Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Fluit-fluit, Musica se deuntjie is uit

Die vermaakwinkelgroep Musica maak sy deure toe.

Die uithangplek van derduisende tieners waar hulle dekades lank hul plate, kassette, CD’s en toe DVD’s gekoop het, het die einde van sy leeftyd bereik vanweë die opkoms van stromingsdienste soos Spotify, YouTube Music, Apple Music en Netflix.

Musica het probeer om te vergoed met die verkoop van platespelers en ander musiektoerusting, maar dit het duidelik nie genoeg aftrek gekry om die winkels se deure oop te hou nie.

Vikesh Ramsunder, uitvoerende hoof van Clicks, eienaar van Musica, het Donderdagoggend in ’n verklaring aangekondig die vermaakwinkels sluit almal op 31 Mei.

Musica het reeds sedert die begin van die jaar 19 takke gesluit. Die ander 59 winkels sal sluit soos hul huurkontrakte binne die volgende vier maande ten einde loop.

Die afgelope dekade het die aantal Musica-winkels egter stelselmatig gekrimp. Die 59 winkels wat nog op 1 Januarie hul deure oopgemaak het, is net 40% van die 148 wat in 2011 bestaan het.

k

Clicks het Musica in 1992 gekoop en dit was dekades lank die land se gewildste winkel vir musiek en flieks.

Verkope daal reeds verskeie jare, maar Ramsunder sê dit is versnel deur die Covid-19-pandemie.

“Musica doen nou al verskeie jare sake in ’n dalende mark vanweë die strukturele verskuiwing wêreldwyd na die digitale verbruik van musiek, flieks en speletjies, teenoor die tradisionele fisieke formaat. Die onvermydelike agteruitgang van die handelsnaam is deur die pandemie versnel, wat meegebring het dat voeteverkeer in winkelsentrums waarin Musica tipies geleë is, vinnig gedaal het.”

Werknemers in die winkels wat sedert September 2020 gesluit het, het elders by Clicks werk gekry.

Die maatskappy is daartoe verbind om alle personeellede sover moontlik elders werk te gee. Musica het tans 516 permanente werknemers.

Nog oop winkels

Clicks se besluit om Musica te sluit, beteken 18 000 m2 se winkelruimte val oop in van die land se grootste winkelsentrums.

Dit kom nadat die sluiting van tientalle winkels in die Edcon-groep, insluitend Boardmans, sekere Edgars- en CNA-winkels, Red- en Edgars Home-winkels ook derduisende vierkante meter laat oopval het.

Daarby het Stuttafords in 2018 sy deure gesluit.

Die maatskappy sal in April meer syfers oor Musica se verkope gee wanneer hy sy halfjaarresultate uitreik.

Die groep berig nou al jare lank dat Musica se wins daal, maar so onlangs as drie jaar gelede, in 2018, is berig dat elke individuele Musica-winkel nog winsgewend is.

Toe het David Kneale, vorige uitvoerende hoof, gesê hulle sal Musica se deure oophou solank die winkelgroep wins maak. 

Musica se grootste mededinger vir die verkoop van musiek, Look & Listen, het sy laaste tak in Mei 2017 gesluit.

Op die vraag waarom die maatskappy nooit ’n aanlyn Musica-winkel probeer het nie, het ’n woordvoerder gesê: “Musica is ’n klein, nalatenskap-naam in die Clicks-stal en vermaakkleinhandel is nie kern tot die groep se strategie vir gesondheid en skoonheid nie. Die maatskappy was nooit van plan om ’n groot belegging in tegnologie-kleinhandel te doen nie.

“Die sluiting van Musica sal die bestuur in staat stel om heeltemal op gesondheid en skoonheid te fokus.”

Daar was die afgelope paar jaar ’n oplewing in die verkoop van langspeelplate van vinielplastiek, maar nie genoeg om fisieke musiekwinkels aan die lewe te hou nie. Heelwat aanlyn winkels verkoop plate.

Die navorsingsfirma Statista berig die verkope van plate in die VSA het in 2020 vir die 15de agtereenvolgende jaar gestyg. In 2020 het dit met 46% tot 27,5 miljoen gestyg.

Dit verteenwoordig egter sleg sowat 3,6% van alle musiek wat in die VSA verkoop word, met digitale musiek verreweg die voorloper.

In syfers

Clicks het die Tresemmé-storm oorleef en gefloreer tydens die Covid-19-pandemie, wys die syfers wat die groep ook Donderdag uitgereik het.

Clicks het bekend gemaak dat verkope van gesondheids- en skoonheidsprodukte in sy winkels met 8% gestyg het in die 21 weke tot 24 Januarie. Dit sluit dus Swart Vrydag en Kersfees in, en sluit verkope van The Body Shop, GNC en Claire’s in.

Ondanks die Covid-19-pandemie is dit groei baie na aan die 8,7% wat in dieselfde tydperk van die vorige boekjaar behaal is.

Die tydperk het egter in September begin met die met die EFF-betogings by Clicks-winkels teen die Tresemmé-sjampoe-advertensies wat swart vroue se hare as droog en kroes beskryf het. Verskeie winkels moes hul deure uit vrees vir werknemers se veiligheid ’n paar dae lank sluit.

Totale kleinhandelverkope vir die tydperk het met net 6,5% gestyg, wat toon hoe Musica se swakker verkope die syfers afrem.

Die verkope van skoonheidsprodukte is grootliks aangedryf deur nuwe winkels. Verkope in vergelykbare winkels, wat dus ook die vorige jaar oop was, het met net 4,3% gestyg. 

Pryse binne Clicks het met 3,2% gestyg, wat minder is as die algemene inflasiekoers van 3,3% wat in Desember geheers het.

Sy groothandelafdeling, UPD, se verkope het met 10,6% gestyg. Dit word toegeskryf aan die skerp styging in die vraag na medisyne van private hospitale en onafhanklike apteke weens die tweede vlaag Covid-19-infeksies.

Die hele groep se omset het met 7,8% tot R14,6 miljard gestyg. In 2020 was die groei 10,2%.

Ramsunder  sê verkope van aanvullings soos vitamiene styg steeds skerp soos mense hul immuunstelsel probeer versterk.

Aanlyn verkope by Clicks het met 173% opgeskiet.

Ramsunder sê verkoopspatrone in Desember en Januarie was heelwat anders as in vorige jare weens die strenger inperkings. Verkope in kusgebiede was laer omdat minder Suid-Afrikaners somervakansies geneem het weens die sluiting van strande; dis ook geraak deur die uitstel van die heropening van skole van Januarie tot middel Februarie. 

Die feit dat 70% van Clicks-takke in kleiner winkelsentrums en in woongebiede is, help die groep, gegewe dat mense steeds minder geredelik winkelsentrum toe gaan.

Die groep reik sy syfers vir die ses maande tot einde Februarie op 22 April uit.

Meer oor:  Clicks  |  Musica  |  Medisyne  |  Stromingsdienste  |  Flieks  |  Tegnologie  |  Kleinhandelaars  |  Apteke  |  Kleinhandel  |  Musiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.