Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Gautrein was ‘enorme fout’, sê kommissie
Die Gautrein is deur die regering in vennootskap met die private sektor gebou. Foto: Argief

Dit was ’n enorme fout om die Gautrein te bou vir die middelklas, terwyl die werkersklas al hoe minder toegang het tot openbare vervoer.

Dit is een van die voorlopige bevindinge van die Mededingingskommissie se markondersoek na openbare vervoer, sê Tembinkosi Bonakele, kommissaris van die Mededingingskommissie, wat Woensdag ’n voorlopige verslag daaroor bekend gestel het.

Bonakele sê “jy kan eenvoudig nie in ’n land soos Suid-Afrika die middelklas subsidieer nie”.

Die Gautrein-projek is aanvanklik gemik daarop om die verkeer op Gauteng se snelweë te verlig. Pendelaars wat met hul eie motors die paaie vol gesit het, moes deur dié projek aangespoor word om eerder trein te ry.

Bonakele sê opsigself is daar niks fout met so ’n mikpunt nie, maar die Gautrein het nie eens die gewenste uitkoms gehad nie.

Die Mededingingskommissie sê op geen ander plek op aarde is daar ganse treine vir een klas mens en ander treine vir die res nie.

“Dit is ongehoord,” sê hy.

In die kommissie se voorlopige verslag beveel hy aan dat die bestuur van treinvervoer in die land op groot skaal afgewentel word en nie meer nasionaal bestuur word nie.

Die kommissie beveel ook aan dat die Gautengse regering saam met die groot metro’s nie net oor Metrorail toesig hou nie, maar ook meer ingrypend by die bestuur van die Gautrein betrokke raak.

Dit sal volgens die kommissie “integrasie” bevorder.

Die beoogde uitbreiding van die Gautrein moet ook gewysig word om te verseker dat dit nie net die middelklas dien nie, maar eerder in “samewerking met” Metrorail die hele bevolking dien.

Bonakele het nie uitgebrei oor hoe so ’n samesmelting sal werk nie, maar het gesê dit sal miskien in pryse en nuwe skedules kan manifesteer.

Daar is planne om die roete van die Gautrein, wat tans sowat 80 km oor Gauteng strek, uit te brei met 149 km se spoorlyne en 19 nuwe stasies. Dié roetes sal onder meer twee nuwe lyne tot sy netwerk voeg wat Soweto met Samrand en Lanseria met Boksburg sal verbind.

Die Gautrein is deur die regering in vennootskap met die private sektor gebou en word dus gesubsidieer, sê die kommissie.

“Ons kan nie treine teen mekaar laat meeding nie,” sê Bonakele.

“Om ’n behoorlike stelsel van openbare vervoer te hê, moet dit presies dit wees: ’n stelsel – ’n eenheid wat saamwerk.

“Die werkersklas moet dieselfde veiligheid en gerief geniet as wat die middelklas op die Gautrein geniet.”

Die soort geriewe moet volgens Bonakele nie eksklusief wees tot een klas mense nie, maar dit moet ’n basiese diens wees wat tot almal se beskikking is.

Om dít te verseker, meen die kommissie, kan daar nie afsonderlike stelsels gebou of bestuur word nie. Almal moet van die begin af saamwerk om dienste te verbeter.

Meer oor:  Maatskappye  |  Middelklas  |  Gautrein  |  Mededingingskommissie  |  Vervoer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.