Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
‘Geen manier om SA Express te red’ – sakeredders
Die sakeredders van SA Express sê die lugdiens is bankrot. Foto: Getty Images

Die sakereddingspraktisyns van die lugdiens SA Express het Woensdag amptelik aansoek gedoen dat die lugdiens gelikwideer word nadat dit vir hulle duidelik geword dat die maatskappy op geen wyse meer gered kan word nie.

In hul hofaansoek in die hooggeregshof in Johannesburg, wat Woensdag ingehandig is, sê Daniel Terblanche en Phahlani Mkhombo, die sakeredders, dat die lugdiens nou amptelik “bankrot” is.

“Daar is geen redelike vooruitsig om SA Express te red nie en dus moet die sakereddingsproses gestaak word.”

Netwerk24 het die hofaansoek asook die jongste balansstaat van die maatskappy onder oë gehad.

SA Express het tans R2,83 miljard se laste en eise teen hom en slegs R1,9 miljard se bates.

Terblanche sê in sy beëdigde verklaring dit is uiters belangrik dat die likwidasie van die maatskappy vinnig afgehandel word, omdat SA Express se skuld steeds toeneem terwyl geen inkomste gegenereer word nie.

Die lugdiens se vlugte is al op 17 Maart gestaak omdat hy nie meer vir die versekering van sy vliegtuie kon betaal nie, en dit dus nie meer sonder enorme risiko gebruik kon word nie.

Die Maart-salarisse van die lugdiens se 691 werknemers kan ook nie betaal word nie, en die maatskappy skuld alreeds R150 miljoen aan die Suid-Afrikaanse Inkomstediens vir sy werknemers se lopende inkomstebelasting.

“Dit is van kritieke belang dat die laste van SA Express ophou toeneem,” sê Terblanche.

Die DA sê Vrydag in ’n verklaring hy is verheug oor die sakeredders se besluit om die sukkelende lugdiens te likwideer. Ghaleb Cachalia, DA-LP, sê Vrydag ná R1,5 miljard se reddingsboeie oor die afgelope twee jaar is dit hoogtyd dat die lugdiens toegelaat word om te vou.

Terblanche en Mkhombo is op 6 Februarie as gesamentlike sakeredders aangestel nadat Ziegler, ’n krediteur en diensverskaffer van SA Express, daarin geslaag het om ’n hofbevel te kry wat die lugdiens in onvrywillige sakeredding geplaas het.

Een van die groot aandrywers van die lugdiens se likiditeitskrisis in daardie stadium was sy onvermoë om broodnodige inkomste van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) te verhaal.

Volgens Terblanche skuld die SAL SA Express R41 miljoen aan kaartjieverkope wat op die SAL se platform verkoop is. Dié geld is egter onbetaalbaar aangesien die SAL ook in sakeredding is.

Terblanche sê daar was nog ’n kans om SA Express te red indien die departement van openbare ondernemings en die nasionale tesourie finansiering vir die sakereddingsproses sou toeken.

Pogings om hierdie finansiering te bekom het egter misluk. Volgens Terblanche was die tesourie egter ongewillig om finansiering te verskaf omdat die lugdiens “berug vir sy ondoeltreffendheid is”.

Die lugdiens het sedert sy stigting in 1994 nog net in drie jare ’n wins gemaak.

Die sakeredders sê hulle het ook nie daarin geslaag om plaaslike banke te oortuig om finansiering te verskaf nie, selfs al sou die lenings deur die staat gewaarborg word.

Cachalia sê Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, behoort dieselfde huiwering om finansiering toe te ken op die SAL toe te pas en dit toe te laat om te vou.

“Die land sal jou bedank,” sê Cachalia.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.