Gimnasiums se deure is wyd oop vir lede wat weer wil kom oefen noudat vlak 1 aangebreek het – en dit lyk asof meer nuwe lede ook wil begin sweet.

Mense is gretig om weer ginmnasium toe te gaan ten spyte van prysstygings. Foto: Unsplash
By Suid-Afrika se grootste gimnasiumgroep, Virgin Active, sal lede vanaf 1 April effens meer vir hul lidmaatskap moet betaal. Die groep het aangekondig sy tariewe styg met gemiddeld 4,2%, maar dit wissel volgens die soort klub of lidmaatskap wat mense kies.
Hoewel die styging vir sommige mense so min as R10 per maand beloop, kom dit nadat die lede van die beloningsprogram Vitality Active reeds vanaf Januarie meer moet opdok omdat net 50% van hul lidmaatskap deur die program betaal word, pleks van 60% vantevore.
Nikki Cockcroft, wêreldhoof van bemarking en tegnologie van Virgin Active, sê daar was in 2020 geen verhoging nie en lidmaatskap is vyf maande lank bevries. Hulle hou die verhoging so laag as moontlik, maar weens stygende koste en inflasiedruk moet hulle gelde aanpas.
“Ons begryp dat tye moeilik is, en dis hoekom ons alles moontlik gedoen het om verhogings billik te hou. Ons moedig lede ook aan om met ons spanne te praat as hulle ’n ander soort lidmaatskap of prysstruktuur wil oorweeg, insluitend aanlyn en buigsame lidmaatskap.”
Virgin het 135 klubs in Suid-Afrika en bied deesdae die opsie aan dat mense vir R99 per maand toegang kry tot aanlyn oefenprogramme op sy app en webwerf. Dis ingesluit by die lidmaatskap van mense wat aan klubs behoort.
Die groep se mededinger Planet Fitness het weens die impak van die Covid-19-pandemie op die ekonomie besluit om nie vanjaar ’n verhoging in lidmaatskap in werking te stel nie, sê Gillian Elson, bemarkingshoof. Planet Fitness het 48 gimnasiums landwyd.
Impak op ledetal
Sowel Virgin Active as Planet Fitness sê hulle beleef nou ’n toename in belangstelling van nuwe lede.
Hoewel daar altyd aan die begin van enige maand, en veral aan die begin van die jaar, meer navrae is, glo hulle die verslapping van inperkingsregulasies noudat die tweede golf Covid-19-infeksies verby is, gaan in die volgende paar weke daartoe bydra.
Op die strengste inperkingsvlakke was daar kansellasies van lidmaatskappe, soos verwag is, maar Elson sê in die geheel gesien, is Planet Fitness aangenaam verras. Die groep het nou weer nagenoeg 250 000 lede, soos voor die aanvang van die pandemie verlede jaar.
Die groep is positief oor die toekoms en beoog om aggressief uit te brei, met die plan vir 12 nuwe klubs in die volgende 15 maande. Dis ’n totale belegging van nagenoeg R600 miljoen waardeur 600 poste geskep word.
Die groep het op 25 Februarie ’n moderne nuwe klub in Potchefstroom geopen en “nuwe lede stroom in”. Die Northmead Square Club in Benoni open in April.
Cockcroft sê dit bly moeilik om Virgin se lidmaatskap te meet te midde van veranderende regulasies. Sekere mense in kwesbare groepe, soos bejaardes en mense met bestaande siektetoestande, mag steeds hul lidmaatskap bevries. Baie oefen egter tuis aanlyn.
In November het Virgin se moedermaatskappy in Suid-Afrika, Brait, wel berig dat 55 000 uit die 740 000 Suid-Afrikaanse lede in die ses maande tot einde September hul lidmaatskap prysgegee het.
Gimnasiums is (relatief) veilig
Heelwat navorsing is al in Suid-Afrika en oorsee gedoen wat bewys dat oefenplekke nie ’n groot gevaar inhou vir die oordrag van die koronavirus nie.
Gimnasiums hou egter streng vol met veiligheidsprotokolle, soos om getalle te beperk, mense se koors te meet, toerusting te ontsmet, afstand te handhaaf tussen apparate wat in gebruik is en maskers verpligtend te maak.
Elson meen die terugkeer van lede en aansoeke van nuwe lede kan deels toegeskryf word aan mense se bewustheid van hoe belangrik gesondheid is indien hulle wel Covid-19 sou opdoen. (’n Groter persentasie mense met gesondheidsprobleme en wat oorgewig is, asook bejaardes, word ernstig siek of gaan dood, hoewel die onvoorspelbare virus ook gesonde mense plattrek.)
Meer as 2,7 miljoen besoeke aan Planet Fitness is gebring in die vyf maande vanaf September 2020 tot Januarie 2021. Planet Fitness laat nou ’n maksimum van 100 lede op ’n slag in sy gimnasiums toe, in pas met die vlak 1-regulasies.
Sedert Augustus 2020 het nagenoeg 70% van Virgin Active se lede weer in gimnasiums begin oefen.