Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Ford stel nóg 1 200 aan by aanleg in Pretoria
Werkers vier die instel van ’n derde skof by Ford se Silverton-aanleg in Pretoria. Foto’s: FORD

Die groeiende vraag na Ford se nuwe Ranger, Ranger Raptor en Everest-voertuie het die motorgroep genoop om ’n derde skof by sy aanleg in Silverton in Pretoria in te stel.

Die skof begin in Augustus en sal 1 200 ekstra werkgeleenthede by die aanleg skep.

Dit sal Ford se totale werkmag in Suid-Afrika tot sowat 5 500 verhoog, het die groep Woensdag in ’n verklaring laat weet.

Dit sal ook verskaffer-maatskappye woema gee want hulle sal sowat 10 000 ekstra mense in diens moet neem. In die totale waardeketting van Ford se plaaslike voertuigmonteringsbedrywighede sal sowat 60 000 werkgeleenthede nou in stand gehou kan word, meen die groep.

Ockert Berry, vise-president vir bedrywighede van Ford in die Midde-Ooste en Afrika, sê sy belegging van R3 miljard in sy Suid-Afrikaanse aanlegte in 2017 begin nou vrugte afwerp.

Die groep sal nou 720 voertuie per dag kan vervaardig teenoor ’n produksievermoë van 506 tans. Ford se omset verteenwoordig 1% van Suid-Afrika se bruto binnelandse produk.

Die belegging sal Ford se produksievermoë van 124 000 voertuie per jaar tot 168 000 opstoot. Dit is 44 000 meer voertuie as voor die uitbreiding en 58 000 meer as die oorspronklike Ranger-produksieprogram toe dit in 2011 begin is.

’n Bakkie se bakwerk op pad om op ’n onderstel gemonteer te word.
Werkers besig met die afronding aan ’n Ford Ranger-bakkie.

Tans word meer as 400 voertuie per dag by die Silverton-aanleg gemonteer, teen een nuwe voertuig elke 94 sekondes, of 33 per uur. Twee derdes van die voertuie word uitgevoer na 148 lande. Die res word verkoop deur Ford se 133 handelaars in Suid-Afrika, Namibië, Botswana en Swaziland.

Daar sal van Maandae tot Donderdae ’n 24-uur-drieskof-werkskedule by die Silverton-aanleg wees, met ’n ekstra derde skof op Vrydae op bystand beskikbaar in geval van enige probleme in die produksieskedule.

Ford het in April vanjaar begin om sy Ranger en Ranger Raptor-bakkies deur die hawe van Port Elizabeth uit te voer weens die opeenhopings in die Durbanse hawe. Ford gebruik Transnet se spoornetwerk om die bakkies van Silverton na Port Elizabeth te vervoer. Sowat 1 000 Ranger-bakkies word per maand per spoor na die Baai vervoer.

By sy Struandale-aanleg in Port Elizabeth vervaardig Ford twee soorte dieselenjins vir uitgesoekte Ranger- en Everest-modelle. Die Struandale-aanleg vervaardig ook komponente vir ander enjins wat na Thailand en Argentinië uitgevoer word benewens vir die Silverton-aanleg, asook volledige enjins na Noord-Amerika, China en Europa.

Neale Hill, besturende direkteur van Ford in Suider-Afrika, sê die Ranger-program is uiters suksesvol en die 500 000ste eenheid is in Augustus verlede jaar vervaardig.

Meer oor:  Ford  |  Motorverkope  |  Motors  |  Ford Ranger
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.