Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Gautrein: Staking begin
Pendelaars op die Gautrein moet hoop die maatskappy het Maandag alternatiewe planne in plek vir die werkers wat begin staak. Foto: Argief

Werkers van die Bombela-bedryfsmaatskappy, wat die Gautrein bedryf, het Sondag middernag begin staak.

’n Loondispuut by die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) kon vroeër nie opgelos word nie.

Dit gaan die eerste staking wees van Gautrein-werkers.

Amper 300 werkers, wat grootliks deur die vakbond United National Transport Union (Untu) verteenwoordig word, gaan aan die staking deelneem.

Dit is nog nie duidelik hoe dit die bedrywighede van die Gautrein gaan raak nie.

Steve Harris, algemene sekretaris van Untu, het gesê: "Indien die maatskappy nie gebeurlikheidsplanne in plek het nie moet pendelaars Maandagoggend ’n alternatiewe plan maak want dit is meestal bedryfspersoneel wat staak." Dit sluit treindrywers, veiligheidswagte en kaartjieverkopers in.

Netwerk24 was net voor 14:00 met Kesagee Nayager, woordvoerder van die Gautrein, in verbinding om uit te vind of enige gebeurlikheidsplanne bestaan.

Sy was op pad na ’n vergadering daaroor en het gesê terugvoer daaroor sal binne die komende uur of twee verskaf word.

Indien die maatskappy nie 'n alternatiewe plan in plek het nie moet pendelaars Maandagoggend ’n ander plan maak want dit is meestal bedryfspersoneel wat staak.
Harris

Die berig sal opgevolg word.

Dit is ’n beskermde staking vir ’n aansporingsbonus en ’n 10%-loonverhoging.

Untu het Bombela gedurende die week 48 uur kennis gegee dat sy lede op 30 Julie met ’n beskermde staking gaan begin nadat die loondispuut nie by die KVBA opgelos kon word nie. Pogings van Bombela en Untu om die dispuut op te los het Vrydag en Saterdag ook niks opgelewer nie.

Harris het gesê Bombela weier steeds om sy finansiële state openbaar te maak omdat aangevoer word dit is ’n private maatskappy. Hy het gesê dit laat die vakbond in die duister met die onderhandelinge.

Die maatskappy beweer hy betaal al die wins wat uit die Gautrein gemaak word aan ’n Franse maatskappy, maar wil nie sy wins openbaar maak nie.

Volgens hom kan die meerderheid van die werkers van Bombela nie behuising bekostig nie maar kwalifiseer nie vir laekostebehuising nie omdat hulle meer verdien as wat bepaal word. Die meerderheid kan ook nie ’n verband kry om eiendom te bekostig nie omdat hulle nie kwalifiseer nie.

Werkers moet al om 03:00 opstaan en begin voorberei vir die vroegste skof wat om 4:00 begin.

“Die werkers wat dié skof werk, kan nie bekostig om kamers in die meestal luukse gebiede langs die Gautrein te huur nie.” Die Gautrein het ’n roete tussen Hatfield in Pretoria deur Centurion, Midrand, Sandton en Rosebank en ook ’n roete na die O.R. Tambo-lughawe.

Volgens Harris eindig die werkers op die laatste skof om 23:15. Hy sê daar is amper geen openbare vervoer meer vir die werkers daardie tyd van die nag nie. Hulle kan nie taxi’s bekostig nie.

“Sommige van hierdie werkers het geen alternatief nie en slaap op banke in vraghouers by die Midrand-kantoor tot die volgende dag, wanneer hulle 5 km moet stap tot Allendalestraat om openbare vervoer te kry om huis toe te gaan. Sommige gaan nie eers huis toe nie omdat hulle nie genoeg tyd gaan kry om te rus nie,” sê hy.

Bombela bied ’n verhoging van 8,5% aan die vakbond se lede maar wil nie ’n aansporingsbonus betaal nie.

Die vakbond se eise sluit in:

  • ’n Verhoging van 10% in basiese salaris;
  • Dat die behuisingstoelaag tot R1 600 per maand verhoog word;
  • ’n Vervoertoelaag van R800 per maand of ’n personeelkaart vir kantoorwerkers om by ’n parkeerplek van Bombela te parkeer en die trein gratis na Midrand-kantoor te neem;
  • ’n Nagskofreistoelaag van R64 per maand.
  • ’n Verhoging van 10% in die nagskoftoelaag.
  • ’n Aansporingbonus van R20 000 vir alle werkers.

Arnaud Legrand, uitvoerende hoof van Bombela, het die vakbond die naweek ingelig die lede gaan vir die duur van die staking nie by die werk toegelaat word nie.

Die werkers sal buite die Midrand-kantoor vergader.

Meer oor:  Bombela  |  Untu  |  Gautrein  |  Steve Harris  |  Midrand  |  Staking  |  Loondispuut  |  Kvba
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.