Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Foschini begin feestyd met sterk Oktober
’n Leë vertoonvenster van ’n Foschini-winkel tydens die eerste deel van die inperking toe klerewinkels se deure gesluit moes wees Foto: Nellie Brand-Jonker

Die stewige styging in verkope van 8% in Oktober in Suid-Afrika wat die Foschini-groep (TFG) aangemeld het te midde van die swak ekonomie en voortslepende koronaviruspandemie, het beleggers verheug.

Sy aandeelprys het Donderdagoggend in ’n stadium met meer as 6% gestyg en het ook bygedra tot ’n sterk styging wat in ander kleinhandelaars se aandeelpryse gesien is.

TFG, wat Foschini, Markham, Sportscene, Totalsports, Exact, Fabiani, AmericanSwiss, Sterns en @home besit, het Donderdag sy resultate vir die halfjaar tot einde September uitgereik.

Anthony Thunström, uitvoerende hoof van die groep, sê verkope het in Oktober, nadat die halfjaar geëindig het, met 8% in Afrika gestyg, met verkope in kontant wat baie skerp met 25% gestyg het.

Dit sluit die 382 Jet-winkels in wat TFG einde van sy halfjaar by Edcon oorgeneem het, maar volgens hom is die verkope steeds sterk uitgesluit dié verkryging.

Dit het beleggers ’n beter idee gegee van hoe klere en ander produkte ná September gevaar het omdat die meeste genoteerde winkelgroepe se resultate tot einde September is.

“Die nuus vir die kleinhandelaars blyk om beter te wees as wat die verwagting van die mark was oor die omstandighede waarin hierdie maatskappye hulle bevind,” sê Hannes van den Berg, portefeuljebestuurder van Ninety One Batebestuur, oor die stewige styging in die aandeelprys.

Hy sê TFG se mees onlangse momentum (die laaste twee maande) met sy omset is baie bevredigend omdat dit wil lyk of hul kleinhandel in Suid-Afrika begin stabiliseer.

“Wat ook uitstaan in TFG se resultate is die vooruitsigte vir die Jet-transaksie wat die groep onlangs teen ’n baie goeie prys bekom het. Dit gee TFG toegang tot baie nuwe afsetpunte en sal die groep verdere markaandeel in ’n nuwe marksegment gee.”

Beleggers kon vir die eerste keer in jare weer meer hoor oor JET se finansiële inligting, wat TFG vir R333 miljoen gekoop het. Die winkelgroep was deel van Edcon wat in sakeredding is en ’n geruime tyd nie meer sy finansiële resultate uitreik nie.

Jan Meintjes, portefeuljebestuurder van Denker Capital, sê die transaksie met Jet het op ’n baie goeie tyd vir TFG gekom. TFG het Jet in September van Edcon verkry.

“Formele drag is onder baie druk en die kleinhandelaars wat op die waardesegment fokus (soos Pepkor en Mr Price) vaar baie goed. Ek dink TFG gaan baie goed vaar met dié transaksie.”

Verbruikers soek nie nou “bling”

TFG se resultate gee ook ’n goeie aanduiding aan beleggers oor wat verbruikers in Suid-Afrika koop, danksy die verskeidenheid winkels wat hy besit.

TFG Africa (wat Brittanje en Australië uitsluit) se omset het in die halfjaar met 22% tot R8,2 miljard gedaal.

Die grootste daling in die halfjaar is van juweliersware wat met 41% gedaal het, gevolg deur grimering en skoonheidsprodukte wat met 34% gedaal het.

Klereverkope het met 25% gedaal en huisware met 10%.

Die enigste styging onder sy produkkategorieë was van selfoonprodukte en tegnologie.

Die daling in klereverkope is deels toegeskryf aan die afname in die vraag na werkklere en formele klere tydens die inperking.

Volgens Ntuli is ’n wesenlike verbetering in die tweede kwartaal in omset gesien nadat verkope stelselmatig elke maand herstel het.

By TFG Africa het verkope in die eerste kwartaal met 38% geval, en met net 5,8% in die tweede kwartaal.

“In Afrika het omset in September onveranderd gebly van verlede jaar, wat ’n merkwaardige vertoning is.”

Foschini

Inperking knou wins baie

TFG het R5 miljard se omset in geheel verloor in die halfjaar tot einde September weens die inperkings wêreldwyd.

Bongiwe Ntuli, finansiële hoof, sê die handel is erg benadeel deur agt weke se omset wat verloor is weens winkels wat gesluit moes word tydens die inperking.

Die groep se omset het in die halfjaar met 26% tot R12 miljard gedaal.

Winsmarges is geknou weens die toestande wat tot meer promosies gelei het en voorraad wat afgeskryf moes word.

Sy wins vir die halfjaar het met 66% gedaal van die ooreenstemmende tydperk se R1,2 miljard tot R416,3 miljoen.

Sy wins is ook geraak deur ’n laer terugbetaalkoers op winkelkaartskuld omdat verbruikers minder skuld betaal het tydens die inperking.

Die daling in wins kom nieteenstaande die groep se bedryfsuitgawes wat met 22% gedaal het. Dit is toegeskryf aan personeel- en huurkoste wat gedaal het, en baie streng kostebeheer.

Huurkoste het met 8% gedaal nadat verhuurders verligting van R301 miljoen gegee is.

Sy personeelkoste het ook skerp gedaal omdat salarisse met die subsidies wat die regerings verskaf het, aangevul kon word.

Ander koste het met 28% gedaal, onder meer danksy besparings op reis en bemarking.

Soos verwag is geen tussentydse dividend verklaar nie weens die swak ekonomie en die onsekerheid wat die pandemie nog inhou.

Vergeleke daarmee het aandeelhouers verlede jaar 335c per aandeel gekry.

Sy kontant uit bedrywighede het R4,9 miljard beloop in die halfjaar.

TFG het ’n regte-uitgifte in die halfjaar gehou om R3,8 miljard in te samel.

Skuld van R4,2 miljard is terugbetaal. Dit het sy skuldlas van R8,3 miljard einde Maart tot R2,2 miljard verlaag.

Meer oor:  Jet  |  Tfg  |  Foschini  |  Kleinhandelaars  |  Klerekleinhandel  |  Klerewinkels  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.