Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
SAL-sakeredding: Solidariteit is haastig

’n Berig op die nuuswebblad Africa News 24-7 dat die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) Dinsdagmiddag al in sakeredding geplaas sou word, het joernaliste en regeringswoordvoerders Woensdag op hol gehad.

saa
Verlate inboektoonbanke van die Suid-Afrikaanse Lugdiens by die Kaapstad Internasionale Lughawe tydens die staking verlede maand. Foto: Jenni Evans

Die vakbonde Solidariteit en Satawu het geen kennis gedra van so ’n stap nie. Solidariteit versoek wel dat hul aansoek om sakeredding teen 13 Desember aangehoor word, voordat die hofreses begin.

Connie Mulder, hoof van Solidariteit se Navorsingsinstituut wat betrokke is by Solidariteit se aansoek om die SAL in sakeredding te plaas, sê hulle is nog besig met die proses.

Tlali Tlali, SAL-woordvoerder, sê die hofstukke is nog nie eens ingedien nie.

Sam Mkhokeli, woordvoerder van die departement van openbare ondernemings onder wie se toesig die SAl val, was ook uit die veld geslaan toe hy van die brokkie nuus verneem.

Africa News 24-7 het al Dinsdag die nuusbrokkie uitgestuur waarin hulle beweer betroubare bronne het aangedui die lugdiens sou al Dinsdagmiddag in sakeredding geplaas word.

Dit is egter ’n lang hofproses, waarin ’n regter eers oortuig moet word van die lewensvatbaarheid van die sakereddingsproses om ’n sukkelende maatskappy te laat oorleef en van bankrotskap te red.

Mulder het Woensdag gesê hulle het nou eers die aansoek in die saakbestuur-proses – dit is waar die regter met al die betrokke partye sit en ooreenkom wanneer daar op die hofrol plek gaan wees vir die saak.

Hermann
Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van die Solidariteit Beweging. Foto: Lisa Hnatowicz

Dr. Dirk Hermann, bedryfshoof van Solidariteit, het Woensdagmiddag verduidelik die regspanne van die vakbond, van die SAL en van Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, het wel vroeër die dag by die kantoor van die regterpresident van Gauteng in Johannesburg vergader.

Die vergadering was oor die prosesse wat gevolg sal word met Solidariteit se aansoek dat die SAL in sakeredding geplaas word.

“Die partye het ooreengekom die saak is dringend. Die vergadering is tot Donderdagoggend uitgestel. Ons sal hopelik dan weet of die saak vandeesmaand nog aangehoor sal word. Solidariteit vra dat die saak nog voor die hofreses wat op 13 Desember begin aangehoor word,” sê Hermann.

Dit blyk Africa News 24-7 is deel van die Kusema Media Group, wat deur die omstrede sakeman Kenny Kunene begin is. Die nuusdiens is in 2018 ook al uitgevang dat hy fopnuus publiseer het toe hy berig het oor beweerde kontrakte wat die inligtingstegnologiegroep EOH met Eskom sou gehad het wat glo nie aan minimum vereistes voldoen het nie. ITWeb het destyds berig die webblad moes verskoning vra omdat sy anonieme bron waarop die berig gegrond was misleidende en vals inligting verskaf het.

Sakeredding is ’n relatief nuwe proses ingevolge die Maatskappyewet waar ’n onderneming wat gevaar loop om bankrot te speel, deur ’n hof onder die toesig van ’n sakereddingspraktisyn geplaas word. Die onderneming is dan onder administrasie van die sakereddingspraktisyn wat moet sorg dat die onderneming uit sy penarie bestuur word. Die praktisyn moet binne 10 dae van die stap besluit of die onderneming gered kan word of nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.