Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
eNatis-twis: Talle al 19 maande sonder salaris

Werknemers van Tasima, ’n voormalige diensteverskaffer van die Padverkeersbestuurskorporasie (RTMC), sit met hul hande in die hare.

Tasima se kantore was voorheen in Midrand, noord van Johannesburg. Foto: Argief

Hulle het die afgelope 19 maande geen salaris ontvang nie, en in sommige gevalle is tot drie 13de tjeks nie betaal nie, en daarby word 34 uit die 59 werknemers nou ook deur afleggings in die gesig gestaar.

’n Voormalige Tasima-werknemer wat anoniem wil bly uit vrees vir viktimisering, sê dis duidelik dat die RTMC alles in sy vermoë doen om onder die vaandel van ’n herstruktureringsproses van hulle ontslae te raak.

Dis ondanks die konstitusionele hof se beslissing vroeg in Augustus dat die RTMC al die Tasima-werknemers vas moet aanstel.

Tasima het die nasionale elektroniese administrasiestelsel vir verkeersinligting (eNatis) sedert Julie 2001 bedryf. Sy kontrak om die stelsel te bedryf, is in 2009 onregmatig verleng.

eNatis word gebruik vir die lisensiëring van alle voertuie, rybewystoetse, leerlingrybewystoetse, die hantering van padverkeersoortredings en voertuie se padwaardigheid.

Op 3 April 2017 het regter Neil Tuchten in die hooggeregshof in Pretoria beveel dat Tasima die perseel in Midrand van waar die stelsel bedryf word, verlaat en die stelsel aan die RTMC oorhandig.

Toe die RTMC die stelsel oorneem, het hy egter gesê die ooreenkoms was om ’n produk (eNatis) oor te neem, nie ook die werknemers nie.

Tasima se verweer was dat die RTMC ingevolge art. 197 van die Wet op Arbeidsverhoudinge verplig is om die werknemers ook oor te neem omdat eNatis as lopende saak oorgeneem is.

Die RTMC het die Tasima-werknemers se salarisse gestaak nadat die arbeidsappèlhof ’n tussentydse bevel tersyde gestel het wat die RTMC genoodsaak het om die salarisse van Tasima-werkers te betaal totdat die konstitusionele hof klaarheid oor die saak gee.

Die art. 189-proses wat op 30 Oktober by die RTMC begin is, raak ook ander werknemers.

Maar Netwerk24 se bron beskou die proses as onregverdig aangesien 34 van die 59 Tasima-werkers wat wél nou by die RTMC in diens is, art. 189-briewe gekry het, maar net 20 van die 873 ander RTMC-werkers.

In die brief wat Netwerk24 onder oë gehad het, stel die RTMC dit duidelik een van die redes vir die voorgestelde afleggings is die hofbeslissing, wat daartoe gelei het dat hy nou ’n “oormaat werknemers” het.

Simon Zwane, woordvoerder van die RTMC, sê in ’n e-pos in antwoord op vrae deur Netwerk24 dat die korporasie reeds in 2015 werknemers aangestel en opgelei het om die eNatis-stelsel te kan bedryf. Hy het dus die nodige werknemers gehad en het nooit daarop gereken dat hy verplig sou word om die Tasima-werknemers oor te neem nie.

Hy sê ook die herstrukturering het niks te doen met die hofbeslissing nie, aangesien daar reeds in Januarie vanjaar ’n besluit geneem is oor die nuwe struktuur vir die RTMC.

Herman Perry, senior litigant van die vakbond Solidariteit, sê dié verduideliking maak nie sin nie.

Hy wys daarop dat die RTMC al reeds sedert 2017 weet dat die howe bevind het dat hy wel die werknemers moet oorneem.

“Die manier hoe die proses benader word, lyk vir my of dit op ’n onregmatige proses gaan uitloop.”

Perry sê hy is bekommerd dat hoewel werknemers genooi word om vir poste in die nuwe struktuur aansoek te doen, daar nie ’n regverdige oorweging gaan wees oor wie aangestel gaan word nie.

Nog ’n vraag wat ’n werknemer vra, is hoekom vrywillige skeidingspakkette net aan ’n klein groepie werknemers aangebied is.

Die pakket wat aangebied word, beloop twee weke se betaling vir elke jaar diens gelewer. “As alle werknemers die kans gebied word om ’n pakket te aanvaar, kan dit beteken dat daar geen afleggings nodig is nie,” voer die persoon aan.

Die RTMC gee nie redes hoekom dit nie gedoen is nie.

Uitstaande salarisse

Nog ’n groot kwessie in die geskil tussen die Tasima-werkers en die RTMC is die uitstaande salarisse en 13de tjeks.

Zwane se antwoord hierop is dat die werknemers ’n eis kan indien, wat oorweeg sal word.

Hy beweer dat Tasima nooit die werknemers se kontrakte aan die RTMC gegee het nie. Dit maak dit dus glo baie moeilik vir die RTMC om vas te stel of geld verskuldig is en, indien wel, hoeveel.

Netwerk24 se bron sê dié bewering is “bog”.

Die persoon wys daarop dat die RTMC sedert Augustus (ná die hofuitspraak) wel weer hul salarisse betaal. Dit is dus ’n duidelike bewys dat die RTMC die besonderhede het.

Die persoon sê ook dat die RTMC elke individu gevra het om sy/haar indiensnemingskontrak met alle salarisbesonderhede aan hom te verskaf.

“Die dokumente is ingestuur. Een van ons kollegas wat al die inligting bymekaar gesit het, het ook al in vergaderings aangebied om dit net daar en dan aan die RTMC te oorhandig.”

Die persoon sê verder die kontrakte wat werknemers aan die RTMC verskaf het, duidelik wys dat die 13de tjeks nie bonusse is nie, maar hoe hul salaris gestruktureer was.

Die art. 189-brief stel dit baie duidelik dat sou die pakkette wat aangebied word, aanvaar word, dit die “finale” ooreenkoms is.

“Ons is baie bekommerd dat sou werknemers ’n pakket aanvaar, hulle dan nie hul agterstallige salarisse betaal gaan word nie. Ons raai werknemers af om dit te teken,” sê Perry.

Zwane het aan Netwerk24 bevestig dat hulle die proses so gou as moontlik wil afhandel “sodra alle regskwessies uit die weg geruim is”.

Meer oor:  Solidariteit  |  Rtmc  |  Tasima  |  Verkeer  |  Enatis  |  Staatsondernemings  |  Herstrukturering  |  Afleggings  |  Staatsamptenare
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.