Die Foschini-groep het die groen lig van die Mededingingskommissie gekry om Jet by Edcon te koop.

Jet word eersdaags deel van TFG, wat onder meer Foschini en Donna besit.
Dis onderhewig aan voorwaardes wat insluit dat duisende mense se werk beskerm word.
Die Mededingingskommissie het aanbeveel dat die Mededingingstribunaal die transaksie voorwaardelik goedkeur.
Edcon is einde April in sakeredding geplaas nadat sy reeds benarde geldsake drasties agteruitgegaan het, ook weens die nasionale staat van inperking vir die Covid-19-pandemie.
Die kommissie het bevind dat die voorgestelde transaksie onwaarskynlik sal lei tot ’n wesenlike vermindering of voorkoming van mededinging in die mark waarin Jet en The Foschini Group (TFG) sake doen.
Jet word beskryf as ’n “afslag”-afdelingswinkel, terwyl TFG se talle winkels fokus op die mark wat waarde soek en op hoër-inkomstegroepe. TFG besit benewens Foschini onder meer Sportscene, Donna, Totalsports, @home, American Swiss en Sterns.
Die kommissie en die partye wat by die samesmelting betrokke is, het op die voorwaardes vir die goedkeuring ooreengekom.
“Die voorwaardes gaan verseker dat die partye ten minste 381 Jet-winkels behou en ten minste 4 664 personeel van Jet in diens hou.”
Die partye het hulle ook verbind daartoe om “pogings aan te wend om die getal Jet-winkels ná die samesmelting uit te brei”, lui ’n verklaring van die Mededingingskommissie.
TFG moet ook voorkeur gee aan Edcon-personeel wanneer vakatures in Jet gevul word vir ’n tydperk van drie jaar vanaf die verkrygingsdatum af.
Die groep het hom ook daartoe verbind om sy aankope van plaaslike klerefabrieke vorentoe te verhoog.
Edcon het toe die sakeredding begin het 17 292 heeltydse werknemers en sowat 5 000 tydelike werknemers gehad.
Sowat 5 200 poste word by die Edcon-groep gered danksy Retailability, wat van die Edgars-winkels oorneem.
Dié verkoopstransaksie het vandeesweek in werking getree.
Die transaksie verseker dat sowat 120 winkels na Retailability oorgedra word. Voorheen is berig dit is 131, maar sekere winkels is toe nié suksesvol oorgedra nie – onder hulle die Edgars by die Victoria & Alfred Waterfront wat toegemaak het omdat huurkontrakte nie suksesvol herbeding kon word nie.
’n Afleggingsproses is reeds ’n paar maande gelede met al die Edgars-werknemers begin. Die oortollige werknemers wat oorbly wanneer al die winkels verkoop is, gaan afgelê word.