Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
‘Fliekbedryf sukkel, bloei poste’

Die Suid-Afrikaanse fliek- en televisiebedryf is ’n brose bedryf wat deur intensiewe internasionale mededinging, verbrokkelende gehore en dalende advertensie-inkomste in die gesig gestaar word.

Die sangeres Lady Zamar het Vrydag in die parlement haar kommentaar gegee oor nuwe wetgewing om kunstenaarsregte te beskerm. Foto: Tebogo Phaswane, Daily Sun

Boonop is die openbare uitsaaier in ’n voortdurende krisis en is die uitsaai-omgewing monopolisties, sê Rudi van As van die Onafhanklike Vervaardigersorganisasie (IPO).

Die IPO verteenwoordig meer as 80% van die land se aktiewe fliek- en televisievervaardigers en is in 2007 gestig.

Van As het Vrydag in sy voorlegging aan die portefeuljekomitee oor handel en nywerheid oor die Wysigingswetsontwerp op die Beskerming van Kunstenaars gesê die meeste onafhanklike vervaardigers sukkel om van jaar tot jaar te oorleef.

Sedert 2008 is die inflasie-aangepaste begrotings vir opdragte van uitsaaiers bykans gehalveer. Regulasies en beleid moet dus die bedryf steun om dié uitdagings te hanteer om werk te skep, sake te doen, beleggings te lok en uitvoer aan te moedig.

Van As het gewys op syfers uit die departement van handel en nywerheid se jaarlikse aansporingsverslag wat wys die belegging in fliek- en televisievervaardiging het in die boekjaar tot einde Maart vanjaar met R900 miljoen tot R2,9 miljard gedaal. Werkgeleenthede in die bedryf het met 1 647 tot 4 382 gedaal.

Van As het beswaar gemaak teen die “voorgeskrewe skriftelike kontraktuele ooreenkoms” wat met ’n kunstenaar gesluit moet word ingevolge die wysigingswetsontwerp.

Dit beteken die departement van handel en nywerheid of een of ander staatsliggaam moet verskeie kontraktuele elemente bepaal. Dit is onhaalbaar in ’n onderneming waar kontrakte ingewikkeld en hoogs spesifiek tot elke produksie is weens verskeie veranderlikes soos begrotings, gebiede, belangrikheid van die kunstenaar, ensovoorts.

Daar is ’n veralgemening van wat kunstenaars is. Dit is individue met hul eie doelwitte en wat hulle wil bereik.
Lady Zamar

Dit sal totaal onprakties wees. “Ons steun nie oorregulering deur die regering nie en is besorg dat die wet voorgeskrewe tantième wil hê wat deur die departement van handel en nywerheid vasgestel word, en dit gee mag aan amptenare wat nie kundigheid van die fliekbedryf het nie om kontrakvoorwaardes te bepaal.”

Musici lewer kommentaar

Lady Zamar, ’n sangeres en eienaar van haar eie musiekproduksiemaatskappy, Lady Zamar Entertainment, het aan die komitee gesê gestandaardiseerde kontrakte met vermaaklikheidskunstenaars sal ’n onguns doen aan die musiekbedryf en kunstenaars.

“Dit sal nie op lang termyn in die belang van die bedryf wees nie. Daar is ’n veralgemening van wat kunstenaars is. Dit is individue met hul eie doelwitte en wat hulle wil bereik.

“Kuns as geheel is iets ekspressief. Dit is gegrond op perspektief en interpretasie.

“Die morele regte van kunstenaars kom ter sprake.

“ ’n Kunstenaar kan ’n kontrak met ’n produksiemaatskappy sluit, maar kan vyf jaar later besluit om iets anders te sing as waaroor ooreengekom is, en dit verhoog die risiko vir die produksiemaatskappy.

“Kunstenaars is van nature temperamenteel.”

Lady Zamar meen 25 jaar is nie ’n lang tyd in die musiekbedryf nie. “Dis nie lank genoeg om as produksiemaatskappy jou belegging terug te kry nie.

As ontwikkelende kunstenaar neem jy altyd risiko’s.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.