Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Ford Kuga: Skikkings uitbetaal, maar hofsake dreig

Die meeste motoriste wie se Ford Kuga weens ’n fabrieksfout aan die brand geslaan het, is nou finaal vergoed. Drie hofsake is egter steeds hangend daaroor.

'n Ford Kuga wat in Durban aan die brand geslaan het. Foto: Zwakele Mncwango‚ Facebook

Die Nasionale Verbruikerskommissie (NVK) het bekend gemaak die skikking waartoe Ford ingestem het, is nou uitbetaal.

Volgens die NVK het altesame 56 Kugas wat van 2014 tot 2017 vervaardig is, in Suid-Afrika aan die brand geslaan weens oorverhitting van die enjin, wat skade aan die motors veroorsaak het. Die probleem was beperk tot die Ford Kuga 1.6-liter-EcoBoost.

Minstens een mens, Reshall Jimmy (33), is dood toe sy Ford Kuga in 2015 naby Knysna aan die brand geslaan het.

Ford het ingestem tot ’n boete van R3,5 miljoen en ’n skikking waarin hy elke verbruiker R50 000 as vergoeding betaal.

Verbruikers het die opsie gehad om ’n eis vir dié vergoeding, sowel as vir vergoeding van enige los artikels in die motor wat ook beskadig is, in te dien of om ’n hofsaak op hul eie koste te begin om skadevergoeding te eis.

Volgens die kommissie het 76 mense hom genader wat gevoel het hulle is geraak. Uiteindelik is dit tot 53 eise verminder.

Hiervan het 47 mense die vergoeding geëis en Ford het altesame R2 509 179 aan hulle uitbetaal. Dit sluit verliese vir los artikels in.

Drie mense het aangedui dat hulle eerder hofsake oorweeg.

Nog drie mense se eis is verwerp omdat hulle nie kon bewys dat dit wel binne die omvang van die skikkingsooreenkoms val nie.

Adv. Terry Motau het as bemiddelaar opgetree.

Thezi Mabuza, waarnemende kommissaris van die NVK, het haar waardering uitgespreek vir verbruikers se samewerking en geduld tydens die proses. Sy het Ford se verteenwoordigers en Motau ook bedank.

Ford het meer as 4 670 van die motors wat van Desember 2012 tot Februarie 2014 vervaardig is, in Januarie 2017 herroep vir herstelwerk om die probleem reg te maak.

Sover bekend is niemand benewens Jimmy dood of beseer nie. ’n Geregtelike doodsondersoek het eers in Junie vanjaar beslis hy is dood nadat hy waarskynlik deur gasse weens die brand oorval is en daarom nie betyds uit die voertuig kon kom nie. Regter Robert Henney van die hooggeregshof in Kaapstad het bevind geen misdaad is gepleeg waarvoor iemand aanspreeklik gehou kan word nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.