Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
FNB-kliënte hou van bank se app

FNB se 8,2 miljoen kliënte hou baie van dié bank se app.

Jacques Celliers, uitvoerende hoof van FNBFoto: Verskaf

Hulle maak dit tot soveel as 45,5 miljoen keer per maand oop om hul banksake te doen.

So sê FNB in sy resultate vir die boekjaar tot einde Junie, wat Donderdag bekend gemaak is.

FNB se resultate word as deel van FirstRand se resultate bekend gemaak.

FNB sê in ’n verklaring die verkeer op sy app was in die afgelope boekjaar 45% meer as in die vorige boekjaar.

Die gebruik van internetbankdienste het met 4% gedaal.

FNB se eWallet word nou deur 6,5 miljoen kliënte gebruik – 5% meer as in die vorige boekjaar.

In die afgelope boekjaar het kliënte R25,9 miljard in 46,1 miljoen transaksies met eWallet gestuur. Dit is groei van onderskeidelik 23% en 19%.

“Ons digitale platform bied steeds nuwe groeigeleenthede aan ons,” sê Jacques Celliers, uitvoerende hoof van FNB.

“Verkope en interaksie met kliënte hou aan groei op ons digitale platforms. Ons is verheug dat kliënte die geleentheid aangryp om op dié manier met ons te skakel,” sê hy in ’n verklaring.

FNB se wins voor belasting het in die jaar met 11% tot R25,3 miljard gegroei.

Dit is die eerste dat FNB se wins voor belasting R25 miljard oorskry. Die meeste van dié groei kom van sy bedrywighede in Suid-Afrika.

Sy genormaliseerde verdienste het ook met 11% tot R17,637 miljard gegroei.

Kleinhandelbankdienste

FNB leen nou R8,2 miljard aan kliënte in die vorm van persoonlike lenings; ’n styging van 11%.

Persoonlike lenings aan sy premiumkliënte is 49% hoër op R15 miljard.

Nie-invorderbare lenings (waar leners agtergeraak het met hul terugbetalings) het met 55% gestyg. Net ten opsigte van persoonlike lenings het dit FNB meer as R500 miljoen gekos, 63% meer as in die vorige boekjaar.

Die hoër afskrywings was te wagte, aangesien sy persoonlikeleningsboek met 36% gestyg het.

Afskrywings op kredietkaartskuld het met R330 miljoen toegeneem, en nie-invorderbare lenings het byna verdubbel. Heelparty meer kredietkaarte is uitgereik, waarvan sommige was aan kliënte wat nog nie voorheen kredietkaarte gehad het nie.

Lewensversekering

Alan Pullinger, uitvoerende hoof van FirstRand, sê die groep is veral beïndruk met hoe goed FNB se afdeling wat lewensversekering verkoop, gevaar het.

FNB het in 2017 begin om lewensversekering via sy app en ander aanlyn dienste te verkoop.

Pullinger sê FNB Life is nou die versekeraar met die tweede meeste kliënte ten opsigte van lewenspolisse in die land.

WesBank

Die syfers van WesBank, wat deel van FirstRand vorm, toon dat die getal nuwe motors wat kliënte deur dié afdeling laat finansier het, tot dieselfde vlakke as in 2011 teruggeval het.

Dit het daartoe gelei dat WesBank se genormaliseerde verdienste met 2% tot R1,8 miljard gedaal het.

FirstRand se aandeelprys het teen Donderdag 13:00 met meer as 2% hoër op R61,25 gestyg.

Meer oor:  Fnb  |  Jacques Celliers  |  App  |  Digitale Bankdienste  |  Bankdienste  |  Finansiële Dienste  |  Resultate
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.