Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Enorme boete dreig dalk vir Markus Jooste

Diegene wat betrokke was by die publikasie van die misleidende en vals finansiële inligting wat Steinhoff aan beleggers uitgereik het, kan reuseboetes verwag as hulle skuldig bevind word.

Markus Jooste, voormalige uitvoerende hoof van Steinhoff.

Brandon Topham, hoof van die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor (FSCA) se afdeling vir inspeksie en ondersoeke, sê die ondersoek vorder oor watter individue verantwoordelik gehou kan word vir die vals en misleidende inligting wat Steinhoff aan beleggers uitgereik het.

Markus Jooste, voormalige uitvoerende hoof van Steinhoff, word vanselfsprekend ondersoek weens die pos wat hy beklee het.

Verskeie ander mense word ook ondersoek.

Die FSCA het gehoop om die ondersoek einde Mei af te handel, maar meer tyd is tot einde Augustus toegelaat.

Die grootste boete nóg vir dié oortreding is in September 2019 aan Steinhoff self opgelê.

Die FSCA het die maatskappy aanvanklik met R1,5 miljard beboet, maar dit is later in belang van die voortbestaan van die maatskappy tot R53 miljoen verminder.

LEES OOK: Boete van R1,5 mjd. ‘sou Steinhoff se deure sluit’

Topham sê die doel van die ondersoek is om te bepaal wie potensieel betrokke was by die publikasie van die vals en misleidende inligting en of dit opsetlik of nalatig veroorsaak is.

Nadat die ondersoek afgehandel is, sal besluit word of ’n oortreding begaan is, en die skuldiges kan beboet word.

“Die maatskappy het reeds erken dat dit gebeur het en nou probeer ons bepaal wie daarvoor verantwoordelik was.

Binnehandel in November aangehoor

Jooste is reeds ’n boete van R161 miljoen vir ’n oortreding ten opsigte van binnehandel opgelê.

Dit het gehandel oor ’n teksboodskap wat hy op 30 November 2017 aan vier mense gestuur het waarin hy hulle volgens die FSCA aangemoedig het om hul aandele te verkoop voordat sekere inligting aan die res van die mark bekend gemaak word.

Drie van dié mense het sy raad gevolg en van hul aandele verkoop.

Hy het geappelleer.

Die saak word in November deur die Finansiëledienstetribunaal aangehoor.

Dit is normaalweg oop vir die publiek, tensy die regter anders besluit.

“Die persoon sal ’n boete kry en dit gaan hoog wees. Die maatskappy is ’n boete van R1,5 miljard opgelê en daar kan redelik aanvaar word dat die boete vir ’n aktiewe deelnemer soortgelyk of hoër sal wees.”

Topham sê die doel van ’n boete is om sulke gedrag in die toekoms te voorkom en nie om ’n tik op die vingers te wees nie.

Diegene wat ondersoek word, sluit in topbestuur en ander personeel wat ’n aandeel in die opstel van die misleidende jaarstate gehad het. Volgens hom is dit “ses of sewe” mense wat al in verskeie hoedanighede vir die maatskappy gewerk het.

Misleiding is ook ’n strafregtelike oortreding.

Topham het in 2019 in ’n sitting van die parlement oor Steinhoff belowe dat diegene wat by die publikasie van die vals en misleidende inligting betrek word, strafregtelik aangekla sal word.

LEES OOK: FSCA mag Steinhoff-verslag lees . . . soort van

Hy sê dit is ’n laer klag as bedrog. Dit sal as ’n alternatiewe aanklag tot bedrog aangebied word as iemand strafregtelik vervolg word. ’n Staatsaanklaer sal besluit of iemand van dié oortreding aangekla moet word indien daar nie genoeg inligting vir bedrog bestaan nie.

Die boete vir die strafregtelike oortreding is tot R50 miljoen beperk en ’n skuldige kan tronkstraf kry.

Agtergrond

Steinhoff het twee jaar gelede sy jaarstate vir die boekjaar tot einde September 2017 uitgereik, wat die syfers van vorige boekjare wat reeds gepubliseer is, herstateer het om dit reg te stel vir ongerymdhede, twyfelagtige transaksies en foute wat in ’n forensiese ondersoek gevind is.

Die maatskappy het ook sy 2016-jaarstate en sy finansiële posisie van 1 Julie 2015 heraangegee.

Dit het behels dat die syfers oor bates en kontant wat voorheen gepubliseer is met miljarde euro verlaag is en die wins van 2016 in ’n verlies omgekeer is.

Dié finansiële state moes heraangegee word nadat ’n forensiese ondersoek deur die ouditfirma PwC gedoen is waarin onder meer bevind is dat Steinhoff van 2009 tot 2017 meer as 6,5 miljard (sowat R109,4 miljard in die huidige wisselkoers) se inkomste uit fiktiewe en onreëlmatige transaksies verkry het.

Steinhoff het in Desember 2017, voordat sy geouditeerde jaarstate vir die boekjaar tot einde September 2017 uitgereik moes word, aangekondig dat dit nie meer gedoen kan word nie en dat ’n forensiese ondersoek na sy boeke gedoen gaan word.

LEES OOK: Steinhoff-drama: Hier is Jooste se weergawe

Voorheen is berig dat die eksterne ouditeure Deloitte voor dié besluit geweier het om die jaarstate af te teken weens kommer oor sekere aangeleenthede wat verdere ondersoek vereis het.

Steinhoff het eers aangekondig dat sy jaarstate ongeouditeerd uitgereik gaan word. Twee dae later is die mark egter vroegoggend ingelig dat ’n ondersoek na ongerymdhede in sy boeke gedoen gaan word en dat Jooste bedank het.

PwC is daarna aangestel om ’n onafhanklike ondersoek te doen. Dit het 14 maande geneem voordat ’n opsomming oor die bevindinge uitgereik is.

Jooste reageer sedert 2017 nie op navrae van die media om kommentaar te kry nie.

Meer oor:  Steinhoff  |  Markus Jooste  |  Sakeredding  |  Fsca  |  Meubelhandel  |  Bedrog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.