Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Afleggings: Ford SA kan nog niks sê nie

Twee groot motorvervaardigers het Donderdag aangekondig dat hulle duisende mense in Europa gaan aflê.

Ford se hoofkantoor in Brittanje en Ford Credit se hoofkantoor gaan op een perseel saamgesnoer word.

Ford gaan die produksie van sy C-Max-veeldoelvoertug staak, wat meer as 6 000 mense se werk by ’n fabriek in Saarlouis, Duitsland, raak. Dis glo omdat al hoe minder mense groot motors wil hê weens hul hoër brandstofverbruik.

Die maatskappy heroorweeg ’n gesamentlike vennootskap in Rusland en wil die produksie van outomatiese motors in Bordeaux, Frankryk, staak.

Ford se hoofkantoor in Brittanje en Ford Credit se hoofkantoor gaan op een perseel saamgesnoer word.

Ford het op die oomblik 53 000 werknemers in Europa. Hoewel hy nie getalle bekend gemaak het nie, gaan afleggings “in die duisende” beloop, het Steven Armstrong, president van Ford in Europa, die Midde-Ooste en Afrika, op ’n nuuskonferensie gesê.

Die plan is om sover moontlik vrywillige skeidingspakkette te gebruik, het die maatskappy in ’n verklaring gesê.

Duduzile Nxele, Ford Motors Suid-Afrika se hoof van korporatiewe kommunikasie, het as volg op navrae gereageer oor hoe dit die firma in Suid-Afrika raak: “Ons werk steeds aan die herorganisering van ons wêreldwye arbeidsmag om die maatskappy se strategiese doelwitte te ondersteun, ’n meer dinamiese en bemagtigende werkomgewing te skep, en fikser te word as ’n onderneming.

“Wat Suid-Afrika betref, is daar op die oomblik niks om aan te kondig nie.”

Ford Europa het in die derde kwartaal van sy boekjaar ’n verlies van €245 miljoen voor rente en belasting gely.

'n Land Rover Discovery met 'n meer modieuse ontwerp. Foto’s: Motorpress

Jaguar Land Rover, Brittanje se grootste motorvervaardiger, het aangekondig dat hy 4 500 mense gaan aflê. Dis nagenoeg 10% van sy wêreldwye arbeidsmag.

Faktore wat Europese motorvervaardigers knou, is die verlangsaming van ekonomiese groei in China, onsekerheid onder Britse verbruikers weens die naderende Brexit, en selfs ’n dreigende resessie in Duitsland, die vasteland se grootste motormark.

Motorverkope in Duitsland het in Desember met 7,6% gedaal vergeleke met November, terwyl China pas die eerste jaardaling in motorverkope in 20 jaar aangekondig het, van 6%.

Volkswagen het vroeër gewaarsku dat hy besnoeiings sal moet doen te midde van “enorme uitdagings”.

Bykomende bronne: Bloomberg, Reuters

Meer oor:  Ford  |  Brexit  |  Jaguar Land Rover  |  Voertuie  |  Motorverkope  |  Afleggings  |  Motors  |  Motorvervaardigers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.