Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
FNB vs Discovery: Bank bied dalk mediese dekking

FirstRand oorweeg dit om Discovery aan te vat deur moontlik in die toekoms ook mediese versekering te bied, nes Discovery nou ’n bank gaan oopmaak.

FNB werk aan sy aanbod van korttermyn- en lewensversekering, en daarna oorweeg hy mediese versekering.

Sam Moss, hoof van beleggersverhoudinge by FirstRand, sê dié bank spits hom tans daarop toe om inkomste uit versekering te laat groei.

Eers wil hulle hul aanbod van korttermyn- en lewensversekering groei. “Dit beteken dit is onvermydelik dat ons met al die gevestigde spelers gaan meeding, insluitend Discovery,” sê sy.

Op medium- tot lang termyn wil hulle ook mediese versekering bied, maar besonderhede daaroor is nog vaag.

Moss sê dis te vroeg om te sê watter soort mediese versekering FirstRand oorweeg – versekering soos gapingsdekking, of ’n eie mediese fonds.

Alan Pullinger, uitvoerende hoof van FirstRand, het in ’n onderhoud met Bloomberg gesê hulle wil die gesondheids- en lewensversekeringsmark binne die volgende “sewe tot agt jaar” betree en gevestigde spelers soos Discovery aanvat.

Hy het ook in die onder­houd gesê dat FirstRand Amazon wil nadoen met ’n allesomvattende digitale aanbod wat versekering, hernuwing van motorlisensies en selfs die opspoor van loodgieterdienste aanbied.

Al dié dienste moet deur hul selfoon-app beskikbaar wees en dit dus aanlyn bied, soos Amazon, eerder as om op fisieke takke staat te maak, soos Walmart.

Nuwe banke

Discovery, wat sy bank in Maart begin, is nie die enigste nuwe bank wat ons in 2019 gaan sien nie.

Bank Zero en TymeBank is die ander twee digitale banke wat oopmaak en volgens ’n berig van Reuters die banksektor op sy kop kan keer.

Die drie nuwelinge gaan na verwagting almal ’n laer koste-inkomste-verhouding hê as die groot vyf bestaande banke. Dit kan hulle die ruimte gee om die pryse van bankprodukte in Suid-Afrika te ontwrig. Die banke sê hulle wil hul tariewe laer maak as dié van bestaande banke en beter rentekoerse bied op lenings en spaargeld.

Bank Zero, wat glad nie lenings gaan bied nie, wil die kultuur van spaar aanmoedig, luidens inligting op sy webtuiste.

Die stigters sê sekere soorte langtermynkrediet kan, as dit versigtig toegepas word, tot groei lei. Wat hulle egter wil verander, is die “tipiese gedagtegang van onmiddellike bevrediging”.

Liné Wiid, ’n medestigter en finan­siële hoof, sê die bank wil mense bemagtig om te spaar. “Samelewings ly aan die siekte van onmiddellike bevrediging, ’n ingesteldheid van ‘Ek wil dit hê, ek wil dit nóú hê’. Op lang termyn is dit vernietigend omdat dit ’n kultuur van duur, verknegtende skuld laat voortbestaan.”

Wiid sê om ’n kultuur van spaar te skep, beteken om gedagtes te verander van “Ek wil ’n kar hê, ek wil duur skuld nou koop” na “Ek het ’n doel waarvoor ek wil spaar, ek wil later ’n kar koop”. Volgens haar is ’n nuwe bank nodig vir hierdie soort gedragsverandering.

Een van die maniere waarop hulle kliënte se skuldlas wil verlig, is deur maklike maniere te skep waarop “finansiële gemeenskappe” soos families, groepe vriende en sakeondernemings saam kan spaar.

Hul teikenmark is “enige iemand met ’n slimfoon” en dit sluit individue en ondernemings in.

Luidens die webtuiste kan kliënte wat tans by ander banke bank onder meer voordeel trek uit Bank Zero se beoogde laer tariewe.

Ondergebankte kliënte, meestal omdat hulle nie ’n bank in kantoorure kan besoek nie, kan toegang kry tot alle bankdienste deur die app. ’n Mens hoef nooit ’n tak te besoek nie.

TymeBank, met African Rainbow Capital as die meerderheidsaandeelhouer, sê op sy webtuiste: “Elke Suid-Afrikaner het die reg tot toegang tot toeganklike en bekostigbare bankdienste sodat hulle kan deelneem, groei en voordeel trek uit die land se ekonomie.”

Hulle wil ook Suid-Afrikaners “help om beheer oor hul geld terug te neem” deur hulle te “help verstaan hoe geld regtig werk”.

TymeBank het ’n vennootskap met Pick n Pay, wat behels dat kliënte in sekere Pick n Pay- en Boxer-winkels gratis toegang kan kry tot WiFi om tot die app toegang te kry.

Hulle kan ook geld stuur na iemand anders met ’n TymeBank-rekening en die kontant kan by ’n Pick n Pay of Boxer-kiosk onttrek word.

Nog ’n produk wat TymeBank bied, is GoalSave, wat mense in staat stel om vir tot tien verskillende doelwitte te spaar, soos ’n troue, verjaardag of vakansie. Die rente wat kliënte kan verdien, wissel van 6% tot 10% en die spaarrekening het geen koste nie.

Discovery Bank wil mense “motiveer om finansieel gesonder” te word, luidens sy webtuiste.

Nes met sy Vitality-program vir mediesefondskliënte wil die bank ook kliënte “beloon” met laer rentekoerse op lenings en hoër koerse op spaarrekeninge indien hulle sekere teikens behaal soos om vir aftrede te spaar of ’n huisverband afbetaal.

Die webtuiste beloof tot 75% afslag op vliegkaartjies en wat hulle beskou as gesonde kos, asook weeklikse belonings vir “verantwoordelike besteding”.

Meer oor:  Fnb  |  Tymebank  |  Discovery Bank  |  Bank Zero  |  Firstrand  |  Discovery  |  Sam Moss  |  Bankbedryf  |  Lewensversekering  |  Banke  |  Versekering  |  Versekeraars  |  Gapingsdekking  |  Mediese Fondse
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.