Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Facebook en ander stop sakereise na China
facebook
Facebook en ander ondernemings het sakereise na China gestaak. Foto: Reuters

Die internetgroep Facebook en ander internasionale maatskappye soos LG en Standard Chartered gaan sakereise na China beperk nadat die getal sterftes weens die nuwe 2019-koronavirus tot meer as 100 gestyg het.

Intussen het lugrederye ook begin om vlugte te kanselleer en vlugskedules aan te pas omdat al meer lande mense waarsku teen reis na China.

Amerika het Maandag sy land se mense gewaarsku om dit te heroorweeg om China te besoek terwyl ook Suid-Korea Dinsdag sy mense aanbeveel het om nie daarheen te reis nie.

Facebook is die eerste groot Amerikaanse maatskappy wat sakereise na China opgeskort het na dié land se waarskuwing. Die maatskappy het personeel gevra om nie na China te reis as dit nie noodsaaklik is nie. Personeel wat daarheen gereis het, is gevra om van die huis af te werk, sê ’n woordvoerder.

Volgens die woordvoerder spruit die waarskuwing uit versigtigheid.

LG het ’n algehele verbod op reis na China ingestel en het personeel wat op sakereise daar is, aangesê om so spoedig moontlik huiswaarts te keer. Die Suid-Koreaanse maatskappy SK Hynix het ook personeel aanbeveel om nienoodsaaklike reise na China te vermy.

Standard Chartered het reise na Hongkong en China beperk.

Die Duitse maatskappy Webasto wat in China bedrywig is, het alle sakereise daarheen en terug gestop nadat een van sy personeel besmet is. Honda van Japan het ook personeel aanbeveel om reise na China te vermy terwyl Nissan Motor beplan om al sy personeel van daar af terug te bring.

Lugdienste sê die vraag na China neem af en hulle pas hul skedules aan. Die Suid-Koreaanse lugdiens Air Seoul het gesê hy stop alle vlugte na China, terwyl Taiwan se China Airlines ’n verdere herskedulering van vlugte van China af aangekondig het.

International SOS wat maatskappye adviseer oor hoe veilig dit is om te reis, sê sy aanbeveling tans is nog dat dit veilig is om na China te reis solank dit buite die Hubei-provinsie is waar die uitbreking begin het.

James Robertson, direkteur van International SOS se streeksveiligheid, sê dit kan verander as daar groot kansellasies van vlugte voorkom en landvervoer – treine ingesluit – meer ontwrig word.

“Baie van ons kliënte het verkies om reisplanne uit te stel of te kanselleer op grond van hul eie oordeel,” sê hy.

“Indien mense wel reis, moet hulle reisplanne buigsaam wees om die ekstra tyd wat nodig is vir gesondheidsondersoeke in ag te neem.” – Reuters

Meer oor:  Facebook  |  Lg  |  Maatskappye  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.