Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Famous Brands sluit 14 takke van Britse GBK

Die topbestuur van die restaurantgroep Famous Brands kan ’n ietwat rustiger Kersfees geniet nadat die krediteure van sy sukkelende burgerrestaurante in Brittanje, Gourmet Burger Kitchen (GBK), geen beswaar geopper het teen sy sakereddingsplan nie.

Gourmet Burger Kitchen ly verliese in Brittanje.

Famous Brands besit onder meer Wimpy, Steers en Mugg & Bean, maar dit is sy Britse onderneming wat hom die afgelope jaar grys hare gee.

Famous Brands het GBK in 2016 vir R2,1 miljard gekoop.

Dié groep het in die halfjaar tot einde Augustus ’n bedryfsverlies van £2,6 miljoen gely teenoor ’n bedryfswins van £872 000 in 2017.

Verskeie redes is al gegee vir GBK se probleme: die trae Britse ekonomie, duur huurkontrakte wat verhuurders nie wou heronderhandel nie, en ook dat Britte al hoe meer kos aanlyn bestel eerder as om in restaurante te gaan aansit. GBK se burgers, wat langer neem om te maak, leen hom ook nie tot kits-aflewering nie.

In die ses maande tot einde Augustus het Famous Brands GBK se waarde met R873,9 miljoen (voor belasting) afgeskryf, en kort daarna, op 24 Oktober, is aangekondig dat die maatskappy in sakeredding geplaas word.

Die doel van die sakeredding is juis om die portefeulje van eiendomme wat GBK huur, te herstruktureer.

Die meerderheid van GBK se krediteure het die sakereddingsplan goedgekeur, maar ingevolge Britse wetgewing moes 28 dae verstryk nadat die plan geregistreer is.

Dié tydperk het op 10 Desember ten einde geloop. Volgens ’n Sens-verklaring is geen besware teen die plan geopper nie.

GBK het nagenoeg 60 restaurante, waarvan 17 baie sukkel. Van dié het 14 reeds ingevolge die sakereddingsplan hul deure gesluit.

“Hoewel die ander drie restaurante se prestasie verbeter het, bly hulle onder hersiening, hangende verdere optrede.”

Famous Brands se direksie sê luidens die Sens-verklaring hy is vol vertroue dat die sakereddingsplan in sy doelwit sal slaag “om die langtermyn- finansiële lewensvatbaarheid en volhoubaarheid” van GBK te verbeter.

Famous Brands het ook aangekondig hy gaan sy skuld herfinansier om “toepaslike skuldvlakke en optimale kapitaaltoewysing” te verseker, wat daarop gemik is om die onderneming te laat groei en die opbrengs vir aandeelhouers te verbeter.

Meer inligting oor die herstrukturering sal in die maatskappy se jaarresultate vir die 12 maande tot einde Februarie bekend gemaak word. Dit word in Mei verwag.

Meer oor:  Famous Brands  |  Gourmet Burger Kitchen  |  Burgers  |  Restaurante  |  Kitskos
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.