Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
AVI sukkel met verkope van koffie en koekies

Wakker verbruikers het dalk agtergekom dat Frisco- en Douwe Egberts-kitskoffie einde verlede jaar plek-plek goedkoper geword het.

Frisco is een van die koffies in AVI se stal, saam met House of Coffees, Douwe Egberts en die invoerregte vir Lavazza.

Die verlaging van sy voorgestelde kleinhandelspryse op kitskoffie is een van die drastiese stappe wat die genoteerde maatskappy AVI in ’n uiters mededingende mark moes instel om markaandeel te behou. Hoewel hy sy wins op sy koffie verlaag het, het dit gehelp om verbruikers getrou te hou aan dié handelsname.

AVI besit of versprei onder meer Five Roses-tee, Freshpak-rooibostee, Bakers-produkte soos Provita, I&J, Green Cross-skoene en Yardley-skoonheidsprodukte.

In syfers
  • Inkomste styg met 1,9% tot R13,44 miljard
  • Bedryfswins styg met 7% tot R2,55 miljard
  • Wesensverdienste styg met 7,8% tot R1,77 miljard
  • Wesensverdienste per aandeel styg met 7% tot 543,1c
  • Finale dividend van 260c per aandeel bring die totale dividend vir die jaar op 435c te staan; 7,4% meer as verlede jaar
  • ’n Spesiale dividend van 250c per aandeel word uitgekeer

Die groep se inkomste het in die boekjaar tot einde Junie met net 1,9% tot R13,44 miljard gestyg, maar sy bedryfswins het met 7% tot R2,55 miljard gestyg. Die winsstyging is grootliks te danke aan herstrukturering in die vorige boekjaar wat tot laer koste in die nuwe boekjaar gelei het.

Die maatskappy het aandeelhouers met ’n dividend van 435c per aandeel sowel as ’n spesiale dividend van 250c per aandeel beloon.

AVI moet heelparty produkte invoer en het die afgelope jaar uit die sterker rand voordeel getrek. Die rand het eers in die laaste maand van die boekjaar, Junie, begin verswak.

Die maatskappy sê die styging in belasting op toegevoegde waarde, brandstofpryse en hoër werkloosheid plaas verbruikers onder erge druk, wat die groep se syfers nie net in dié boekjaar geraak het nie, maar gaan voortsleep.

Aandeelprys

AVI se aandeelprys het Maandag teen 10:30 met 0,48% tot R112,19 gestyg. Oor die afgelope 12 maande het dit met meer as 15% gestyg.

Die groep doen in drie segmente oor sy sake verslag: kos en drinkgoed, mode en persoonlike sorg.

Kos en drinkgoed

Dié afdeling is die grootste in AVI se stal.

Dit bestaan uit:

  • Entyce, die afdeling vir tee en koffie (onder meer Frisco, Freshpak, Five Roses, Cyro en Douwe Egberts);
  • Snackworks, wat uit Bakers (onder meer Provita, Salticrax, Eet-Sum-Mor, Iced Zoo en Topper), Willards (insluitend Big Korn Bites, Flanagan’s Irish Kettle Fried Chips en Flings) en Jumpin Jack-springmielies bestaan; en
  • Die vismaatskappy I&J.

Die hele afdeling se inkomste het met 2,1% tot R10,28 miljard gestyg.

I&J het die beste groei in verkope, van 5,3%, aangeteken en Snackworks met 0,1%, die swakste.

Volgens AVI het hy 1,8% minder tee (rooibos en swart tee) verkoop as in die vorige jaar, maar het sy inkomste uit tee met 5,4% gestyg danksy prysstygings. Five Roses en Freshpak bly die twee topverkopers.

Die kitskoffiereeks Hug in a Mug verkoop steeds goed.

Die maatskappy het 5,8% minder koekies verkoop omdat verbruikers minder luukses kan bekostig of na goedkoper koekies afskaal. Die maatskappy sê die daling in meelpryse is teengewerk deur duurder botter.

I&J se verkoopsvolumes het gestyg, al het dié firma ’n kleiner viskwota gekry, grootliks weens ’n staking wat produksie in die vorige boekjaar gekniehalter het. Die maatskappy waarsku dat dié afdeling baie wisselvallig is, gegewe dat dit van kwotas en die weer afhang.

Persoonlike sorg

Dié afdeling, ook bekend as Indigo Brands, huisves Yardley en Lenthéric. Dis die enigste afdeling waarvan die inkomste gedaal het, met 0,3% ot R1,19 miljard.

Van die produkte word in Suid-Afrika vervaardig en Indigo vervaardig ook produkte vir Coty.

Mode

Dié afdeling sluit in Green Cross-skoene, wat in Epping, Kaapstad, vervaardig word, asook die winkels Spitz en ingevoerde handelsname soos Lacoste, Nina Roche en Kurt Geiger.

AVI sê Green Cross se wins is nog nie waar dit moet wees nie.

Die afdeling se inkomste het met 2,6% tot R1,96 miljard gestyg.

Spitz het sy kernreekse se pryse nog nie sedert April 2016 verhoog nie, maar kon danksy hoër prysstygings op nie-kernreekse sy inkomste met 3,3% laat styg. Die volume verkope was effens laer as in die vorige jaar.

Green Cross se nuwe skoenreekse het swak gevaar. Die maatskappy het ’n waardevermindering van R108 miljoen van sy belegging in dié skoengroep gedoen omdat dit langer as verwag gaan neem om dit tot “aanvaarbare” winsvlakke te laat groei.

Vooruitsigte

AVI verwag dat die handelsomgewing in die hele nuwe boekjaar moeilik sal bly.

“Die huidige druk op verbruikersbesteding sal waarskynlik vererger word deur die kumulatiewe impak van voortslepende werkverliese in sowel die private as staatsektor. Ons verwagting is dat baie van ons kategorieë lae of selfs negatiewe groeikoerse gaan hê totdat daar ’n betekenisvolle verbetering in die ekonomie is.

“As randswakheid voortduur, sal ons invoerkoste styg, wat moeilik herwin sal kan word in ’n gedempte omgewing, wat tot druk op winsgrense sal lei.

“Nietemin bly ons handelsmerke gesond en aanloklik vir baie verbruikers.”

    Meer oor:  Green Cross  |  Freshpak  |  Frisco  |  Spitz  |  Avi  |  Klerekleinhandel  |  Kosvervaardigers  |  Kleinhandelaars  |  Skoene  |  Kospryse  |  Tee  |  Koffie  |  Klere
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.