Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
EKSKLUSIEF: Koper vir Hamleys gevind
Die Hamleys-winkel in die Waterfront in Kaapstad. Foto: Hamleys

As alles volgens plan verloop, gaan Toy Kingdom die franchise-regte vir die Britse speelgoedwinkel Hamleys oorkoop nadat hy sy aanbod effens verhoog het.

Dit beteken kinders gaan in die toekoms steeds hul gunsteling-speelgoed by ’n Hamleys-speelgoedwinkel kan koop.

Ensolor, die maatskappy wat die franchiseregte besit om Hamleys in Suid-Afrika te bedryf, is in Februarie in sakeredding geplaas.

Die groep se skuld het tóé sowat R144 miljoen beloop.

Die groep se winkels in die Mall of Africa en Sandton Square, albei in Johannesburg, is toe gesluit.

In die nuutste wending het die speelgoedgroep Toy Kingdom vir die tweede keer aangebied om Enselor en sy franchiseregte te koop.

Dié keer het hy R23 miljoen aangebied.

Stefan Steyn, sakeredder van Business Rescue Practitioners, wat aangestel is om die sakeredding van Hamleys te behartig, het Maandag aan Netwerk24 bevestig dat die nuutste plan vir Hamleys op Vrydag 31 Mei aan krediteure voorgelê is.

Toy Kingdom het vroeër in die proses ook ’n aanbod gedoen om die franchise te koop, maar krediteure was nie beïndruk met die R16,5 miljoen wat aangebied is nie.

Die transaksie beteken wel dat nóg ’n winkel gaan sluit.

Luidens die sakereddingsplan maak die winkel in die Greenstone-winkelsentrum in die weste van Johannesburg sy deure einde Junie toe.

Die groep gaan egter ’n nuwe winkel in Fourways oopmaak. Die planne om dié winkel oop te maak, is reeds deur die huidige eienaar van Ensolor, Philip Paphitis, beraam.

Die sakeredders én Toy Kingdom glo dat dit ’n goeie plan is om die winkel in die nuwe Kidzania-ontwikkeling oop te maak. Dié winkel sal op 22 Augustus sy deure oopmaak.

Werknemers

Hamleys het reeds op 31 Januarie met ’n art. 189-proses ingevolge die Arbeidswet begin wat betref werknemers.

Aan die einde van Desember het Hamleys 308 werknemers gehad. Hiervan was 204 heeltyds en 104 deeltyds.

Hamleys
Een van Hamleys se treintjies wat glo R1 miljoen gekos het staan verlate in die parkeerarea by Mall of Africa in Johannesburg. Foto: Elvira Wood

Hy het sedertdien die arbeidsmag met 87 personeellede afgeskaal tot 160.

Van die 87 mense was 60 heeltyds en 27 deeltyds. Van die werknemers het self bedank terwyl ander wel uit diens gestel is.

Luidens Toy Kingdom se aanbod gaan Hamleys sukkel om op sy eie volhoubaar voort te bestaan in Suid-Afrika.

Dit is hoekom hy beplan om heelwat van die oorhoofse bestuur van die groep by dié van Toy Kingdom in te lyf.

Die plan is dus ook om Hamleys se hoofkantoor, tans in die Bedfordsentrum in Bedfordview, Johannesburg, teen einde Julie te sluit.

Soos voorheen voorgestel, sal Derek Kohler, afgetrede direkteur van kleinhandelbedrywighede by Truworths, aangestel word as uitvoerende hoof van Hamley gedurende die oorgangsperiode.

Toy Kingdom se aanbod is steeds onderhewig aan verskeie voorwaardes. Dit sluit onder meer in dat ’n noulettenheidsondersoek afgehandel word, goedkeuring van die Mededingingskommissie verkry word en dat bankiers die voorstel goedkeur.

Standard Bank en Investec is albei by die transaksie betrokke.

Huidige eienaar

Paphitis, die huidige eienaar van Ensolor, het Maandag in ’n e-pos aan Netwerk24 bevestig dat hy bewus is van die plan om die maatskappy en die lisensie te verkoop.

Paphitis het voorheen heftig ontken dat hy geld uit Hamleys se rekeninge onttrek het voordat hy in Desember 2018 landuit is.

Luidens die sakeredder het Paphitis glo in Desember die groep speelgoedwinkels se bankrekeninge leeggemaak en al die kontant by die winkels gevat.

“Hy het die groep rot en kaal besteel en die pad met sowat R20,3 miljoen gevat,” sê Steyn.

Steyn sê hulle vermoed Paphitis bevind hom tans in Ciprus.

Paphitis het net aan Netwerk24 bevestig dat hy “oorsee” is.

Hy het nog nie gereageer op vrae oor die bewerings wat die sakeredder oor hom maak nie.

Luidens die sakereddingsplan is daar steeds planne om Paphitis strafregtelik te laat vervolg.

Die sakeredders het reeds vir Paphitis finaal laat sekwestreer. Netwerk24 het die hofdokumente wat dit bevestig.

Meer oor:  Hamleys  |  Philip Paphitis  |  Speelgoed
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.