
FNB en Netcare werk saam om die bank se kliënte toegang tot basiese mediese sorg te gee. Foto: Unsplash
FNB wil sy kliënte help om ’n dokter te gaan spreek as dit nodig is.
Die bank sê Maandagoggend in ’n verklaring dat hy en die Netcare-groep nou saamwerk om dit moontlik te maak om basiese mediese sorg aan sy kliënte te bied.
NetcarePlus, ’n nuwe sake-eenheid in dié hospitaalgroep, gaan koopbewyse aanbied aan alle individue wat rekeninge by FNB se kleinhandel- en private bank of by Rand Merchant Bank (RMB) het.
Die koopbewyse kan gebruik word by meer as 500 algemene praktisyns wat deel van die landwye NetcarePlus Trusted Partner Network is.
FNB sê in die verklaring kliënte kan die koopbewys gebruik om vir ’n persoonlike of virtuele konsultasie by ’n algemene praktisyn te betaal.
“Hierdie innoverende vennootskap stel ons in staat om miljoene van ons individuele kliënte te help deur toegang tot gesondheidsorg deur middel van bekostigbare koopbewyse aan hulle te bied,” sê Lee Bromfield, uitvoerende hoof van FNB Life.
Die koopbewyse is beskikbaar op enige van FNB se platforms, soos sy bank-app en die eBucks-winkel.
Die koopbewyse wissel van R290 vir ’n virtuele konsultasie, R350 vir ’n persoonlike konsultasie met ’n algemene praktisyn en R430 vir ’n persoonlike konsultasie en vir medikasie vir ’n akute diagnose.
LEES OOK: Alle operasies by Netcare hervat
Hoe werk dit?
- ’n Individu kan een of meer van die drie verskillende NetcarePlus GP-koopbewyse op www.netcare.co.za/, NetcarePlus of op die FNB-app of deur middel van Ebucks (ebucks.com) koop. Die koopbewyskode word per SMS na die koper se selfoon gestuur. Die koopbewys is oordraagbaar. Die koper kan die kode bloot per SMS aan iemand anders stuur, wat dit dan kan gebruik.
- Identifiseer ’n geskikte dokter op die NetcarePlus-vennootlys op die NetcarePlus-webwerf.
- Skakel 0860 101 151 en maak ’n afspraak.
- NetcarePlus GP sal ’n unieke skakel via SMS vir virtuele afsprake stuur. Sou die dokter in ’n virtuele afspraak medikasie voorskryf, sal die voorskrif via e-pos gestuur word. Individue wat ’n dokter in sy/haar spreekkamer gaan spreek, moet die koopbewys as bewys van betaling aan ontvangs toon.