Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Etiese gedrag: ‘Steinhoff-skuldiges moet tronk toe’
Prof. Jannie Rossouw, hoof van die skool vir ekonomiese en sakewetenskappe by Wits.

As bedrog bewys word by Steinhoff moet die verantwoordelike Steinhoff-topbestuurslede tronk toe gaan, want hulle het onmeetbare skade aan baie mense aangerig. Dis die enigste manier hoe onetiese en bedrieglike gedrag uitgeroei en integriteit herstel kan word.

Só skryf prof. Jannie Rossouw, hoof van Wits se skool vir ekonomiese en sakewetenskappe, in ’n artikel vir theconversation.com.

Die Steinhoff-skandaal is so ontstellend omdat dit wys op die ernstige gaping in die wigte en teenwigte in die beleggingsbestuursbedryf, sê Rossouw.

Hy meen ’n skandaal van dié omvang sou nie gebeur het as al die veelvlakkige beheerstelsels gewerk het soos hulle moes nie.

Volgens Rossouw lyk dit of ’n hele aantal hoogs betaalde professionele vlakke in die beleggingsbestuurstelsel beleggers in die steek gelaat het. Dit sluit in ouditeure, batebestuurders en nie-uitvoerende direkteure. In hul verskillende rolle moes hulle verseker dat die maatskappy se rekeninge so na aan die waarheid as moontlik is.

Steinhoff se aandeelprys het met meer as 90% geval en byna 10 miljard (sowat R154 miljard) se aandeelhouerswaarde binne drie dae vernietig nadat Markus Jooste, uitvoerende hoof, bedank het weens die nuus dat Duitse owerhede die maatskappy vir beweerde grootskaalse boekhoubedrog ondersoek.

Die vermoede is dat daar ’n gaping van sowat 2 miljard (sowat R31 miljard) in Steinhoff se balansstaat is weens onsekerheid of dié bates wel bestaan.

Geen nuwe direksie kan slegter vaar as die huidige een nie.
Prof. Jannie Rossouw

Rossouw sê Steinhoff-aandele was ’n “liefling-aandeel” onder die meeste fondsbestuurders in Suid-Afrika. “Ons moet vrae vra waarom hierdie batebestuurders wat enorme gelde vra nie die beweerde onreëlmatighede opgetel het nie. ’n Mens sou aanneem hulle behoort dit te gedoen het as hulle hul werk ordentlik gedoen het.”

Maar ondanks die beste pogings is dit onmoontlik om regulering in te stel wat integriteit en etiese optrede verseker. Die een doeltreffende manier wat gedrag kan verander is deur ’n wetlike proses en swaar strawwe.

Rossouw sê dis in hierdie stadium nog onseker hoe diep die korporatiewe verrotting by Steinhoff is, en die wêreld wag nou vir die maatskappy se vertraagde ouditverslag. Steinhoff moet vinnig optree om aandeelhouers en ander belanghebbers oor die ware finansiële gesondheid van die maatskappy in te lig.

Sy direksie is verantwoordelik vir die finansiële gesondheid en finansiële verslagdoening. Die skandaal en die skerp val in die aandeelprys laat die vraag ontstaan of die huidige direksie behoort voort te gaan om as direkteure te doen, want onder hul toesig het ontsaglike vernietiging van aandeelhouerswaarde plaasgevind, skryf Rossouw.

“Geen nuwe direksie kan slegter vaar as die huidige een nie, en daar is skaars enige aandeelhouerswaarde wat oorbly om te vernietig. Maar sal die huidige direksie die eerbare ding doen en opsy staan?”

Regulatoriese gapings moet geïdentifiseer en uitgewis word, maar geen struktuur van regulasie of toesig kan die enkele belangrikste vereiste vir suksesvolle sakegedrag vervang nie, naamlik etiese optrede.

Meer oor:  Steinhoff  |  Wits  |  Jannie Rossouw  |  Korrupsie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.