Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Fitch reken Denel kan binne 12 maande vou
Denel's office in Pretoria
Denel se hoofkantoor in Pretoria.

Fitch Ratings het Denel afgegradeer tot ’n vlak laer as selfs Eskom. Die kredietgradeerder reken die staat se wapentuigvervaardiger is nou bitter naby aan bankrotskap.

Fitch het Denel se gradering vir langtermyneffekte tot vlak CC afgegradeer en sy korttermyneffekte nog ’n vlak laer op C, albei van vlak B af.

Daar is slegs twee vlakke onder ’n gradering van CC.

Vir korttermyneffekte, waarop Denel tans oorleef sedert sy inkomste bykans heeltemal opgedroog het, is Denel se gradering van C nou die tweede laagste wat Fitch kan gee.

Só ’n gradering beteken Denel is nou volgens Fitch binne 12 maande van bankrotskap en totale wanbetaling van skuld.

Eskom word nog twee vlakke hoër gegradeer.

Fitch sê in sy verslag Denel word nou onafhanklik van die staat gegradeer omdat daar so min ondersteuning van die aandeelhouer af kom.

“Die afgradering weerspieël Denel se erg gespanne likiditeitsposisie en die afwesigheid van tydige regeringsondersteuning, wat volgens ons kriteria daartoe lei dat ons nou die groep op ’n selfstandige basis beoordeel,” sê Fitch.

“Die likiditeitsposisie is die gevolg van onvoldoende herkapitalisering om die bedryfsaktiwiteite doeltreffend te herbegin en te handhaaf, terwyl nog beperkings deur die koronavirus-pandemie opgelê word.”

Fitch sê Denel se versuim om salarisse sedert Mei te betaal, dui op sy onvermoë om finansiële verpligtinge na te kom.

Die risiko van wanbetaling is dus nou sowel ekstern as intern.

Dit het verlede week aan die lig gekom dat Denel vir die boekjaar tot einde Maart ’n verlies van R1,7 miljard gely het. Die syfers word egter nog geoudit en sal na verwagting eers in Oktober voltooi wees.

Fitch sê die verliese kom nou al geruime tyd aan.

Waar Denel in 2018 nog R5,8 miljard se inkomste gemaak het, het dit tot slegs R3,8 miljard gedaal in 2019.

Sonder finansiële ondersteuning vanaf die staat sien Fitch nie hoe Denel gaan oorleef nie.

Danie du Toit, die voormalige uitvoerende hoof wat twee weke gelede die maatskappy verlaat het, het verlede maand aan Reuters gesê Denel gaan moontlik nie die volgende paar maande oorleef nie, tensy die regering hom toelaat om ’n paar beloofde reddingsboeie te gebruik om ’n inkomste te verdien eerder as om skuld terug te betaal.

Maar die tesourie sê hy kan nie die voorwaardes vir die reddingsboeie aan Denel voordat die mediumtermynbegrotingsraamwerk van Oktober verander nie.

As so ’n wysiging aangebring word, kan die geld op die vroegste eers volgende jaar betaal word.

Die regering is self platsak en daar is al hoe minder ondersteuning vir verdere reddingsboeie aan staatsondernemings.

Meer oor:  Denel  |  Fitch Ratings  |  Wapenvervaardiger  |  Skuld  |  Staatsonderneming
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.