Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Fonds vir toerisme ‘net vir dié in swart besit’

Die beleërde toerismebedryf het nou ’n nuwe fonds waarvandaan toelaes, lenings en finansiering sal kom om die sektor weer op dreef te kry, maar die fonds is net beskikbaar vir ondernemings in swart besit.

Pres. Cyril Ramaphosa glo die toerismebedryf is een van die sleutels tot die herstel van die ekonomie, maar dit moet tegelykertyd transformasie meebring. Foto: Getty Images

Die bekendstelling van die Toerisme-ekwiteitsfonds (TEF) is die nuutste omstredenheid oor die toerismebedryf nadat voorkeur vir lenings ook in die beginfase van die Covid-19-inperkings aan ondernemings in die besit van swart en jong mense en vroue gegee is.

Die vakbond Solidariteit het die afgelope week gedreig om hof toe te gaan oor pres. Cyril Ramaphosa se vermeende onderneming dat swart ondernemings ook voordeel sal trek uit kontrakte om entstowwe te versprei.

Ramaphosa het die TEF Dinsdagmiddag op ’n virtuele aanbieding in samewerking met die departement van toerisme en van kleinsakeontwikkeling bekend gestel.

Hy het 11 keer in sy kort toespraak die woord “transformasie” gebruik.

Die regering wil nie net die toerismebedryf ondersteun ná die verwoesting van die Covid-19-pandemie nie, hy wil die bedryf in die proses gelyktydig en “dringend” transformeer.

Die fonds gaan bestuur word deur die kleinsake-finansieringsagentskap (Sefa), wat aan die departement van kleinsakeontwikkeling verslag doen.

Die fonds het reeds meer as R1,2 miljard se finansiering ontvang. Hiervan is R540 miljoen te danke aan die departement van toerisme, R120 miljoen vanaf Sefa self, en R594 miljoen van handelsbanke wat ook verdere lenings aan kwalifiserende ondernemings sal aanbied wat meer as net toelaes of klein lenings van die fonds wil bekom.

Om te kwalifiseer vir toelaes of lenings van die fonds, sal ’n toerismeonderneming egter minstens 51% in swart besit moet wees, sê Mmamoloko Kubayi-Ngubane, minister van toerisme.

Toerisme in Suid-Afrika is verantwoordelik vir 2,9% van die bruto binnelandse produk (BBP), sê Ramaphosa.

Onregstreeks is dit verantwoordelik vir 8,6% van die BBP en die bedryf neem regstreeks en onregstreeks 1,5 miljoen mense in diens.

“Maar dis nie naastenby genoeg nie,” sê Ramaphosa. “Dit is ook een van die ekonomiese segmente wat ’n deurslaggewende rol kan speel in die transformasie van die ekonomie en kan bydra tot veranderende patrone van eienaarskap, bestuur en beheer.

“As die toerismesektor ’n rol wil speel om die ekonomiese herstel ná Covid-19 te help, moet hy groei én transformeer.

“Dié fonds gaan daartoe bydra dat die sektor groei, maar terselfdertyd moet dit transformeer.”

Ondernemings wat besit word deur vroue en mense met gestremdhede gaan ook gehelp word.

“Die fonds strook ook met die nasionale toerismestrategie vir 2016-’26, wat beduidende klem lê op ’n transformatiewe en inklusiewe toerisme-ekonomie.”

Hy sê die tyd vir swart toerismeondernemings en landelike en plakkerskamptoerisme het nou aangebreek.

“Die TEF word gerig deur die erkenning dat die kapitaalintensiewe aard van die bedryf baie toerismeondernemings in swart besit verhinder om te groei en te ontwikkel,” verduidelik Ramaphosa.

“Deur toegang te gee tot finansiering vir kommersieel lewensvatbare toerismeprojekte in swart besit, is die TEF van plan om dié uitdaging die hoof te bied.”

Kubayi-Ngubane sê die private sektor het goed gedoen om die bedryf te kry waar hy nou is, maar nou moet die regering intree.

“Die private sektor het uitstekende werk gedoen om die sektor te ontwikkel en te belê om ons natuurlike hulpbronne in ekonomiese bates vir die land te omskep. Daar moet egter nog baie gedoen word om nuwe beleggings te stimuleer en die potensiaal wat nog onontgin is in die toerismesektor van ons land, ten volle te benut,” sê sy.

Sy reken die transformasie van die bedryf sal beteken dat daar baie meer diversiteit in die sektor kom in terme van die aanbieding van toerismeondernemings en -dienste.

Maar sy erken ook dat die proses van transformasie nie maklik was oor die afgelope 25 jaar nie, en dat dit waarskynlik nie makliker gaan word nie.

Die fonds is oop vir aansoeke vir finansiering en lenings.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.