Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Fris dividend vir Bidvest-aandeelhouers
Die Wes-Kaapse hoofkantoor van Bidvest Waltons in Woodstock, Kaapstad. Bidvest besit sedert 1997 die skryfbehoefte-onderneming Waltons wat in 1949 in Kaapstad gestig is. Waltons se handelstoestande was in die afgelope boekjaar taai, het Bidvest Maandag gesê.

Bidvest se aandeelhouers kan juig danksy die groep se slotdividend wat 14% hoër is as verlede jaar s’n.

Die gediversifiseerde nywerheidsgroep, wat vanjaar 30 jaar oud is, het ’n slotdividend van R3,01 per aandeel verklaar, wat die jaardividend op R5,56 te staan bring.

Bidvest, wat deur die veteraan-entrepreneur Brian Joffe gestig is, kon te midde van ’n moeilike ekonomiese en bedryfsomgewing sy wesensverdienste vir die boekjaar tot einde Junie met 11,9% tot R4,1 miljard verhoog.

Dit wys Bidvest se bedryfsmodel is ná 30 jaar steeds relevant vir sy kliënte, het Lindsay Ralphs, uitvoerende hoof, gesê.

Vyf van Bidvest se sewe bedryfseenhede het blink winsgroei getoon, maar die motor- en elektriese afdelings se winssyfers het gekrimp.

Bidvest Automotive se handelswins het met R61,2 miljoen tot R602,1 miljoen gekrimp. Hoewel sy McCarthy-motorhandelaarsbedryf meer nuwe voertuie verkoop as die res van die bedryf, was marges onder druk, met aansienlike druk op die luukse segment.

Dis veral Bidvest Car Rental se omset, kostebeheer en vlootbestuur wat teleurstellend was, en wat tot die aansienlike daling in handelswins bygedra het. Dié onderneming word tans hersien, het Bidvest in sy kommentaar op die jaarresultate gewaarsku.

Bidvest Electrical se bedryfswins het met 14,3% gekrimp te midde van die uitdagende toestande in die boubedryf en die ernstige insinking wat die groot konstruksiemaatskappye ervaar.

Bidvest Namibia, waarin Bidvest ’n belang van 52% het, het ook vrotterig gevaar, met omset en handelswins onderskeidelik 10,9% en 12,9% laer. Bidfish het ’n bedryfsverlies gely weens laer volumes, ’n skerp afname in pryse, hoër belastings en heffings, asook valutaverliese.

Bidvest se eiendomsbeleggings het op sy beurt goed gevaar en handelswins met 11% verhoog.

Bidvest het ook goeie winssyfers verdien uit sy beleggings in die farmaseutiese groep Adcock Ingram en die lugdiensmaatskappy Comair, hoewel die wins nie deurgespoel het na beter markwaardes van die twee beleggings nie. Bidvest besit 38,4% van Adcock en 27,2% van Comair.

Meer oor:  Bidvest  |  Mccarthy  |  Motorhandel  |  Motorhuur  |  Motors
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.