Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Eskom-as dalk ’n klein goudmyn

Sommige sakelui pleit by Eskom om ’n groot logistieke probleem – steenkool-as wat in reuse-hope by kragstasies opbou – vir hulle op te los.

Mark Hunter, hoofbestuurder van die Steenkoolasvereniging van Suid-Afrika, wys die uiteenlopende aard van materiale wat verkry kan word deur as met verskillende polimere te meng. Foto: Antoinette Slabbert

As is baie meer as net verbrande hout, sê Mark Hunter, hoofbestuurder van die Steenkoolasvereniging van Suid-Afrika (Sacaa).

Dit is ’n vorm van afval met besondere eienskappe wat ekonomiese geleenthede bied, maar tans in Suid-Afrika totaal onderbenut word, sê hy.

Die vereniging hoop om die land se gebruik van as teen 2022 te verdubbel tot tien miljoen ton en glo dit kan lei tot die skep van sowat 26 000 werkgeleenthede.

Dit is deel van die regering se Operasie Phakisa, wat gerig is op ekonomiese groei en waaroor die betrokkenes elke drie maande aan die presidensie verslag moet doen.

In syfers
  • Suid-Afrika produseer tans sowat 50 miljoen ton as per jaar.
  • Dit maak 36% uit van die land se totale afval uit.
  • Tans word net sowat 5 miljoen ton gebruik om waarde toe te voeg.
  • Sacaa hoop om dit teen 2022 op te stoot tot sowat 10 miljoen ton.
  • 90% van die as kom van Eskom se steenkoolkragstasies. Dié as moet ten duurste verwyder word.

Net ’n fraksie van Eskom se as word verkoop, teen sowat R5 per ton, maar Hunter sê Eskom het nie die nodige fokus en prosesse om te sorg dat hulle ekstra waarde uit dié byproduk kry nie.

Dis ’n verlore geleentheid vir die hele land. Eskom sal dalk nie sakke vol geld daaruit verdien nie, maar om van die as ontslae te raak, sal hul aanspreeklikheid en koste verminder.

Daar is wel vordering by Eskom waar ’n loodskomitee van senior amptenare nou aan die askwessie aandag skenk, sê Hunter.

Suid-Afrikaanse vliegas is byvoorbeeld gebruik in die beton vir die Maputo-Katembe-brug, die langste hangbrug in Afrika, wat laat verlede jaar in Mosambiek geopen is, sê Hunter.

Vir die brug moes ’n 136 m hoë toring byvoorbeeld van beton gegiet word. Die proses duur ’n paar dae en kan nie onderbreek word nie, sê Hunter. As Eskom nou skielik sy asverkope staak – soos tans gebeur – is die asverskaffer wat ’n kontrak het om die as te lewer, in die moeilikheid en die projek word belemmer.

Digtheid van beton

Hunter sê verreweg die meeste as wat ekonomies benut word in Suid-Afrika, word deur sementprodusente gekoop om in hul produkte in te meng.

Die land voer ook as uit na die Demokratiese Republiek van die Kongo en Mosambiek.

Maar Sacaa probeer ander gebruike vir die as in Suid-Afrika ontwikkel.

“Onder ’n mikroskoop lyk as soos glaskoeëllaers,” sê Hunter. As dit met sement en water gemeng word, loop die fyn as-partikels in elke gaatjie in en verhoog die digtheid van die beton. Boonop verlaag die byvoeging van as die opbou van hitte met 20%, wat beteken die kans op krake is kleiner.

As is lig en ook brandweerstandig.

Materiale wat verkry kan word deur as met verskillende polimere te meng. Foto: Antoinette Slabbert

Nuwe gebruike vir as

Hy glo daar is baie ruimte vir innovering en het self al geëksperimenteer deur as met verskeie polimere te meng. Die resultaat is ’n verskeidenheid stowwe wat wissel in hardheid, buigbaarheid en digtheid.

As is ’n vuller, sê hy. ’n Mens moet dink waar jy dit kan gebruik om duurder stowwe te “rek”.

As voorbeeld noem hy dat baie houtdeure bestaan uit twee planke met papiervulsel tussenin.

“Maar papier brand maklik,” sê hy, in teenstelling met as, wat brandbestand, lig en goedkoop is en boonop goeie isolasie bied.

’n Ander moontlike gebruik is om ou mynskagte op te vul met ’n mengsel van as en 10% sement, sê hy.

Die vereniging ontwikkel tans ook ’n toets vir gehaltebeheer by klein ondernemings wat as gebruik in die maak van stene en boublokke. Sodra dit gereed is, hoop hulle om entrepreneurs te kan oplei om dit reg te gebruik.

Hunter sê sy organisasie is deur die departement van omgewingsake genader om die benutting van as as deel van Operasie Phakisa te bevorder.

Tans is daar verskeie werkstrome, wat fokus op onder meer die maak van stene, uitvoer, padbou en rehabilitasie van grond en suurmynwater.

Met die regering se steun hoop die Steenkoolasvereniging om knelpunte uit die weg te ruim en Suid-Afrika op koers te kry om die as wat hy produseer, ekonomies te benut.

“Amerika benut reeds 60% van die as wat hy produseer.”

Suid-Afrika moet beter doen, sê hy.

Meer oor:  Sacaa  |  Eskom  |  Operasie Phakisa  |  Steenkool  |  Steenkoolkragstasies  |  As
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.