
FNB se kantore in Fairlands, Johannesburg. Foto: Argief
FirstRand, die moedermaatskappy van FNB en Rand Merchant Bank (RMB), sê dit lyk asof sake vinniger herstel as wat hy voorheen verwag het.
FirstRand het Donderdag in ’n handelsverklaring op die JSE se nuusdiens, Sens, gesê hoewel hy verwag sy verdienste sowel as wesensverdienste per aandeel sal waarskynlik tussen 20% en 25% laer wees in die ses maande tot einde Desember, is dié daling minder as wat hy voorheen verwag het.
“Die verdienste-tendens vir die vier maande van 1 Julie 2020 tot 31 Oktober 2020 weerspieël ’n beter as verwagte herstel,” lui die verklaring.
FirstRand sê in Oktober het sy inkomste uit rente met 2% gestyg teenoor ’n jaar gelede, en het nierente-inkomste met 2% gedaal.
Bankkliënte maak egter steeds meer deposito’s.
Deposito’s by kleinhandelbankdienste het in Oktober met 13% gestyg en by kommersiële bankdienste met 20%.
FirstRand sê sy Oktober-syfers vergeleke met sy Junie-syfers wys duidelik dat die ekonomie begin kop optel.
Daar was in Oktober:
- 22% meer finansiële transaksies;
- 16% meer transaksies op die banke se apps;
- 38% meer transakies met kredietkaarte by verkoopspunte in winkels; en
- 29% meer transaksies wat spesifiek met FNB-kredietkaarte gedoen is.
FirstRand sê nog goeie nuus is dat die bank se kredietverliesverhouding op bruto lenings en voorskotte
ook begin daal het.
Dit is ’n aanduiding van hoeveel slegte skuld hy verwag.
FirstRand het in September gesê hy maak voorsiening van R24,3 miljard vir slegte skuld oor al sy afdelings heen.
Dit is 45% meer as die R10,5 miljard van ’n jaar gelede.
FirstRand se aandele het Donderdagmiddag onveranderd teen R47,68 op die JSE verhandel.