Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Geen dividend wyl drankverbod dreig, sê Distell

Die vrees vir nog ’n drankverbod het verbruikers die afgelope maande laat drank opgaar en na drank gedryf wat ’n langer rakleeftyd het.

Klipdrift
Spiritualieë se volumes het met 4% en inkomste met 4,8% in Suid-Afrika gestyg. Klipdrift tel onder Distell se produkte.

Die drankmaatskappy Distell het Donderdag gesê wyn en spiritualieë het in die ses maande gebaat by die tendens van verbruikers om drank op te gaar, en omdat daar meer tuis gedrink moes word.

Die maatskappy gaan weens die onsekerheid wat hang rakende nog ’n verbod wat kan kom, nie nou ’n dividend verklaar nie.

Dit is ten spyte daarvan dat hy “uitstekend” gevaar het in die afgelope halfjaar tot einde Desember ondanks die handelsbeperkings wat in Suid-Afrika geheers het, wat steeds sy grootste mark is.

Sy inkomste het met 3,8% tot R15,3 miljard gestyg. (As aksyns verwyder word wat aan die regering betaal word, het sy inkomste R10,9 miljard beloop, ’n styging van 2,5%).

Nadat bedryfskoste goed in toom gehou is, het die bedryfswins met 12% en die wins uiteindelik met 14% tot R1,4 miljard gestyg.

Driekwart van sy inkomste word in Suid-Afrika verdien waar die volumes wel gedaal het, maar met net 1,4%.

Ten spyte van 22% of 41 handelsdae wat in die tydperk verloor is toe ’n tweede en derde verbod ingestel is, is die inkomste uit verkope onveranderd.

Spiritualieë se volumes het met 4% en inkomste met 4,8% in Suid-Afrika gestyg. Dit is toegeskryf aan Gordon’s Gin wat goed verkoop het, terwyl Bain’s, Olof Bergh en Count Pushkin ook gehelp het.

Distell sê dié produkte baat steeds by die tendens van verbruikers in dié tyd om drank op te gaar en omdat daar meer tuis gedrink is toe restaurante en kroeë gesluit moes wees.

“Die prestasie van dié kategorieë weerspieël steeds die voorkeure ten opsigte van sterk drank en hoofstroomwyn aangedryf deur verbruik tuis van betroubare handelsname en produkte met ’n langer rakleeftyd, wat voortspruit uit die vrees vir ’n onverwagse drankverbod,” sê Richard Rushton, uitvoerende hoof.

Wynvolumes het met 5% gestyg, maar die inkomste het met 1% gedaal.

Die hoofstroomwyn 4th Street het die volumes help lig.

“Die druk op verbruikers se besteebare inkomste het daartoe gelei dat goedkoper opsies verkies is, wat goed was vir dele van die groep se hoofstroomprodukte.”

Savanna-sider het ook goeie groei getoon.

Indrukwekkende groei is in die res van Afrika beleef nadat die grense uiteindelik oopgestel is en omdat daar nie ’n verbod op alkoholverkope daar ingestel is nie. Die verkope in die res van Afrika het met bykans 13% gestyg.

Dit is toegeskryf aan die toename in afsetplekke van 9 000 twee jaar gelede tot 37 500 (uitgesluit die buurlande). Einde van die boekjaar wil Distell 54 000 afsetplekke hê.

Die inkomste in internasionale markte buite Afrika het met 15% gestyg ten spyte van volumes wat soos verwag is met 9% gedaal het omdat die verkope van minder winsgewende wyne, grootmaat-whisky en alkoholiese koeldranke daar gestaak is. Amarula se inkomste het met 34% gestyg ten spyte van internasionale reise wat beperk was.

Die inkomste uit wynuitvoer het met 19% gestyg danksy Nederburg, Drostdy-Hof en Two Oceans.

In geheel het sy verkope van sider en alkoholiese koeldranke gedaal. Dit is weens Hunter’s, Extreme en Bernini wat gedaal het.

Savanna, Esprit en Savanna se nie-alkoholiese weergawe het sterk gegroei.

Meer oor:  Distell  |  Kroeë  |  Drankverkope  |  Bierbedryf  |  Drank  |  Staat Van Inperking  |  Sjebiens  |  Bier  |  Koronavirus  |  Bierbrouerye  |  Wyn  |  Wynbedryf  |  Restaurante  |  Inperking  |  Drankverbod  |  Drankbedryf  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.