Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
‘Geen korrupsie-geraamtes gaan uit OBK se kas val’

Moet geen onthulling verwag dat die omstrede dr. Daniel Matjila korrup was nie.

Daniel Matjila
Dr. Daniel Matjila, wie se bedanking by die Openbare Beleggingskorporasie nog hangend is. Foto: Elizabeth Sejake

Dis glo ook nie waar dat hy ’n “skrikbewind” by die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) gevoer het nie.

Mondli Gungubele, adjunkminister van finansies en voorsitter van die OBK-direksie, het Donderdagaand in die parlement volgehou Matjila het “goeie werk” gedoen en dat sy bedanking niks te doen het met korrupsie óf met swak beleggingsbesluite nie.

Matjila was tot onlangs toe die uitvoerende hoof van die OBK, die staatsbeheerde batebestuursfirma wat staatsamptenare se pensioenfonds (GEPF) en geld van die Werkloosheidsversekeringsfonds en Vergoedingskommissie belê.

Gungubele was deel van ’n span van 20 direkteure van topbestuurders van die OBK wat vrae beantwoord het oor die OBK se beleggingsbesluite.

Lees ook: ‘Nuwe’ OBK trap klei oor omstrede beleggings

Matshepo More, finansiële hoof en waarnemende uitvoerende hoof, het die OBK-voorlegging gelei.

Die sitting voor die staande komitee oor finansies (Skoor) het egter lank stilgestaan by Matjila se bedanking.

David Ross, DA-lid van die komitee, het gesê dit lyk na ’n teenstrydigheid dat Matjila so skielik op 23 November vervang is, hoewel die direksie hom in ’n verklaring lof toegeswaai het vir sy jare lange bydrae tot die maatskappy.

Gungubele het kleigetrap toe hy gevra is om te verduidelik waarom presies Matjila se bedanking so skielik aanvaar is.

Hy het gesê “sekere vraagstukke” is geopper in Matjila se brief aan die OBK-direksie wat dit onmoontlik gemaak het om die werkverhouding voort te sit. Gungubele het gesê die “kwessies” word nog deur die direksie behartig en hy wil nie daaroor uitwei nie.

Gungubele sê daar is steeds “kwessies” wat uitgesorteer moet word met betrekking tot Matjila se bedanking.

Themba Godi, voorsitter van Skoor, het gesê dit sou goed gewees het as Matjila in die vergadering teenwoordig was om sekere vrae oor korporatiewe beheer te beantwoord. Matjila het volgens Godi ’n “skrikbewind” by die OBK gevoer. Dit het tot ’n agteruitgang by die instelling gelei, meen Godi.

Ross het gesê dis “teleurstellend” dat nog ’n staatsonderneming ’n waarnemende hoof het. Hy wou weet of Matjila se bedanking verband hou met swak beleggingsbesluite of met sy bestuurstyl.

Gungubele het gepleit dat die komitee versigtig trap met betrekking tot die verhouding met ’n werknemer.

Hy verwys Ross na die direksie se verklaring ná Matjila se bedanking, waarin hy bedank word vir sy “goeie werk” oor jare heen. “Daar is geen vraagteken oor sy prestasie nie. Personeel het in vergaderings geen probleme geopper nie.”

Gungubele het ná herhaalde vrae deur Ross gesê geen korrupsie deur Matjila is “ontdek” nie en sy bedanking is nié weens sy beleggingsbesluite nie.

Die minister sê dit was in die belang van die OBK dat die uitvoerende hoof vervang word, juis om onsekerheid uit te skakel wat sou geheers het indien Matjila toegelaat is om ’n lang bedankingstydperk uit te dien.

Gungubele en More het toegegee dat die OBK in die onlangse verlede ondeursigtig was en swak gekommunikeer het.

Donderdag se sessie het om 19:00 begin en tot byna middernag geduur. Baie van die inligting oor die OBK se omstrede beleggings is reeds danksy mediaberigte bekend, maar dit was ’n groot ommekeer dat die OBK nou openlik daaroor gepraat het.

More het beklemtoon dat hulle ingevolge die Wet op Finansiële Advies- en Tussengangerdienste nie inligting oor hul kliënte (soos die GEPF) se beleggings bekend mág maak sonder die kliënte se toestemming nie. Dis wel verkry voordat die inligting bekend gemaak is.

Dis die tweede keer in twee weke dat iemand van die OBK voor Skoor gedaag word, maar met die vorige sitting, op 21 November, het Matjila, toe nog die uitvoerende hoof, met ’n regsmening opgedaag wat sê hy hoef geen van die inligting wat Skoor versoek het, bekend te maak nie.

Skoor het toe sy eie regsmening ingewin en die OBK weer voor die komitee gedaag.

Meer oor:  Obk  |  David Ross  |  Daniel Matjila  |  Matshepo More  |  Mondli Gungubele  |  Gepf  |  Staatsondernemings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.