Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
EKSKLUSIEF: Skelm oudbaas van Hamleys SA skiet homself
Philip Paphitis toe hy nog die baas van die speelgoedgroep Hamleys in Suid-Afrika was. Foto: Facebook

Philip Paphitis, voormalige uitvoerende hoof van Ensolor, wat die Suid-Afrikaanse franchise vir die speelgoedgroep Hamleys besit het, het homself geskiet toe die polisie hom in hegtenis wou neem.

Stefan Steyn van Business Rescue Practitioners, wat die sakeredding van Ensolor behartig, het aan Netwerk24 gesê Paphitis het sy eie lewe geneem toe die polisie hom in Desember by sy vriendin se huis in Kaapstad in hegtenis wou neem. Hy was 54 jaar oud.

’n Woordvoerder van Hamleys het dit ook Dinsdag aan Netwerk24 bevestig. Dit het drie weke gelede gebeur, maar die polisie het nog nie die datum of plek waar hy dood is, bevestig nie.

In ’n navraag by die departement van binnelandse sake – gegrond op die ID-nommer wat Netwerk24 van Paphitis het – is sy dood ook bevestig.

Steyn het vroeër in Desember aan Netwerk24 gesê hy het namens die groep ’n klag van korrupsie en diefstal teen Paphitis ingedien het.

Dit kom nadat ondersoeke gedurende die sakereddingsproses aan die lig gebring het dat Paphitis die groep in Desember 2018 “rot en kaal besteel en die pad met sowat R20,3 miljoen gevat” het, lui Steyn se verslag.

Volgens Steyn se sakereddingsplan het die volgende gedurende Desember 2018 gebeur: “Terwyl die hoofbestuurder (van Hamleys) oorsee by sy broer vakansie gehou het, het Paphitis al die regte van betroubare bestuurders verwyder wat die maatskappy se bankrekeninge betref.

“Hy het toe, oor ’n tydperk van twee weke van middel tot laat Desember 2018, stelselmatig al die geld uit die maatskappy se rekeninge na sy persoonlike rekening oorgeplaas. Hy het sowat R18 miljoen van die maatskappy se rekeninge na sy eie oorgeplaas.

“Hy het ook al die winkelbestuurders opdrag gegee om kontant wat die winkel verdien, aan hom te gee en dit nié in ’n rekening in te betaal soos wat voorheen gedoen is nie. Hy het só meer as R2 miljoen by die winkels gevat.

“Al dié dinge is gedoen ten spyte daarvan dat Paphitis die skuldeisers persoonlik belowe het dat hy ná die Kerstyd – wat tipies ’n hoogtepunt vir speelgoedverkope is – betalings gaan doen,” luidens die sakereddingsplan.

Hy het toe, oor ’n tydperk van twee weke van middel tot laat Desember 2018, stelselmatig al die geld uit die maatskappy se rekeninge na sy persoonlike rekening oorgeplaas.
Stefan Steyn

Toe die hoofbestuurder in Januarie ná sy vakansie na die hoofkantoor terugkeer, kon hy in ’n video-opname sien hoe Paphitis by die kantoor inkom met ’n trollie en die kameras afsit sodat sy verdere bedrywighede nie opgeneem word nie.

Hy het glo daarna verskeie belangrike dokumente en al sy persoonlike besittings uit die kantoor verwyder.

Netwerk24 het Paphitis later per e-pos in die hande gekry. Hy het in April 2019 alle bewerings teen hom in ’n e-pos ontken. Hy het toe gesê dat die bewerings in die sakereddingsplan “vol gate” is. Op ’n versoek om ’n onderhoud met hom te voer het hy gesê hy is “oorsee”.

Toe Netwerk24 die opening van die nuwe Hamleys-winkel in Fourways, Johannesburg, op 12 Desember bygewoon het, het Steyn gesê die polisie het goeie rede om te dink dat Paphitis na Suid-Afrika teruggekeer het.

Hy het toe gesê ’n inhegtenisneming word binnekort verwag.

Die franchise vir die plaaslike Hamleys is sedertdien aan Antares verkoop. Dit is ’n vennootskap tussen Osbro, ’n kleinhandelaar wat huisware in die suide van Johannesburg verkoop, en Rand Outfitters, ’n familie-onderneming wat skoene aan die Oos-Rand verkoop.

Meer oor:  Hamleys  |  Philip Paphitis  |  Korrupsie  |  Selfdood  |  Bedrog  |  Speelgoed  |  Speelgoedwinkel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.