Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Géén planne om SAL te privatiseer, sê hoof
'n Passasier stap verby die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) se toonbank in die Heathrow-lughawe by Londen. Foto: Bloomberg

Sê “privatisering”. Haai nooit!

Daar is geen planne om die Suid-Afrikaanse Lugdiens te privatiseer nie, het Vuyani Jarana, uitvoerende hoof van die staat se lugdiens, Woensdag gesê.

Hy het op ’n vervoerkonferensie by die WNNR se konferensiesentrum in Pretoria die verskil probeer verduidelik tussen privatisering en die regering se besluit in 2017 dat hy privatesektor-deelname in die SAL wil hê.

Dit spruit uit die verklaring Dinsdag van die vakbond Solidariteit dat Jarana aan hom belowe het dat die SAL onmiddellik sal soek na ’n private vennoot.

ANC-parlementslede het al herhaaldelik in die parlement wal gegooi teen enige verwysing na privatisering, en die regering het ook al herhaaldelik sy verbintenis te kenne gegee dat die SAL in staatsbesit sal bly.

’n Private aandelevennoot is egter nodig omdat die SAL die geldinspuiting nodig het.

Ons glo nie sakeredding sal ander resultate bring as dit waarmee ons nou besig is nie.
Vuyani Jarana

Jarana het Woensdag gesê Solidariteit wil ’n volhoubare lugdiens hê wat nie werknemers sal aflê nie en wat nie ’n las op die staatskas is nie. Die SAL het volgehoue gesprekke met vakbonde, hoewel Solidariteit nie aanvanklik deel van dié gesprekke was nie. Die SAL het Solidariteit betrek nadat die vakbond begin het met ’n aansoek om die SAL in sakeredding te plaas.

“Ons moet die onderneming aantreklik maak vir potensiële beleggers. Die tesourie wil die proses vorentoe neem. Maar ons glo nie sakeredding sal ander resultate bring as dit waarmee ons nou besig is nie.

“Ons wil kommersiële logika na die onderneming terugbring. Ons is in die besigheid om mense veilig en gerieflik van een punt na ’n ander te neem, maar ons moet dit winsgewend doen. Kommersiële logika is dus om die mark te verstaan, weet waarheen om te vlieg, hoe ons vlieg, hoe gereeld ons vlieg, terwyl kliënte se verwagtinge en behoeftes verstaan word. Dit gaan ook oor hoe die SAL bates koop en teen watter prys,” het Jarana verduidelik.

Hy het toegegee die meeste van die SAL se binnelandse roetes word tans geteister deur negatiewe bruto winsmarges – kortom – hulle ly ’n verlies.

Die SAL wil vaardighede teruglok en die kultuur van die organisasie verbeter. “Dit gaan lank duur en sal nie maklik wees nie.”

Stappe wat die SAL reeds gedoen het, is byvoorbeeld om die vlugte na Londen van twee per dag na een per dag te verminder. Dit maak sin, want nie een van die twee daaglikse vlugte was gereeld vol nie. Die SAL sal egter die reg voorbehou om weer twee vlugte per dag na die Heathrow-lughawe in Londen in te stel sodra sake verbeter.

Volgens Jarana is dit belangrik om die huidige stand van sake by die lugdiens te verduidelik, en sy oopdeurbeleid help met voortgesette verhoudinge met vakbonde.

Hulle wil die slag van afleggings versag deur vlieëniers en kajuitpersoneel tydelik aan ander lugdienste beskikbaar te stel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.