Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Franse opstande hou ryk klante van Richemont weg

Die opstande einde verlede jaar in Frankryk het die luuksegoederegroep Richemont se verkope in Europa geknou.

Parys se strate in Desember verlede jaar: Die polisie vorm ’n versperring in ’n straat langs ’n Cartier-winkel om betogers te keer. Foto: Bloomberg

Die eienaar van Cartier het Vrydag in ’n handelsverklaring oor die derde kwartaal in sy boekjaar gesê die betogings het ’n negatiewe impak op toerisme gehad en het veroorsaak dat winkels ses Saterdae agtereenvolgens moes sluit.

Buite die twee ondernemings Yoox Net-A-Porter (YNAP) en Watchfinder.co.uk, wat sedert verlede jaar by sy resultate ingesluit word, het Richemont se verkope in Europa gedaal.

Volgens Reuters verdien Richemont net 6% van sy inkomste in Frankryk, en is hy nie so blootgestel aan die gebeure in die land soos sy mededingers Hermes en LVMH wat na verwagting nog erger deur die opstande geraak is nie.

Talle betogings het laat verlede jaar in Frankryk voorgekom. Dit was aanvanklik weens die laerinkomstegroepe se woede oor die styging in brandstofpryse, maar dit het later tot die algemene ontevredenheid met die regering uitgekring.

Behalwe vir die laer verkope in Europa en die streke Afrika en die Midde-Ooste, het die verkope elders goed vertoon.

YNAP en Watchfinder uitgesluit, het die verkope met 5% gestyg teen dieselde wisselkoers as wat in die ooreenstemmende tydperk in die vorige jaar gegeld het. Met YNAP en Watchfinder ingesluit, het die verkope in die kwartaal met 24% tot 3,9 miljard gestyg.

Die dubbelsyfergroei in China het die swak verkope van horlosies in Hongkong teengewerk.

Volgens Richemont het verkopegroei in Hongkong verlangsaam weens die Hongkong-dollar se versterking teenoor die Chinese vasteland se yuan, wat veroorsaak het dat toeriste minder luukse produkte in Hongkong gekoop het.

Die groei in Asië en die Stille Oseaan-gebied van 10% is danksy dubbelsyfergroei in China en groei in ander belangrike markte.

Richemont rapporteer nou ook aanlyn verkope. Vergeleke met die laaste kwartaal van 2017 toe aanlyn verkope net 59 miljoen bygedra het, het dit in die ooreenstemmende kwartaal in 2018 sowat 694 miljoen bygedra.

YNAP het dubbelsyfergroei in alle streke getoon terwyl Watchfinder se verkope matiger gegroei het.

Die meeste van sy verkope is steeds aan die kleinhandel (2 miljard) met 1,17 miljard se verkope aan die groothandel.

Verkope van juweliersware het met 8% tot 1,98 miljard gestyg. Die horlosies wat deur sy spesialis-horlosiemakers vervaardig word, het teen huidige wisselkoerse met net 1% tot 790 miljoen gestyg.

Dit is deels toegeskryf aan die impak wat die verkoop van Lancel gehad het.

Die ongunstige wisselkoersbewegings het verkope in die Midde-Ooste en Afrika met 13% verminder.

Richemont se aandeelprys was Vrydagmiddag vroeg 1,3% hoër op R94,75.

Meer oor:  Richemont  |  Frankryk  |  Betogings  |  Toerisme  |  Kleinhandelverkope
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.