Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Ergste van 2de vlaag dalk in Kaap verby – Mediclinic

Hoewel daar steeds enorme druk op sy hospitale is, sê Mediclinic opnames weens Covid-19 het in die Tuinroete gestabiliseer, en daar is ook tekens dat opnames in die Wes-Kaap as geheel stabiliseer.

Mediclinic verwag dat die druk op private hospitale nog die hele kwartaal sal voortduur.

Die grootste druk is egter steeds op hospitale in die Wes-Kaap, KwaZulu-Natal, Mpumalanga, Limpopo en Gauteng.

Die groep verwag dat opnames in die eerste kwartaal van die jaar hoog sal bly.

Mediclinic het reeds meer as 30 000 mense vir Covid-19 behandel.

Die maatskappy het Vrydag in ’n handelsverklaring gesê die groep se inkomste in die vierde kwartaal van 2020, die derde van sy boekjaar, het met 2,5% gestyg as gevolg van die tweede vlaag Covid-19-infeksies in Suid-Afrika en in die Verenigde Arabiese Emirate (VAE), juis op ’n tyd van die jaar wanneer minder mense gewoonlik vir operasies gehospitaliseer word.

Die groep het wel in Suid-Afrika met elektiewe prosedures voortgegaan, maar net soos hy kapasiteit gehad het. In Dubai is elektiewe en nie-noodsaaklike prosedures op 21 Januarie vir vier weke verbied.

Benewens sy inkomste uit die behandeling van Covid-19-pasiënte, gaan Mediclinic ook in minstens twee lande voordeel uit entstofprogramme trek.

In Switserland het sy filiaal Hirslanden kontrakte gekry om inentings te doen. Hirslanden het verlede week twee inentingsentrums geopen, in Zug en Thurgau.

Dis in Thurgau waar Johann Rupert, voorsitter van Richemont en van Remgro, op 12 Januarie teen vir virus ingeënt is, het die Switserse koerant Tages-Anzeiger Donderdag berig. Remgro is Mediclinic se grootste aandeelhouer.

Mediclinic het ook ’n staatskontrak gekry om die entstofprogram in die VAE, deur Mediclinic Midde-Ooste, uit te voer.

Ondanks die styging in sy inkomste het die groep se wins gedaal. Sy verdienste voor rente, belasting, waardevermindering en afskrywings (ebitda) was 8% laer en sy ebitda-winsgrens het van 19% tot 17% gedaal.

Net in Suid-Afrika en Namibië het Mediclinic se inkomste met 3,5% gestyg en het sy winsgrens gestyg – van 19,4% tot 21%. Betaalde pasiëntdae het met 3,5% gedaal.

Hirslanden se inkomste het met 1,5% gedaal, grootliks omdat elektiewe operasies afgeskaf is en sy pasiënttoelatings met 2,5% gedaal het. Dié Switserse filiaal se ebitda-winsgrens het van 18,9% tot 16,5% gedaal.

Mediclinic Midde-Ooste se inkomste het met 8% gestyg, maar die ebitda-winsgrens het van 18,3% tot 13,5% geval.

Mediclinic het wêreldwyd 76 hospitale, waarvan 49 in Suid-Afrika is. Hy verdien 47% van sy inkomste uit Switserland, 29% uit Suid-Afrika en 24% uit die Midde-Ooste.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.