Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Famous Brands: eerste keer in 13 jaar nie dividend
Darren Hele, uitvoerende hoof van Famous Brands.

Aandeelhouers van die restaurantgroep Famous Brands ontvang vanjaar vir die eerste keer in 13 jaar nie ’n dividend nie.

Die groep, met re­staurante waaronder Wimpy, Steers, Debonairs Pizza, Mugg & Bean en Fishaways, het in die boekjaar tot einde Februarie heelwat verkrygings gedoen, wat sy netto wins van die vorige jaar se R617 miljoen tot die huidige R213 miljoen laat val het.

Darren Hele, uitvoerende hoof van Famous Brands, sê die groep se sewe nuwe ondernemings, waaronder die Britse Gourmet Burger Kitchen (GBK) wat hy in September verlede jaar vir £120 miljoen gekoop het, lewer ’n soliede bydrae tot die algehele groei.

Dié aankoop het egter die groep se rente-uitgawes na R132 miljoen laat opskiet nadat dit in die vorige boekjaar net R7 miljoen was. Dit kan toegeskryf word aan die lening van R2,4 miljard wat Famous Brands uitgeneem het om GBK te koop.

Volgens Hele was die tydsberekening van die aankoop nie ideaal nie aangesien die transaksie teen ’n wisselkoers van R17,54/£ uitgevoer is, terwyl die rand kort daarna versterk het tot ’n vlak van R15,19. Die verkryging van dié groep van sowat 80 restaurante het tot ’n ­hoër vlak van hefboomfinansiering vir Famous Brands gelei.

“Enige groot bate wat jy in harde kontant koop, sal maar teen ’n premie geskied – maar ons het ’n langtermynsiening en is tevrede dat die onderneming baie goed vaar.”

Die inkomste het met 33% tot R5,7 miljard gegroei, en dit sluit GBK se bydrae vir 20 weke van die boekjaar in.

“GBK is die groep se grootse verkryging tot nou en lei tot transformering van die sakemodel,” sê Hele.

Anders as sy Suid-Afrikaanse ondernemings word die restaurante in dié Britse groep deur die maatskappy besit en nie deur franchisenemers nie.

Bedryfstatistieke toon GBK presteer beter as die markgemiddelde in Brittanje, sê Hele. Daar is nog nie planne om die handelsnaam na Suid-Afrika te bring nie.

Aan die plaaslike front was dit veral Debonairs, Steers, Fishaways en Milky Lane wat met dubbelsyfergroei gepresteer het.

Ander handelsname soos Tashas, Turn ’n Tender, NetCafé, Coffee Couture en Thrupps het ook groei getoon, wat volgens Hele meestal aan ’n spyskaart wat voortdurend vernuwe word asook die opening van nuwe restaurante toegeskryf kan word.

Die Suid-Afrikaanse afdeling van die groep het dié boekjaar 192 restaurante geopen en 220 opgegradeer. Volgens Hele het dié opknappings vrugte gedra.

“Ons let ook op dat verbruikersvoorkeure verander. Tans vaar kitskosrestaurante ’n bietjie beter as die restaurante waar mense aansit om te eet, terwyl waarde vir geld steeds kritiek vir verbruikers is.”

Internasionale handelstoestande bly taai en Famous Brands se Afrika-afdeling, wat sy Midde-Oosterse bedrywighede insluit, het in die oorsigtydperk net 17 restaurante geopen teenoor 33 in die vorige boekjaar.

“Die teleurstellende uitbreiding kan toegeskryf word aan swak handelsomstandighede, strenger uitleenkriteria en beperkte toegang tot buitelandse valuta vir voornememde franchise-eienaars,” sê Hele.

Hele sê Famous Brands verwag om weer in die 2018-boekjaar ’n dividend te betaal, afhangende van toekomstige verkrygings en bedryfsuitgawes.

Meer oor:  Steers  |  Debonairs  |  Famous Brands
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.