
Denel se hoofkantoor in Pretoria. Foto: Reuters
Reuters
Die staat se wapenvervaardiger “het beweegruimte gekry” ten opsigte van sy kredietgradering en dus ook sy skuldlas nadat Fitch Ratings sy vooruitsig vir Denel vandeesweek van negatief na stabiel gewysig het.
Die kredietgradering self is onveranderd gehou op B – vier vlakke onder beleggingsgraad.
Fitch noem dié vlak “hoogs spekulatief” en sê in sy raamwerk vir kredietgraderings op dié vlak is daar ’n “wesenlike risiko van wanbetaling, maar daar is wel nog ’n beperkte veiligheidsmarge”.
Danie du Toit, uitvoerende hoof van Denel, sê Dinsdag in ’n verklaring die besluit deur Fitch om die langtermyngradering onveranderd te hou en die vooruitsig na “stabiel” te verander, is bemoedigend. Dit sal ook “verdere momentum gee aan die maatskappy se pogings om sy geloofwaardigheid ná ’n lang tydperk van staatskaping” te herstel.
“Ons neem kennis van die kommer oor aspekte van die onderneming wat Fitch steeds geopper het en gaan voort om maatreëls in te stel om die uitwerking van hierdie faktore te versag,” sê Du Toit. “Maar ons word ook bemoedig deur die positiewe aspekte van ons omkeerplan wat in die graderingsverslag genoem word.”
Denel se regrukstrategie kry luidens Denel se verklaring “toenemend erkenning van ontleders en kredietgraderingsagentskappe”.
Fitch wys op die R1,8 miljard-reddingsboei wat die regering in Augustus verlede jaar aan Denel gegee het om sy likiditeitskrisis te verlig.
Fitch verwag nou dat Denel teen 2023 weer winsgewend sal wees en sy balansstaat tot dan toenemend sal stabiliseer.
Du Toit verwag dat dié stabilisering vinniger sal gebeur.
Denel het aanvanklik ’n reddingsboei van R2,8 miljard van die staat versoek.
Du Toit het destyds aan Netwerk24 gesê dit is die minimum bedrag wat nodig is om Denel se herstrukturering en terugkeer na winsgewendheid te verseker.
Du Toit is steeds vol vertroue dat die staat binnekort die oorblywende R1 miljard sal toeken.
Denel is al staatsonderneming wat tot dusver op groot skaal ’n herstrukturering van stapel gestuur het wat privatisering, afleggings en strategiese vennootskappe met die private sektor insluit.
Volgens Du Toit gee Fitch se besluit Denel nou beweegruimte om sy herstrukturering af te handel.
Fitch het wel nog ’n paar bekommernisse oor Denel se likiditeitsposisie en bedryfsprestasie.
“Ons hanteer al hierdie kwessies op ’n gestruktureerde manier en met die ondersteuning van ons belanghebbendes in die regering,” sê Du Toit.
“Dit is egter duidelik dat die ommekeer se momentum toeneem en ek is vol vertroue dat dit al hoe meer weerspieël sal word in die siening van ontleders en die breër sakegemeenskap,” sê hy.