Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Europa in 2020 tops vir karre wat in SA gemaak is

Drie uit elke vier voertuie wat in 2020 in Suid-Afrika vervaardig is, is na die Europese Unie (EU) uitgevoer.

 Image: BMW SA
Die BMW X3 word in Suid-Afrika vervaardig en onder meer na Europa uitgevoer.

Europa was dus verlede jaar die belangrikste uitvoerstreek vir die Suid-Afrikaanse voertuigvervaardigingsbedryf en het sowat 60% uitgemaak van die totale waarde van voertuie, onderdele en toebehore wat uitgevoer is, sê die Uitvoerraad vir die Voertuigbedryf (AIEC) in die 2020-uitgawe van die Voertuiguitvoer-handleiding.

Dít kom neer op uitvoer van R105 miljard. Onder die plaaslik vervaardigde voertuie wat uitgevoer word, tel die BMW X3-sportnutsvoertuig, Mercedes-Benz C-klas en Volkswagen Polo’s.

Die totale waarde van voertuigverwante uitvoer het verlede jaar R175,7 miljard beloop. Voertuie het R121,2 miljard daarvan uitgemaak, en onderdele en toebehore R54,5 miljard.

Die totale waarde van uitvoer was sowat 13% laer as 2019 se rekord van R201,7 miljard, sê dr. Norman Lamprecht, uitvoerende bestuurder van handel, uitvoer en navorsing by die Vereniging van Voertuigvervaardigers (Naamsa).

k

Lamprecht stel jaarliks die handleiding namens die AIEC saam.

Hy sê die breër voertuigbedryf het in 2020 4,9% tot Suid-Afrika se bruto binnelandse produk (BBP) bygedra – vervaardiging 2,8% en kleinhandel 2,1% – vergeleke met 6,4% in 2019.

Dit wys die negatiewe uitwerking van die Covid-19-pandemie op die voertuigbedryf.

dr. Norman Lamprecht, uitvoerende bestuurder van handel, uitvoer en navorsing by die Vereniging van Voertuigvervaardigers (Naamsa).

Wêreldwyd het voertuigproduksie in 2020 met 15,8% gedaal tot sowat 79 miljoen voertuie (2019: 92 miljoen). Suid-Afrika se aandeel in wêreldproduksie het van 0,69% in 2019 tot 0,58% in 2020 verklein. Wat ligte handelsvoertuie betref, is ons aandeel in wêreldproduksie 1,08%, lui die handleiding.

Lamprecht sê die sewe voertuigvervaardigers van oorspronklike toerusting (OEM’s) in die land – soos Volkswagen, Toyota en Ford – het in 2020 minder onderdele ingevoer. Die waarde was byna 23% laer op R82,3 miljard.

Dít stem ooreen met voertuigproduksie, wat weens ’n laer vraag sowat 29% laer was op ’n jaargrondslag.

Die plaaslike voertuigvervaardigingsektor is verantwoordelik vir meer as 27% van die land se totale vervaardigingsproduksie en verskaf werk aan meer as 110 000 mense in die waardeketting (van onderdele- tot voertuigvervaardiging).

Lamprecht sê ondanks die daling in Suid-Afrika se voertuigverwante uitvoer verlede jaar was die sektor steeds verantwoordelik vir 13,9% van die land se totale uitvoer. Die totaal van 271 288 voertuie wat in 2020 uitgevoer is, is 115 800 minder as 2019 se rekordgetal van 387 092 eenhede.

Terwyl die waarde van uitgevoerde voertuie van R148 miljard in 2019 tot R121,2 miljard verlede jaar gedaal het, was die waarde van uitgevoerde onderdele hoër op R54,5 miljard (2019: R53,7 miljard). Dit is danksy ’n rekord van R26 miljard se katalitiese omsetters wat veral na Europa uitgevoer is waar strenger wetgewing teen skadelike voertuiguitlaatgasse verlede jaar van krag geword het, sê Lamprecht.

k

Mikel Mabasa, uitvoerende hoof van Naamsa, sê in die eerste vier maande van 2021 was voertuiguitvoer 48,3% hoër as in die eerste vier maande van 2020. Hy waarsku daarteen om April se nuwevoertuigverkope in die plaaslike mark en uitvoersyfers te vergelyk met dié van April 2020 toe voertuigvervaardiging en -verkope weens die streng vlak 5-inperking tot stilstand gekom het.

Nedbank se ekonomiese eenheid sê dit is beter om die gemiddelde van April oor die afgelope paar jaar te vergelyk. April 2021 se voertuiguitvoer was 1,3% hoër as die gemiddelde van 2017 tot 2019.

Suid-Afrika se voertuig- en onderdele-uitvoer gaan na 147 wêreldlande, sê Lamprecht.

Wat waarde betref, was Duitsland in 2020 die topbestemming vir Suid-Afrikaanse voertuigverwante uitvoer, op R56 miljard. Daarna volg Amerika, Brittanje en België.

Onder die 22 lande waarheen uitvoer meer as verdubbel het teenoor wat dit in 2019 was, tel die Tsjeggiese Republiek, Rusland, Egipte en Marokko.

Meer oor:  Mercedes-Benz  |  Volkswagen  |  Bmw  |  Uitvoer  |  Motors  |  Motorvervaardigers  |  Motorvervaardiging
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.