Die elektronikagroep Ellies verwag ’n verdienste van 2,56c per aandeel vir die halfjaar tot einde Oktober teenoor ’n verlies van 4,18c per aandeel in dieselfde tyd verlede jaar.

Vragmotors wat Ellies-produkte vervoer. Foto: Ellies
In teenstelling met die meeste maatskappye wat hul vorige jaar se wins weens die Covid-19-inperking vanjaar vir ’n verlies of ’n skerp laer wins moes inboet, het Ellies in ’n handelsverklaring aangedui dat sy omset in die halfjaar asook sy winsmarges met 1,9% verbeter het.
Hy het ook ’n aansienlike verlaging in bedryfskostes behaal nadat hy al sy pakstoor- en logistieke funksies aan ’n logistiekediensmaatskappy uitgekontrakteer het.
Verder skryf Ellies die beter syfers toe aan die verlies by sy vervaardigingsonderneming, Ellies Industries, wat gekrimp het.
Ellies verwag om Vrydag sy halfjaarsyfers bekend te maak.
Hy verwag sy wesensverdienste per aandeel sal R2,37c teenoor die wesensverlies van 2,91c ’n jaar gelede wees.
Hy het wel in Oktober baie swak syfers vir sy boekjaar tot einde April uitgereik toe hy ’n totale verlies van R196,1 miljoen gely het. Daar was toe kommer of Ellies sy status as lopende saak sou kon behou, omdat die effek van die inperking toe nog nie eens ten volle in die oorsigtydperk gesien is nie.
Ellies is ’n kleinkapitaalmaatskappy, en is gewild onder daghandelaars of klein private beleggers wat ’n kans op die JSE wil waag. Sy aandeelprys wissel die afgelope jaar wild tussen ’n hoogtepunt van 11c en ’n laagtepunt van 4c.