Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Firmas nou verplig om toe te sien goed word herwin
’n Herwinningsaanleg vir gloeilampe en buisligte. Dié soort vervaardigers sal voortaan moet toesien dat hul produkte wel herwin word nadat dit verkoop en gebruik is, bepaal nuwe wysigings aan die Wet op Afvalbestuur.

Die prys wat verbruikers betaal vir enigiets wat verpak is in glas of plastiek kan styg weens ’n nuwe regeringsregulasie wat die vervaardigers van sulke produkte dwing om self vir die herwinning daarvan te betaal.

Ook die vervaardigers van papierprodukte is in die visier van die nuwe regulasies, wat vervat word in die Wet op Afvalbestuur.

Dit beteken huishoudings kry weer ’n vrypas en word steeds nie verantwoordelik gehou vir die sortering en herwinning van hul huishoudelike afval nie, soos wat in gevorderde nywerheidslande die geval is.

Verbruikers sal egter heel waarskynlik die pyn by kasregisters voel omdat die nuwe regulasies groot koste kan meebring vir vervaardigers wat nog nie ’n plan het met hul produkte nadat dit verkoop en gebruik is nie. Dié koste kan uiteindelik na die verbruiker oorgedra word.

Die departement van omgewingsake, bosbou en visserye het die nuwe regulasies vir herwinning in die Staatskoerant afgekondig.

Van die bepalings sluit in dat produsente van papier, plastiek, glas, gloeilampe en selfs sekere elektroniese toerusting ’n skema vir die verantwoordelikhede van die vervaardiger (extended producer responsibility oftewel EPR) ontwikkel wat teen Mei 2021 geregistreer moet word.

Produsente wat nie hul eie skema op die been bring nie, moet by ’n bestaande produsente-verantwoordelikheidsorganisasie (PRO) aansluit wat die herwinning namens hulle sal behartig.

Elke produsent moet ook by die departement geregistreer wees en jaarliks aan sekere teikens vir die insameling en herwinning van hul produkte voldoen.

Talle produsente in die verpakkings­bedryf behoort reeds vrywillig aan PRO’s.

Albi Modise, woordvoerder van die departement, sê die regering volg die benadering dat die produsent – en nie die publiek nie – verantwoordelik gehou moet word dat ’n produk herwin word.

“Die produsent plaas die produk op die mark en daarom moet hy die produk bestuur tot aan die einde van sy leeftyd.”

Statistieke Suid-Afrika het in 2011 geraam dat net sowat 10% van die bykans 59 miljoen ton afval wat Suid-Afrika destyds gegenereer het, herwin word. Die jongste syfers van die afvalbestuursentrum (Sawis) toon dat 2,5 miljoen ton plastiek en papier onderskeidelik in 2019 herwin is en bykans 270 000 ton glas.

Die nuwe teikens wat gestel word, is aansienlik hoër. Plastiekvervaardigers sal byvoorbeeld aan die einde van die eerste jaar waarin die regulasies geld moet toesien dat meer as 70% van poliëtileentereftalaat (Pet)-bottels herwin word. Die plastiekherwinningsorganisasie Petco sê dié syfer staan op 63%.

Rapport het vroeër berig dat Suid-Afrika se herwinningskoers dieselfde en selfs beter is as in sommige Europese lande danksy die werk van rommeltrollieversamelaars en herwinners op vullishope. Volgens die WNNR is herwinners verantwoordelik vir meer as 80% van die verpakkingsmateriaal en papier wat in Suid-Afrika herwin word. As hulle hul bedrywighede sou staak, sou herwinning tot stilstand kom.

Modise het gesê Barbara Creecy, minister van omgewingsake, bosbou en visserye, voer in die komende week samesprekings met belanghebbendes in die bedryf oor die teikens en die tydsraamwerk vir die inwerkingstelling van die EPR-skema. Oortreders kan tronkstraf van tot 15 jaar of ’n swaar boete of albei opgelê word.

Talle vervaardigers is bekommerd oor die nuwe vereistes en ontsteld dat munisipaliteite en huishoudings nie in die regulasies medeverantwoordelik gehou word vir herwinning nie.

Shabeer Jhetam van die bedryfsliggaam Packaging SA, wat lede soos Consol, Tetra Pack en Nampak insluit, sê almal in die waardeketting van ’n produk moet aanspreeklik gehou word en help toesien dat produkte herwin word en nie op stortingsterreine beland nie.

“Dit is merkbaar dat die regering dit nie verpligtend maak dat huishoudings hul afval sorteer nie. Huishoudings is ’n noodsaaklike element om herwinningskoerse te verhoog.”

Samantha Choles, woordvoerder van Fibre Circle, ’n EPR-organisasie wat papierherwinning behartig, sê die sortering van afval op huishoudelike vlak is veral noodsaaklik as ’n mens papier wil herwin. “As papier nat word of meng met kos en ander nat afval begin dit afbreek en die gehalte daarvan verswak aansienlik.”

Fibre Circle meen voorts sonder die volledige samewerking van munisipaliteite sal die EPR-skema nie suksesvol wees nie. “Ons hoop die regering sal plaaslike regering hierby betrek om oplossings vir die probleem te vind.”

Dirk van Niekerk, uitvoerende hoof van The Waste Group, ’n organisasie wat spesialiseer in afval- en herwinningsbestuur, sê die feit dat huishoudings nie hul afval sorteer nie, is ’n groot probleem.

“Lande soos Duitsland het ’n goed georkestreerde afval-en-herwinningstelsel wat deur middel van tariewe bestuur word. Hulle het ook gedissiplineerde landsburgers. En jy word beboet as jy nie jou afval sorteer nie.”

Van Niekerk sê die Wet op Afvalbestuur is so opgestel dat herwinning vooropgestel word en daar word van munisipaliteite verwag om herwinningsmodelle en -teikens by hul geïntegreerde ontwikkelingsplanne in te sluit. Maar geen stadsraad kon dit nog suksesvol uitvoer nie.

Afvalverwydering skiet klaar te kort – wat nog te sê van herwinning, sê hy.

Meer oor:  Afval  |  Maatskappye  |  Regulasies  |  Herwinning  |  Glas  |  Plastiek  |  Vullis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.