooste se private beleggingsvoertuig Mayfair sou kelder.

Die WhatsApp-boodskap is op 15 Februarie aan Shaun Bruyns gestuur.

Dit het aan die lig gekom in hofstukke van die minderheidsaandeelhouers van Lodestone. Hulle vra die hof om te keer dat Jooste se Mayfair-maatskappye Lodestone op ’n veiling verkoop om sy skuld te delg.

Dit is die eerste kommunikasie van Jooste sedert Desember wat openbaar gemaak is.

Sy laaste bekende kommunikasie was die brief wat hy op 6 Desember aan Steinhoff-personeellede gestuur het ná sy opspraakwekkende bedanking as uitvoerende hoof. In dié brief erken hy dat hy “groot foute” gemaak het.

Markus Jooste, voormalige uitvoerende hoof van Steinhoff. Foto: Verskaf

Jooste reageer sedert Desember nie op medianavrae nie. Sy prokureur het navrae van Netwerk24 oor die WhatsApp-boodskap aan Jooste gestuur, maar hy het nie gereageer nie.

'Platgeslaan'

Die boodskap lui: “Hi Shaun, ek is so platgeslaan om ingelig te word dat jy en John ná wat ons saam gehad/gedoen het besig is om saam vir Mayfair in te doen agter hulle rug . . . ná wat ek vir jou gedoen het . . . Shaun dink baie mooi wat jy probeer doen . . . dit is nie hoe vennote hulle gedra wanneer een ’n tydelike probleem het nie . . . Ek sou nooit ooit dit van jou verwag het nie . . .”

Bruyns het nie gereageer op ’n versoek om kommentaar nie.

Stefan Potgieter, Jooste se skoonseun, bevestig egter in die hofstukke dat Jooste dié boodskap gestuur het.

Potgieter, wat sedert Jooste op 7 Desember as direkteur van die Mayfair-maatskappye bedank het, die alleendirekteur is, verduidelik in die hofstukke hoekom Mayfair Lodestone moet verkoop. Mayfair se drie groot skuldeisers – Absa, Investec en Sanlam – het hom tot einde Desember 2018 gegee om sy bates te verkoop sodat hy sy skuld kan delg.

Lodestone is belangrik omdat Jooste-hulle in Desember aan dié skuldeisers hul aandele in Lodestone as waarborg aangebied het vir Mayfair Speculators se skuld van amper R1 miljard.

Lodestone het talle handelsnaam-verbruikersprodukte in sy stal, soos lekkergoed, drank en babadoeke.

Die minderheidsaandeelhouers van Lodestone het in Maart ’n dringende aansoek by die hof ingedien om die verkoop van Mayfair se aandele op ’n veiling af te weer.

Die aansoek is teen Second Chapter Investments (SCI), Lodestone en die Mayfair-maatskappye.

Bruyns is ’n direkteur en aandeelhouer van SCI en direkteur van Lodestone.

Die applikante sluit in Greg Senior, die uitvoerende hoof van Mister Sweet, ’n onderneming wat sy pa in 1971 begin het.

Wat kommerwekkend is, is dat Jooste as direkteur van Mayfair bedank het, maar steeds sy klaarblyklike oorheersing en mag gebruik om boodskappe aan sakevennote te stuur.
Greg Senior

Mister Sweet behoort sedert 2014 aan Lodestone.

Gedreig

Senior sê in die funderende eedsverklaring in die hofaansoek Jooste het met dié WhatsApp-boodskap vir Bruyns gedreig.

Senior beweer Bruyns het nadat hy die boodskap gekry het, afgesien van ’n plan wat in wese Mayfair se planne sou kelder om sy aandele in Lodestone spoedig te verkoop. Dit kan die hele reëlingskema wat die twee Mayfair-maatskappye met hul skuldeisers getref het, in gevaar stel.

Potgieter sê egter Bruyns het reeds voordat hy dié WhatsApp gekry het, besluit hy wil nie meer met sy plan voortgaan nie.

Potgieter sê nie wanneer Bruyns van besluit verander het nie, so dit is nie duidelik hoekom Jooste die boodskap op 15 Februarie aan hom gestuur het nie.

Potgieter sê hy weet nie hoekom Jooste die boodskap gestuur het nie.

Lees ook: ‘Ek leef van dag tot dag’ – Jooste se skoonseun

Potgieter sê Bruyns ontken dat die boodskap hom bedreig laat voel en van die plan laat afsien het.

Bruyns het ’n bevestigende eedsverklaring by Potgieter s’n ingedien. Hy spreek hom egter nie self oor die WhatsApp uit nie.

“Wat kommerwekkend is, is dat Jooste as direkteur van Mayfair bedank het, maar steeds sy klaarblyklike oorheersing en mag gebruik om boodskappe aan sakevennote te stuur,” sê Senior in sy eedsverklaring.

“Ek het rede om te glo Jooste is steeds die de facto-direkteur van Mayfair. Boonop het ek rede om te glo dat Jooste se gedrag dié van die spreekwoordelike toutjiestrekker is ten opsigte van besluite van Mayfair.”

Potgieter ontken dit.

Meer oor:  Steinhoff  |  Mayfair  |  Markus Jooste  |  Kleinhandelaars  |  Kleinhandel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.