Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Fokus op SA is ‘veilige’ groeistrategie vir Clicks
David Kneale, uitvoerende hoof van die Clicks-groep.

Clicks het dalk ’n bietjie schadenfreude wanneer hy kyk hoe ander kleinhandelaars hul vingers oorsee verbrand het.

Die Clicks-groep het Donderdag stewige halfjaarsyfers vir die ses maande tot einde Februarie uitgereik danksy sy strategie om op die Suid-Afrikaanse verbruiker te fokus pleks daarvan om oorsee uit te brei soos ander plaaslike kleinhandelaars die afgelope jare gedoen het.

“Net omdat ons gefokus bly op Suid-Afrika, beteken nie ons het nie groeivooruitsigte in dié land nie. Ons het ’n lang pad van groei voor ons,” sê David Kneale in ’n onderhoud oor die resultate.

“Ons het nie nodig om elders te kyk om waarde vir aandeelhouers te skep nie.”

Kneale sê Clicks se aandeelhouers kan baie ingenome wees met die Suid-Afrikaanse fokus omdat dit goeie syfers oplewer met ’n aansienlik laer risiko.

In syfers:

Die Clicks-groep sluit benewens Clicks-winkels The Body Shop, GNC, Claire’s en Musica in, asook die farmaseutiese groothandelaar UPD.

Clicks het die afgelope ses maande 24 nuwe winkels geopen en het nou 646 winkels. Daar is 20 nuwe Clicks-apteke uit ’n totaal van 493.

  • Groepomset styg met 10% tot R14,4 miljard.
  • Verwaterde wesensverdienste per aandeel styg met 14,8% tot 266,3c.
  • Bedryfswins styg met 12,2% tot R942 miljoen.
  • Bedryfswinsgrens styg van 6,4% tot 6,5%.
  • Dividend styg met 16,5% tot 102,5c per aandeel.

Dit is ’n teer punt vir plaaslike beleggers gegewe dat dit lyk asof Steinhoff se probleme dalk begin het toe die groep aggressief oorsee begin uitbrei het. En Woolworths moes verlede jaar ’n groot waarde-afskrywing doen op die verkryging van David Jones in Australië.

Kneale sê die stewige styging in Clicks se inkomste te midde van druk op verbruikers se besteebare inkomste is ’n “bewys van die mag van die Clicks-handelsnaam”.

Groepwye verkope van Clicks se kleinhandelsafdelings was 13,2% hoër as in die ooreenstemmende ses maande van die vorige boekjaar. In winkels wat ook in die vergelykbare halfjaar oop was, het verkope met 7,2% gestyg.

Daarvan het slegs 2,6% prysstygings verteenwoordig. Daar was ’n styging van 5% in die volume van verkope in vergelykbare winkels.

Kneale sê Clicks kon prysstygings laag hou omdat hy “taai onderhandel” met verskaffers, wat in ruil vir goeie pryse weet dat hul volume verkope by Clicks goed sal wees.

Kneale verwag dat prysstygings vir Clicks se voljaar ook onder 3% sal beloop.

Opvolgstrategie:

David Kneale is nou reeds meer as 12 jaar uitvoerende hoof van die Clicks-groep. Die 63-jarige Brit sê hy kan nie die vraag antwoord of hy aftreeplanne het nie, aangesien ’n aankondiging hieroor die maatskappy se verpligting is.

Hy verseker egter dat Clicks “soos alle suksesvolle maatskappye” ’n omvattende opvolgingsplan het. Hy verseker ook dat hy omring is deur ’n goeie span en dat die groep geen gebrek aan potensiële leiers het nie.

Kneale is in Januarie 2006 by Clicks aangestel. Hy was voorheen hoof van die Britse skoonheidshuis Boots.

“Ons leuse is nie verniet ‘voel goed, betaal minder’ nie.”

In Augustus is dit boonop “partytjietyd” vir Clicks-klante omdat die winkelgroep dié hele maand sy verjaardag met afslagpromosies gaan vier. Clicks word op 2 Augustus amptelik 50 jaar oud.

’n Groot deel van Clicks se sukses bly sy ClubCard-lojaliteitsprogram, waar lede met elke besoek dubbeld soveel geld as nie-lede bestee. Clicks het die afgelope jaar 950 000 nuwe ClubCard-lede gewerf en het nou nagenoeg 7,5 miljoen lede.

ClubCard is onlangs aangewys as die beste lojaliteitsprogram in die land.

Op die vraag waarom ClubCard so suksesvol is, sê Kneale dit is vanweë die program se “eenvoud en gerief”.

Kneale sê die feit dat die geld outomaties tweemaandeliks op verbruikers se kaart geplaas word en beskikbaar is om te bestee – sonder dat verbruikers self iets hoef te doen op ’n app of by ’n kiosk – maak dit gerieflik.

Hy beskryf dit ook as die “vrygewigste” lojaliteitsprogram van enige van die groot kleinhandelaars.

’n Vinnige vergelyking wys Kneale is bes moontlik reg. Vir elke R10 wat jy in Clicks bestee, kry jy 20c se punte terug. Met Pick n Pay se Smart Shopper kry jy 5c vir elke R10 terug en met Edcon se Thank U-kaart kry jy 10c vir elke R10 terug. (Die winkels gee elkeen ’n verskillende aantal punte per rand bestee, maar die punte is ook nie ewe veel werd nie.)

    Nee dankie vir CNA

    “Ons fokus is op gesondheid en skoonheid, en dit is waar dit sal bly.”

    Só antwoord David Kneale, uitvoerende hoof van Clicks, die vraag of die groep sou belang stel om CNA te koop indien die sukkelende Edcon die skryfbehoeftewinkel in die mark sou plaas.

    Clicks besit ook Musica, wat, soos CNA, musiek en tegnologie verkoop (hoewel CNA se fokus skryfbehoeftes is). Musica verteenwoordig egter net ’n klein deeltjie – en boonop ’n deel wat aan die krimp is – van Clicks se inkomste.

    Kneale het in ’n onderhoud oor Clicks se halfjaarsyfers gesê Musica se verkope het met 6,4% gedaal, maar “elke liewe Musica-winkel” is steeds winsgewend.

    Kneale sê die musiekmark is “struktureel onder druk” namate mense toenemend musiek elektronies aflaai en flieks en TV-programme deur ShowMax of Netflix stroom eerder as om DVD’s te koop.

    “Die stukrag van Musica is nou tegnologie en bykomstighede soos luidsprekers en oorfone. Dit maak nie saak hóé jy toegang kry tot musiek nie, jy het luidsprekers of oorfone nodig. Die verteenwoordig ’n al hoe groter deel van Musica se inkomste.”



    Meer oor:  Clicks  |  Kleinhandelaar  |  Apteke  |  Farmaseutiese Maatskappye  |  Skoonheid  |  Kleinhandel
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.