Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Fidentia: Ná 12 j. kry beleggers net kwart terug

Meer as ’n dekade nadat die Fidentia-groep in kuratorskap geplaas is, het beleggers net ’n kwart van die R1,3 miljard van hul eise teruggekry.

J. Arthur Brown in die hooggeregshof in Kaapstad in April 2013. Foto: Bertram Malgas

Die grootbaas van Fidentia, J. Arthur Brown, dien tans 15 jaar tronkstraf uit vir bedrog. Hy is in 2014 gevonnis.

Die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor (FSCA) het vandeesmaand in die hooggeregshof in Kaapstad aansoek gedoen vir die goedkeuring van die jongste kuratorsverslag en om die aanstelling van die kurators te beëindig nadat die finale verspreiding van R7,9 miljoen aan beleggers onlangs afgehandel is.

Dit sal dan beteken die kuratele word beëindig.

Die Fidentia-groep se finansiëledienstemaatskappye Fidentia Asset Management, Bramber Alternative en Fidentia Beherend is einde Maart 2007 in finale kuratele geplaas.

Die aansoek om kuratorskap is gebring ná ’n inspeksie in Fidentia Asset Management en verwante instellings se sake.

Die kurators het vier beleggers se eise van altesaam R1,36 miljard aanvaar.

In die jongste verslag wat die hofaansoek vergesel, is gesê die eise wat van beleggers is ontvang is, is:

  • Die opleidingsowerheid vir die vervoersektor (Teta): R185 miljoen
  • Antheru: R9,2 miljoen
  • Balltron: R38,5 miljoen
  • Living Hands Umbrella Trust: R1,1 miljard

Die Living Hands Umbrella Trust is gestig as ’n trust wat die sterftevoordele van pensioenfondslede namens die afhanklikes van die oorledenes geadministreer het. Dié trust het dus weeskinders en weduwees van werkers wat in mynongelukke dood is se geld bestuur.

Die kurators het die afgelope jare bates verkoop, geld teruggevorder en inkomste verdien uit die bestuur van die voortgesette bedrywighede van maatskappye in die groep.

Caroline da Silva van die FSCA het in ’n eedsverklaring wat die aansoek vergesel, na die kurators se jongste verslag verwys wat toon die totale invloei van geld sedert die aanvang van die kuratele tot einde April vanjaar het sowat R405,4 miljoen beloop.

Daarvan is R332,5 miljoen aan beleggers versprei.

Dit beloop 24% van die totale toegelate eise.

Die totale uitvloei van die kuratorskap wat te doen het met die koste van die kuratorskap beloop R101,6 miljoen.

Da Silva voer aan die kuratorskap is afgehandel en daar bestaan goeie rede om die aanstelling van die kurators nou te beëindig.

Die kurators se 19de verslag, vir die tydperk 1 Junie 2018 tot 30 April 2019, is aangeheg aan die aansoek.

Só is die geld versprei

R332,5 miljoen wat aan beleggers versprei is, is as volg betaal:

  • Living Hands Umbrella Trust: R113,3 miljoen
  • Living Hands Umbrella Trust ingevolge ’n regsgeding met Lekana: R33,4 miljoen. Ten opsigte van die regsgeding met die Lekana Employee Benefits-maatskappy is ’n skikking bereik ingevolge waarvan dié bedrag direk aan die Mine Employees Pension Fund betaal is.
  • Balltron-waarborg: R4,4 miljoen
  • Bedrae ingevolge ’n hofbevel: R180,9 miljoen.

Die R180,9 miljoen wat ingevolge ’n hofbevel versprei is, is as volg betaal:

  • Teta: R44,4 miljoen
  • Balltron: R9,2 miljoen
  • Living Hands Umbrella Trust: R125,5 miljoen
  • Antheru: R1,7 miljoen.

Van die R125,5 miljoen wat ingevolge die hofbevel aan die Living Hands-trust versprei is, was daar volgens die kuratorsverslag einde April nog net R41,7 miljoen aan die individuele begunstigdes uitbetaal. Dit is 33% van die R125,5 miljoen wat versprei is aan Living Hands.

’n Bedrag wat oorbly, is belê en die balans van R47,8 miljoen verteenwoordig uitgawes en koste wat verband hou met regs- en ouditkoste asook die vergoeding van die trustees, luidens die kuratorsverslag.

Die kurators laat na om te sê hoeveel van die ander bedrag wat die trust gekry het, aan begunstigdes versprei is.

Só is bates verkoop

Sedert die aanvang van die kuratorskap is talle bates verkoop waarmee altesaam R171 miljoen ingesamel is.

Die grootste bedrag, van R43,4 miljoen, is vir die Century City-eiendom Facets gekry. Die Facets Lifestyle Centre is met beleggersgeld vir J. Arthur Brown se vrou gekoop.

LEES OOK: Hotel, spa druppel aan Fidentia-emmer

Die kurators het ook altesaam R50 miljoen gekry deur die verkope van beleggings in die private-ekwiteitsportefeulje van die batebestuurder.

Ander geld wat gekry is, beloop R57 miljoen en sluit in die regte vir ’n krieketlosie wat verkoop is.

Soveel kry die kurators

Die totale koste van die kuratorskap, uitgesluit belasting op toegevoegde waarde (BTW), het einde April R101,6 miljoen beloop.

Dit het ingesluit die volgende:

  • Kuratorsgelde aan Dines Gihwala: R16,1 miljoen
  • Kuratorsgelde aan George Papadakis: R11,6 miljoen
  • Kuratorsgelde aan John Levin: R6,2 miljoen.
  • Forensiese boekhoudienste: R8,6 miljoen
  • Regsdienste van DLA en CDH: R49,3 miljoen.

Wie is die kurators?

Die twee kurators is John Adrian Levin en George Papadakis.

Aanvanklik is Gihwala en Papadakis as kurators bevestig. Gihwala het Junie 2014 bedank ná ’n bevel waarin hy as ’n wetsoortreder-direkteur verklaar is van ’n maatskappy wat nie met die Fidentia-kuratele verband gehou het nie. Levin is daarna in 2014 aangestel.

TimesLive het einde Januarie berig Gihwala is van die rol geskrap as prokureur ná ’n uitspraak van die hooggeregshof.

Die eiendom van Fidentia-groep wat die kurators sedert 2007 verkoop het. Foto:
’n Skermgreep van die jongste kuratorsverslag toon watter ander bates verkoop kon word. Dit sluit in beleggings in die private-ekwiteitsportefeulje. Foto:
Van die roerende bates en ander verkope wat die kurators bewerkstellig het, het R57 miljoen ingebring. Foto:
Foto:
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.