
Die Foschini-groep het Jet gekoop.
Die Foschini-groep gaan “sekere kommersiële lewensvatbare winkels en geselekteerde bates” van Jet vir R480 miljoen koop.
Foschini het Maandagoggend in ’n verklaring op die JSE se nuusdiens Sens gesê hy het dié aanbod op 10 Junie aan Edcon gemaak het.
Dit volg minder as ’n maand nadat Anthony Thunström, uitvoerende hoof, ontken het dat die maatskappy in die Edcon-groep of dele van die groep soos Edgars en Jet belangstel.
“Ons het geen belangstelling nie. Dit pas nie strategies by ons in nie,” het hy toe gesê.
Edcon, wat tans in sakeredding is, besit Jet en Edgars.
Piers Marsden en Lance Schapiro, die sakeredders wat by Edcon aangestel is, het vroeg in Junie al gesê daar word dringend na kopers vir Jet en Edgars gesoek. Hulle het toe gesê dat sowat 15 kopers glo in dié winkels belangstel.
LEES OOK: 15 kopers stel in Edgars, Jet belang
Foschini sê luidens die maatskappyewet het Edcon se sakereddingspraktisyns sy voorlopige aanbod aanvaar.
“Die Foschini-groep het eksklusiwiteit gekry om die voorwaardes te onderhandel en te finaliseer en die voorgestelde transaksie af te handel,” lui die verklaring.
“Die voorgestelde transaksie sal ook die oordrag van geselekteerde sleutelbestuurders en personeel van Jet insluit.”
Luidens die voorgestelde transaksie koop Foschini die volgende:
- Die Jet-handelsnaam;
- ’n Minimum van 371 kommersieel lewensvatbare Jet-winkels;
- ’n Verspreidingsentrum in Durban, asook sommige winkels in Botswana, Lesotho, Namibië en Eswatini;
- Eiendom en toerusting wat verband hou met die winkels en verspreidingsentrum;
- Alle regte vir die Jet Club; en
- Alle bestaande voorraad met ’n minimum waarde van R800 miljoen.
Die voorgestelde transaksie is onderhewig aan die gebruiklike voorwaardes vir ’n transaksies van hierdie aard, insluitend die heronderhandeling van winkelhuurkontrakte, die goedkeuring deur die direksie van die Foschini-groep en die goedkeuring deur die betrokke regulerende owerhede.