Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Geen ‘goue handdruk’ vir Peter Moyo - Old Mutual

Die totale pakket wat Old Mutual se afgedankte uitvoerende hoof, Peter Moyo, gaan ontvang, is sy salaris vir sy kennisgewingstydperk en ander vergoeding wat hy in elk geval sou kry.

old mutual
Old Mutual se nuwe hoofkantoor in Sandton, Johannesburg, 24 Mei, 2019. Foto: William Horne

Daar is geen sprake van ’n “goue handdruk” nie, het Old Mutual aan Netwerk24 bevestig.

Moyo is Maandag afgedank nadat hy en sy werkgewer geen ooreenkoms oor die voorwaardes vir sy skeiding van die maatskappy kon bereik nie.

Volgens Tabby Tsengiwe, hoofskakelbeampte van Old Mutual, het Moyo se “openbare” uitsprake daartoe bygedra dat geen skikkingsooreenkoms bereik kon word nie.

Moyo het met sy skorsing op 24 Mei in onderhoude volgehou dat hy onskuldig is. Die maatskappy het hom daarvan beskuldig dat hy belangebotsings onbevredigend bestuur het.

Tsengiwe verduidelik dat die direksie Moyo se “mediaveldtog” om homself vry te spreek as “skadelik” geëvalueer het en dat hy nie betrek kon word by ’n gesprek om hul paaie op beter voorwaardes te skei nie.

Volgens haar het Moyo sy kans om appèl op sy skorsing aan te teken ook in die wiele gery.

Moyo is 24 Mei geskors weens ’n “wesenlike ineenstorting van vertroue” rakende die wanbestuur van ’n belangebotsing met betrekking tot sy rol as voorsitter van NMT Capital, en sy rol as uitvoerende hoof van Old Mutual.

Peter Moyo, pas afgedank as uitvoerende hoof van Old Mutual.

Moyo het twee stelle gewone dividende van altesame R115 miljoen by NMT goedgekeur terwyl dié maatskappy nog agterstallige voorkeurdividende aan Old Mutual moes betaal.

Moyo het persoonlik R30,6 miljoen voordeel getrek uit die betaling van gewone dividende sonder om eers skuld aan Old Mutual terug te betaal.

Die besonderhede van die belangebotsing is Dinsdag op die JSE se nuusdiens Sens bekend gemaak.

Aanvanklik het Old Mutual se direksie beklemtoon dat Moyo se skorsing nie gedui het op wangedrag of finansiële omstredenheid by Old Mutual self nie.

Op die jaarvergadering op 24 Mei het die direksie gesê Moyo se reeds bestaande en verklaarde belangebotsing is “geen verrassing nie”, maar dat probleme ontstaan het met hoe dit bestuur is.

Die belangebotsing was wel bekend met sy aanstelling en is in jaarverslae uiteengesit.

As geheel het die direksie sy lof besing.

Ons kan nie met sekerheid sê watter aksie mnr. Moyo sal kies om te volg nie, maar ons kan wel sê ons glo nie dat enige hofsaak rakend ons besluit hoegenaamd meriete sal hê nie.
Tabby Tsengiwe, hoofskakelbeampte van Old Mutual

Trevor Manuel, voorsitter van Old Mutual se direksie, het die skorsing beskryf as “een van die moeilikste dinge wat ons as direksie tot nog toe moes doen vanweë ons persoonlike verhouding met Peter, asook sy prestasies.”

Tsengiwe sê Moyo het “ten alle tye beslis die direksie se redes tot kommer verstaan”.

Dis keer op keer met hom bespreek.

Die maatskappy sê Moyo het sedertdien onder meer sy “fidusiêre verpligtinge” versuim, en het die voorwaardes van sy dienskontrak en van sy skorsing oortree.

“In die bereiking van ’n gevolgtrekking om sy diens te beëindig, het die direksie besluit dat mnr. Moyo wesenlik skuldig was in die wyse waarop hy homself met betrekking tot die belangebotsing behartig het,” sê Tsengiwe.

Moyo het nog nie amptelik aangekondig of hy sy afdanking gaan betwis nie.

“Ons kan nie met sekerheid sê watter aksie mnr. Moyo sal kies om te volg nie, maar ons kan wel sê ons glo nie dat enige hofsaak rakend ons besluit hoegenaamd meriete sal hê nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.