Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
FlySafair lek sy lippe af vir SAL se Mango

FlySafair stel daarin belang om die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) se laekoste-filiaal, Mango, te koop, sou die beleërde maatskappy besluit om daarvan ontslae te raak.

’n Boeing 737-400 van FlySafair. Foto: FlySafair

Bestuurslui van Safair het reeds die sakeredders van die SAL genader oor die moontlikheid om Mango te bekom, het Elmar Conradie, uitvoerende hoof van Safair, Dinsdag gesê.

Tot dusver is Mango nog nie deur die sakereddingsproses geraak wat reeds meegebring het dat die SAL talle vlugroetes geskrap het en nou meer as die helfte van sy arbeidsmag wil afdank nie.

Volgens Conradie het die sakereddingspraktisyns dit duidelik gemaak dat hul fokus vir eers slegs op die SAL self sal wees, veral omdat die langverwagte sakereddingsplan aan die einde van Maart gepubliseer gaan word.

“Die enigste een wat sin maak, is Mango,” sê Conradie oor die moontlikheid dat baie van die SAL se bates te koop aangebied kan word.

Om SAL Tegnies, die instandhoudingsafdeling van die SAL, te koop sou “oortollig” wees, sê Conradie, aangesien Safair reeds sy eie instandhoudingsafdeling het, Safair Operations.

Terwyl die SAL sedert 5 Desember in sakeredding geplaas is en jare gelede laas ’n wins gemaak het, is Safair nog aan’t groei.

Die laekostelugdiens, waarvan die Ierse maatskappy ASL Aviation Holdings 25% besit, bedryf tans sewe roetes in Suid-Afrika en voeg steeds nuwe vlugte by. Safair beoog om volgende week ook ’n nuwe roete tussen Johannesburg en Durban aan te kondig.

Die SAL het in Februarie aangekondig dat hy al sy plaaslike roetes behalwe vir dié tussen Kaapstad en Johannesburg skrap.

Volgens Conradie is Safair besig om sy vloot van verouderde Boeing 737-400 vliegtuie te begin opgradeer na moderne 737-800’s.

Safair het twee jaar gelede gepoog om met SA Airlink saam te smelt, maar dié planne is deur die Mededingingskommissie in die wiele gery. Indien die lugdiens ’n kans sou kry om Mango te koop, sou hy waarskynlik weer die wind van voor vanaf die mededingingsowerhede kry.

Volgens Conradie sou die behoefte aan nuwe belanghebbendes vanuit die privaat sektor vir die SAL se dienste dalk die kommissie kon paai. – Bloomberg, verwerk

Meer oor:  Mango  |  Flysafair  |  Suid-Afrikaanse Lugdiens  |  Sakeredding  |  Verkrygings  |  Lugdienste
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.