Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Entstof raak Aspen se boeke eers laat in boekjaar

Die farmaseutiese maatskappy Aspen verwag dat die produksie van die entstof teen die koronavirus in Gqeberha eers laat in sy boekjaar gaan bydra tot sy finansiële resultate.

Aspen se fabriek in Gqeberha, waar die Covid-19-entstof vervaardig gaan word. Foto: Verskaf

Die oordrag van tegnologie duur nog voort van die Johnson & Johnson-maatskappy Janssen af om die entstof van dié maatskappy plaaslik te vervaardig, volgens Stephen Saad, uitvoerende hoof van Aspen.

Volgens Saad gaan die tegniese oordrag na verwagting in die tweede kwartaal van die kalenderjaar afgehandel wees en die kommersiële produksie sal eers teen die einde van die boekjaar wat einde Junie eindig tot die groep se resultate bydra.

Dit stem ooreen met wat Aspen vroeër in Februarie ook gesê het.

LEES OOK: Aspen lewer dalk eers in 3de kwartaal entstof

Aspen se inkomste het in die afgelope boekjaar met 17% tot R18,6 miljard gestyg.

Dit is danksy die swakker rand in die halfjaar vergeleke met die ooreenstemmende tydperk wat sy inkomste ’n hupstoot gegee het, en die inkomste uit vervaardiging wat skerp gestyg het.

Uitgesluit dié invloed het sy inkomste met 6% gestyg.

Vervaardiging styg skerp

’n Entstof wat reeds by Gqeberha deur Aspen vervaardig word. Dit is nie die Covid-19-entstof nie. Foto: Verskaf

Die inkomste uit vervaardiging het met 36% tot R4,3 miljard gestyg (uitgesluit die invloed van die swakker rand het die inkomste met 17% gestyg).

Die inkomste is met R244 miljoen verhoog deur onlangse transaksies wat met ander farmaseutiese maatskappye gesluit is om vervaardiging vir hulle te doen.

Die vervaardiging van die aktiewe farmaseutiese bestanddele vir die bloedverdunningsmiddel Heparin het R473 miljoen beloop – 59% hoër as in die ooreenstemmende tydperk, toe dit R297 miljoen beloop het.

Die produk word in die behandeling van Covid-19 in ernstige siek pasiënte gebruik.

Die produkte het egter ’n impak op sy bruto wins omdat vervaardiging wat op kontrak gedoen word, ’n laer marge het.

Die bruto winsmarge het gedaal weens dié impak en omdat die pandemie meer bedryfs- en voorraadkettingkoste meegebring het.

Saad sê Covid-19 het tydelike koste vir fabrieke meegebring soos afwesigheid by die werk, wat in Gqeberha met 30% gestyg het.

Medisyne verkoop flou in Afrika

Die fabriek in Gqeberha waar Aspen die Covid-19-entstof vir J&J gaan vervaardig. Foto: Verskaf
Aspen se fabriek in Gqeberha, waar die Covid-19-entstof vervaardig gaan word. Foto: Verskaf

Medisyne dra die grootste deel tot sy inkomste by en het met 12% tot R14,3 miljard gestyg (4% in konstante wisselkoerse).

Die groei kom grootliks uit Europa, waar ’n groot vraag na trombose-middels in Rusland vir die behandeling van Covid-19 beleef is.

Verkope van sy eie medisyne in Suid-Afrika het gedaal weens die inperking vir die pandemie wat tot minder siektes gelei het.

Die bedryfswins het met 14% tot R3,5 miljard gestyg. Uitgesluit die invloed van die swak rand het dit met 6% gestyg.

Skuld drasties minder

Saad het Vrydag by ’n aanbieding van die groep se resultate vir die halfjaar tot einde Desember aan beleggers gesê Aspen se skuldlas is van R37,9 miljard ’n jaar gelede einde van die halfjaar tot R27,6 miljard verlaag.

Die afname in die skuldlas is in die halfjaar verminder ná ’n groot transaksie waarin sy Europese trombose-bates vir R12,7 miljard verkoop is en R5,3 miljard wat reeds ontvang is.

Die uitstaande R7 miljard is ontvangbaar voor einde van die boekjaar.

“Dit bied ’n verdere geleentheid om beide die skuld en die hefboomverhouding te verminder.”

Na verwagting gaan sy skuldlas verder verlaag word tot R20,6 miljard.

Die rente wat Aspen op sy skuld betaal, het van R647 miljoen in die ooreenstemmende halfjaar tot R460 miljoen gedaal.

Twee jaar gelede einde van die halfjaar het sy skuld R53,5 miljard beloop.

Nog verkrygings en verkope

Die groep kyk nou fyner na hoe hy kapitaal toewys ná jare se groot uitbreidings met baie skuld.

Volgens Saad sal die portefeulje van medisyne en mediese produkte verfyn word en waar dit voordelig is, sal verkrygings plaasvind of produkte verkoop word.

Beloof dividend kom

Beleggers wat al sedert jaareinde 2019 droëbek is ten opsigte van ’n dividend, gaan hopelik vanjaar goeie nuus kry.

Saad het beloof Aspen bly verbind tot die herinstelling van ’n dividend en dat daar met jaareinde ’n aankondiging daaroor kom.

Die groep het sy dividend met jaareinde in 2019 gestop ten einde sy skuldlas ter verlaag.

Wins daal

Aspen se resultate is kompleks, want talle eenmalige koste en aanpassings is gemaak.

Kernwins uit voortgesette en gestaakte bedrywighede het met 18% tot R2,5 miljard gedaal.

In konstante wisselkoerse het die kernwins met 25% gedaal.

Die rand se gemiddelde wisselkoers teenoor die euro in die ooreenstemmende halfjaar was R16,30 vergeleke met R19,18 in die oorsigtyd.

Teenoor die dollar was dit R14,69 vergeleke met R16,25 nou en teenoor die pond R18,51 vergeleke met R21,22 nou.


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.