Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Wimpy-eienaar waarsku wéér oor nuwe planne
Famous Brands besit onder meer Steers, Wimpy en Mugg & Bean. Foto: Getty Images

Meer as ’n maand nadat Famous Brands die eerste aanduiding gegee het dat hy een van sy restaurantgroepe gaan herskik, het die groep steeds nie meer inligting vir die mark nie.

Die eienaar van Steers, Wimpy en Mugg & Bean het Vrydagoggend in ’n Sens-verklaring gewaarsku “strategiese opsies word steeds oorweeg met betrekking tot ’n filiaal wat, as dit voltooi word, ’n wesentlike invloed op die maatskappy se aandeelprys kan hê”.

Die vorige keer dat dié waarskuwing uitgereik is, was op 17 Augustus.

Daarna het aandele-ontleders bespiegel dat Famous Brands sy Britse restaurantgroep Gourmet Burger Kitchen (GBK) wil verkoop.

Die maatskappy is steeds in ’n geslote tydperk in die aanloop tot die uitreiking van sy tussentydse syfers vir die halfjaar tot einde Augustus en kan nie in dié stadium kommentaar lewer nie.

Famous Brands se aandeelprys het Vrydagoggend skuins voor 10:00 met 0,75% tot R100 gedaal. Die aandeelprys het sedert sy hoogste sluiting, van R166,10 in Oktober 2016, byna 40% van sy waarde verloor.

Famous Brands het die afgelope jaar ’n enorme verlies gely met Gourmet Burger Kitchen (GBK), ’n groep restaurante wat luukse burgers in Brittanje en Ierland bedien, wat hy so onlangs as Oktober 2016 aangeskaf het.

Famous Brands het twee jaar gelede £120 miljoen (destyds R2,1 miljard) vir GBK betaal. In die boekjaar tot einde Februarie is ’n afskrywing van R340 miljoen gedoen vir GBK, wat ’n bedryfsverlies van £7,8 miljoen in die tydperk gely het.

Ander restaurante waarvan Famous Brands dalk ontslae wil raak, volgens bespiegelinge in die mark, is die kitskosgroep Mr Bigg’s in Nigerië.

Hy is steeds besig om die braaihoendergroep Giramundo en die bakkery The Bread Basket toe te maak en dit lyk asof die roomyswinkel Wakaberry ook nie juis aftrek kry nie.

Wimpy is die grootste bron van inkomste vir die groep.

Famous Brands het die afgelope jaar nagenoeg 100 restaurante gesluit, onder meer takke van Steers, Wimpy en Debonairs wat nie wins gemaak het nie.

Famous Brands reik sy halfjaarresultate vir die ses maande tot einde Augustus op 29 Oktober uit.

Meer oor:  Steers  |  Wimpy  |  Famous Brands  |  Restaurante  |  Kitskos
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.