Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Gee vir ons kitskos, asseblief!

Laat kitskosrestaurante toe om weer hul deure oop te maak omdat hulle bewys het hulle kan – ter wille van kosveiligheid – streng veiligheidsmaatreëls handhaaf.

’n Gesig wat menige Suid-Afrikaner se mond teen dié tyd al laat water.

Dié pleidooi van die Suid-Afrikaanse Kamer van Koophandel en Nywerheid (SAKKN) is waarskynlik een waarmee die meeste mense kan identifiseer ná twee weke sonder KFC, McDonald’s of Debonairs.

Die SAKKN het pres. Cyril Ramaphosa se stelling Donderdagaand verwelkom dat maniere gevind sal word om sekere ondernemings geleidelik weer toe te laat om sake te doen onder streng beheerde toestande.

Alan Mukoki, uitvoerende hoof, sê om te keer dat die Suid-Afrikaanse ekonomie heeltemal in duie stort, moet ander opsies as ’n volslae inperking mettertyd oorweeg word, veral omdat niemand weet hoe lank die virus ’n probleem gaan bly nie.

Hy sê daar moet begin word met bedrywe wat kan wys dat hulle hoë vlakke van sosiale distansiëring en gesondheidsbeheer kan volhou – soos kitskosrestaurannte.

“Die bedryf handhaaf reeds hoë gesondheid- en veiligheidstandaarde.”

Hy sê dit kan aangevul word deur toetsing van werknemers, die verskaffing van beskermende toerusting soos maskers, baie streng higiëne en die vervoer van personeel na en van werk in voertuie wat ontsmet word.

“Om mee te begin, kan bestellings by deurry-plekke en per aflewering toegelaat word, dan gevolg deur toonbank- of bel-en-kom-haal-bestellings onder streng sosiale distansiëring. Niemand moet toegelaat word om te sit en eet nie.”

Die SAKKN glo kitskosrestaurante sal ’n “goeie, verantwoordelike keuse” wees om ondernemings tydens die inperking in bedryf te stel wat ’n kosaanbod aan die meeste Suid-Afrikaners bied. Baie van dié restaurante behoort ook as franchises aan kleinsakelui, wat kan help om die druk te verlig op die steun wat die regering vir kleinsake onderneem het.

“Gegewe die perke van die staat se geldsake, kan die hulpmaatreëls nie genoeg wees om die dalende gety te keer nie, aangesien die kontant binne weke sal opraak. Dit kan nie ’n volhoubare strategie wees nie.”

Kitskosrestaurante verskaf gewoonlik werk aan meer as 150 000 mense en nóg duisende poste in die verskaffingsketting.

“Die sleutelwoorde is ‘infaseer en beheer’ om te verseker dat die terugkeer werk toe nie teenproduktief is vir die doelwit van die beheer van die pandemie nie. Ons glo die versagtende maatreëls wat voorgestel word en waarmee die kitskosbedryf bereid is om te werk, is meer as voldoende.

“Die kitskosbedryf sal vir ons die formaat verskaf en ervaring bied oor hoe verder na ander sektore gekyk kan word.”

Reeds voordat Ramaphosa die staat van inperking met twee weke – tot einde April – verleng het, het kenners begin pleit dat sekere sektore weer oopgestel word.

Mike Schüssler, ekonoom van Economists.co.za, het vroeër gesê ná die aanvanklike 21 dae (wat tot 16 April duur) moet sekere bedrywe stelselmatig weer oopgestel word vir sake, maar skole moet toe bly en streng toegangsbeheer moet by ouetehuise gehandhaaf word.

“Dit maak nie sin om die ekonomie heeltyd te beperk totdat die laaste Covid-19-geval aangeteken is nie. As jy noodsaaklike goedere by jou huis kan laat aflewer, waarom nie ook KFC nie?”

In Nederland is sekere sakesektore wat baie mense bymekaar bring, wel gesluit, soos restaurante, kroeë, casino’s en gimnasiums, asook haarkappers en bestuurskole, maar die bestel van wegneemetes word steeds toegelaat.

Nazmeera Moola, hoof van Suid-Afrikaanse beleggings by Ninety-one (voorheen Investec Batebestuur), het vroeër gesê bedrywe soos die mynbou met goeie gesondheidsorgdienste vir werknemers kan stelselmatig oopgestel word.

Meer oor:  Staat Van Inperking  |  Koronavirus  |  Sakkn  |  Restaurante  |  Kitskos  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.