Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
FNB wil ook 300 kundiges aanstel

FNB gaan oor ’n week met die aktiewe werwing van 300 ekstra werknemers begin wat die bank moet help om sy digitale bankdienste en innovering te bevorder.

fnb
Jacques Celliers, uitvoerende hoof van FNB.

FNB soek 300 kundiges in ingenieurswese, tegnologie en dataontleding om sy finansiële tegnologie in die bankwese, versekering, belegging en telekommunikasie te versnel, sê die bank in ’n verklaring.

Dit volg kort op die hakke van sy mededinger Capitec se onlangse aankondiging dat hy 300 IT-kundiges wil aanstel om sy digitale bankaanbod te verbeter.

FNB is op soek na nywerheidsingenieurs, programmatuurontwikkelaars, wolkdienste-ingenieurs, kuberveiligheidspesialiste, datawetenskaplikes, stelselargitekte, toetsingenieurs, chemiese en meganiese ingenieurs, aktuarisse, sake- en stelselontleders, kliënt- en gebruikerervaringspesialiste, asook inhoud- en ontwerpspesialiste.

“Ons wil die jeug met betekenisvolle werkervaring bemagtig,” sê Jacques Celliers, uitvoerende hoof van FNB.

Die nuwe werwingspoging is volgens hom ’n inisiatief om die “breinkwyn” te verhoed waardeur kundige Suid-Afrikaners na oorsese markte uitwyk. FNB wil ook talentvolle Suid-Afrikaners wat tans oorsee werk, oortuig om na geleenthede in Afrika terug te keer.

Volgens Celliers het FNB reeds meer as 2 500 jong mense wekervaring gegee deur sedert 2018 meer as R280 miljoen in sy FirstJob-program te belê.

FNB bestuur meer as tien jaar ook al ’n hoogs suksesvolle program vir gegradueerdes en neem ná die program die meeste van die deelnemers permanent in diens.

“Sommige van dié gegradueerdes beklee nou belangrike poste in ons onderneming,” sê Celliers.

Die aansoekproses vir die jongste werwingsveldtog vir 300 nuwe kundiges begin op Maandag 9 Augustus, het FNB aangekondig.

Mense word aangemoedig om via FNB se LinkedIn-webblad aansoek te doen. Hy wil die aansoekproses so vinnig en glad as moontlik maak. Aansoekers moet ’n verkorte CV indien en sal ’n maksimum van twee onderhoude moet deurloop.

Volgens FNB het die bank al drie jaar voor die Covid-pandemie ’n kultuur van afstandswerk in van sy sakebedrywighede begin aanmoedig en die afgelope jaar het hy die pogings versnel deur verder in tegnologie en infrastruktuur te belê sodat werknemers waar moontlik van enige plek af kan werk. FNB-werknemers kan nou ’n gemengde werkmodel benut waar hulle by enige van FNB se geboue kan gaan werk, óf van die huis af óf elders, selfs ná die Covid-19-pandemie.

FNB het tans meer as 40 000 werknemers.

Capitec, met meer as 15 000 werknemers, het vroeër verlede week aangekondig hy wil oor die volgende paar maande 300 gegradueerdes asook senior beroepslui soos bedryfsontleders, ontwikkelaars, data-ingenieurs en datawetenskaplikes aanstel om sy groeiende getal kliënte beter via sy digitale platforms te kan bedien.

Meer oor:  Fnb  |  Capitec  |  Bankbedryf  |  Banke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.