Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Geen water: Tesourie moet Astral nou help

Die hoendervleisprodusent Astral Foods het geslaag met ’n hofbevel om die regering te dwing om in te gryp by die mislukte Lekwa-munisipaliteit (Standerton).

Astral Foods moet sy eie water aanry vir gebruik by sy Goldi-aanleg in Standerton weens die plaaslike munisipaliteit se onvermoë om waterinfrastruktuur in stand te hou.

Astral het ’n groot hoenderslagplaas by Standerton, maar sukkel al jare met al hoe swakker diens van die plaaslike munisipaliteit om basiese dienste soos water en krag te voorsien.

Astral moes al miljoene rande uitgee om te sorg dat sy aanleg water kry, wat broodnodig is om ’n hoenderslagplaas te bedryf.

Die genoteerde pluimveegroep het Dinsdag ’n hofbevel in die Pretoriase hooggeregshof gekry wat die nasionale regering en die nasionale tesourie verplig om by die munisipaliteit in te gryp. Die tesourie gaan ’n finansiële herstelplan ingevolge die Wet op die Bestuur van Munisipale Finansies opstel.

Die hofbevel gee Astral ook die reg om weer die hof te nader vir verdere verligting ingeval die herstelplan nie in werking gestel word nie.

Die probleme het volgens Astral al in 2018 begin toe infrastruktuur in die munisipaliteit ernstig begin agteruitgaan het. Dit het groot ontwrigting veroorsaak vir Astral se bedrywighede, asook vir die gemeenskap in die dorp en omgewing.

Chris Schutte, uitvoerende hoof van Astral Foods.

Regstappe is toe teen die munisipaliteit gedoen, maar die munisipaliteit het nooit die langtermynplan opgestel en in werking gestel wat ingevolge die hofbevel versoek is nie.

Teen Junie 2019 het Astral reeds R85 miljoen bestee om vir sy eie watervoorsiening vanuit die Vaalrivier te sorg.

Sy Goldi-aanleg by Standerton het 5,5 megaliter water per dag nodig om 2 miljoen braaikuikens per week te verwerk. Die munisipaliteit kon egter net 2 megaliter water lewer.

Astral het later toestemming gekry om 3,5 megaliter water per dag regstreeks uit die Vaalrivier te pomp en dit met tenkvragmotors na ’n filtreerstasie by die Goldi-aanleg te neem voor gebruik.

Chris Schutte, uitvoerende hoof van Astral, het destyds gesê hy is verstom dat die regering megastede en sneltreine wil bou, maar nie basiese dienste kan lewer nie.

Astral het nog R10 miljoen se hulp belowe om die munisipaliteit te help om die waterinfrastruktuur te herstel.

Dit is nie net met waterinfrastruktuur waarmee dié munisipaliteit sukkel nie. Die Valke het in Februarie op die Lekwa-munisipaliteit se kantore toegeslaan op soek na bewyse oor beweerde tenderbedrog, is vroeër berig.

Lekwa is boonop een van die tien munisipaliteite met die grootste agterstallige Eskom-rekening, met skuld van meer as R1 miljard. Gevolglik het Eskom al by tye sy krag afgesny.

Meer oor:  Astral  |  Lekwa-Munisipaliteit  |  Standerton  |  Hoenders  |  Munisipaliteite  |  Hoenderbedryf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.